• Home
  • Nuus
  • OM ‘N JOERNAAL TE HOU – ‘N MANIER OM NA GOD TE LUISTER

OM ‘N JOERNAAL TE HOU – ‘N MANIER OