OP PAD MET GOD 2020 – Dissipelskap vir vandag
By OP PAD MET GOD kyk ons op ‘n vars en nuwe manier na geloof en na dissipelskap, én na die inhoud van ons lewenspad saam met God. Dit behels gewoon ‘n hand-aan-hand wandel saam met Jesus op ‘n innerlike reis met God, en wel op ‘n roete wat Hy uniek in ‘n mosaïek vir ons elkeen persoonlik beplan het.
Met die saam-lees van die Bybel is daar verrassende wyses hoe geestelike gewoontes – ook dissiplines genoem, jou kan help om te begin verstaan WIE God is en HOE God is, en om die werklikheid van God in jou daaglikse lewe te kan raaksien en beleef. Ons gaan saam met mekaar stap op hierdie ontdekkingreis,
Jy sal saam hier kan ontdek op watter wyses God praat en veral hoe Hy met jou praat, asook wat Sy wil vir jou eie lewe is. Op hierdie geestelike roete kry ’n ontmoeting-met-Hom en ’n aanraking-deur-Hom ‘n héél nuwe inhoud. Vervolgens sal jy vorentoe kan vind dat jy in jou gees ervaar dat die Gees van Christus jou immer bybly, en met jou gees resoneer, asook dat dit jou bly bekragtig om saam met Jesus te leef.
OP PAD MET GOD is vir jou – as jy geestelik wil groei, na ’n nuwe lewensvisie verlang, ‘n geestelike tuiste soek, ‘n afplatting ervaar, en/of ’n ware soeke na God het. Ons reis dus rustig saam met behulp van die onderstaande geestelike gewoontes. Jy is ook welkom om hierdie pad op internet saam met ons te loop (mrakantoor@mweb.co.za). Vir albei roetes het jy net skryfgoed, jou Bybel en A4-skryfboek nodig.
Die basiese gewoontes, soos hieronder, lê die grondslag vir jou geestelike groei en verryking, asook om in toewyding voor God en in Sy bewuste teenwoordigheid te leef – dit wil sê in navolging van Jesus,
- Bybelstudie: jy gebruik jou Bybel – God praat eerstens deur Sy Woord, en dit rig jou dag en ook jou gedagtes; lees liefs planmatig of tematies. Om leergierig te wees, is iets waarvoor ons elkeen kan bid.
- Joernaal: maak gerus voortdurend notas: in jou stiltetyd, by jou kleingroep en sommer ook op jou geestelike pad tuis, soos met ‘n preek, of ‘n praatjie oor die radio, of as jy ‘n lesing bywoon.
- Kringwees: met die saamkom van gelowiges leer jy jou fokus na God skuif (d.w.s. weg van jouself of jou pyn af, en ook weg van enige sake wat voortdurend jou aandag eis), sodat jy:
* tot stilstand kan kom en dan ook sal kan stilsit en stilbly, en sodoende tot rus kan kom;
* ontvanklik sal kan wees: met ‘n leersame gees / teachable spirit;
* in afwagting op God kan wees: sê dit vir Hom, vra Hom; ja, selfs roep na Hom, of pleit by Hom;
* kan weet wat voorop in jou gedagtes is en dit vir God gee (ja, ‘n lysie maak) om te kan fokus;
* sal dink oor hoe jy God ervaar en Hom raaksien in wat gebeur, en die natuur en na Hom wil luister;
* jou aandag sal bepaal by die kring of jou stiltetyd, en dan ook by die geloofsgewoonte wat op daardie dag van toepassing is, byvoorbeeld danksegging, lofprysing, Bybel-lees en voorbidding;
* elk ander in die groep ‘n beurt vir deelname sal gun en mekaar sal respekteer – deur o.a. stil te bly en te luister (dan verstaan ons waarom ‘n ideale grootte vir ‘n groep so 5 tot 8 lede is).
- Jou eie stiltetyd: daarvoor is die kring se aktiwiteite ‘n praktiese riglyn en kan jou sinvol help.
- Afsondering: kies tuis ‘n vaste tyd en ‘n stil plek vir jou binnekamer en hierdie persoonlike afspraak.
- Danksegging: leer dankbaar-wees vir wat God vir doen en gee, en om uit daardie dankbaarheid te leef.
- Gebed: wanneer jy voor die Here kom, praat net gewoon met Hom en probeer om daarin gefokus te bly. Doen voorbidding, bid volhardend en leer om ‘n intersessor te wees; jy kan ook onder die leiding van die Heilige Gees leer verstaan wat vas-en-gebed is.
- Kommitment: dit begin eerstens by jou daaglikse afspraak met God vir jou eie stiltetyd, en dan ook jou weeklikse afspraak met God by jou kleingroep – dit vra selfdissipline en tydsbeplanning in jou program; verder ook ten opsigte van jou optrede in jou gesin, vriende en elkeen met wie of die saak waarby jy betrokke is. Dit betrek daarom die wyse van alles wat jy doen en sê – en verbeeld jou integriteit.
- Eenvoud: dit is die opregtheid en ongekunsteldheid in die wyse van jou aanbidding, en selfs die eenvoud van hoe jy lyk, aantrek en leef, en wat jy koop en eet; dus jou lewenswyse en lewenstyl.
- Lofprysing: loof God vir WIE en HOE Hy is; jy kan op baie maniere dit vir Hom sê, noem en uiting gee, en oor Hom juig en getuig, en wel met die fokus op God alleen!
- Aanbidding: word stil voor God / be in awe, buig voor Hom en verwonder jou – dink oor waar jy God onlangs of vroeër werkllik beleef het, of sit net in liefde stil aan Sy voete; buig in aanbiddding neer.
- Belydenis: kom voor God om Sy lig oor jou lewe te laat skyn, en praat met Hom daaroor;
* kyk wat dit is wat afstand bring tussen God en jou, òf tussen jou en ‘n ander party;
* Jesus is jou rolmodel; kyk in ootmoed op na God en vra Hom om jou te begelei om te kan verstaan waar jy te-kort-skiet, of andersins wat of wie dit is wat jou vashou of verblind;
* ervaar berou en bely dan presies dít waarvan jy weet, òf wat in jou gees vir jou duidelik word;
* wanneer jy dan opstaan en uitstap, kan jy oorwinnend deur die Gees daaroor gaan leef;
* soms is heling nodig – wat ‘n spesifieke pad saam met God en ‘n mentor kan wees.
- Getuienis lewer / witnessing: deel met ander wat die pad is wat die Here met jou loop en geloop het.
- Bediening / ministry: God wil jou en jou talente gebruik, en deur die salwing van Sy Gees sal jou bediening in Sy diens staan en ook nog bydra by tot uitbreiding van Sy Koningkryk.
- Viering / celebration): jy is op ‘n vreugdepad (joy); daarom eet saam en kuier saam met gelowiges, en skep ook geleenthede waar jy jou getuienis / testimony kan leef en ook dalk kan meedeel.
- Koinonia / fellowship: jy is deel van ’n groter geloofsgemeenskap en sal gevolglik die eredienste, gemeente-byeenkomste, -etes, -bidure, -uitreike en diensterreine na waarde ag. Bid vir jou toewyding en kommitment in die groep om eg en warm te wees, en ook vir jou unieke bydrae tot die samehorigheid onder mekaar, en ook die omgee en waardering van mekaar in die groep.
- Rentmeesterskap: gee (tiendes) van jou tyd, energie en geld (eintlik van jou hele lewe) aan jou Vader terug; let tog wel op na jou motief daarmee – praat met God daaroor en vra leiding.
- Mentorskap: heg waarde aan geestelike mentorskap van die groepleier en ander geestelike leiers – ‘n mentor is saam met jou op pad en help ook met selfinsig en motivering, en kan jou ook help om die rol van geestelike leierskap / submission te verstaan;
* lees gerus geestelike boeke en luister geestelike radioprogramme en musiek, en eweneens op TV – dit kan verrykend en opheffend wees,
* ‘n geestelike skrywer kan ‘n mentor en dus ‘n belangrike skakel op jou geestelike pad wees, en op daardie pad kan jy dan weer (op jou beurt) die aflosstokkie aangee!
Jy kan verder lees oor geestelike gewoontes in Spiritual Disciplines Handbook van Adele A. Calhoun.
Lees gerus ook ander geestelike boeke, van byvoorbeeld skrywers soos Joyce Hugget, Philip Yancey, Richard Foster, Gordon MacDonald, Watchman Nee, Bill Hybels, Thomas Keating, Henri J.M. Nouwen, C.S. Lewis, Jan Johnson, John Ackerman, Eugene Peterson, Ben Camble Johnson, Larry Crab, en in Afrikaans ook van Willem Nicol, Dirkie van der Spuy, Ferdinand Deist en Andrew Murray.
Soos jy groei in jou geloof, kan jy op ‘n dag dalk net weet – omdát jy wéét, dat jy deur God se besondere genade aangeraak is, òf dat jy ‘n ontmoeting met Jesus gehad het, òf in jou gees besef en ervaar dat jou gees resoneer met die Gees van Christus. Dan verstaan jy waarom wedergeboorte ‘n geesteservaring is – want ‘die wind wat waai waar Hy wil’, en jy besef en weet dan dat die geestelike wêreld sy eie dimensie het.
Op hierdie stadium kan dit wees dat kennis van geestelike oorlogsvoering meer en meer van waarde kan word. Nou kan jy leer van hulle wat op pad dié gestap en ervaring daarvan het; d.w.s. kenners soos Bennie Mostert, Piet du Toit, James Lottering, Kobus Jonker en Dawie Pypers en veral in besonder van Neil Anderson (soos in “Victory over darkness”).
‘n Baie spesiale welkom op hierdie pad – ja, kom stap saam in die vreugde van die opgestane Here Jesus!
Clifford Hartzenberg
Ek wil graag meer leer oor die Woord ou en nuwe testament . Ek wil terug ploeg in gemeenskap wat ek gevaal het . Ek sal waardeer as u hul my hand sal neem en my aangaande die Woord leer . Dankie
Die Here seen
Chris van Wyk
Hi Clifford, jy is welkom om by https://bybelskool.com/alfabetiese-lys-van-bybelboeke-by-bybelskool-com/ met die Bybelboek van jou keuse te begin. Daar is begeleiding in elke boek van die Bybel gratis beskikbaar. Seën op jou reis met die Bybel.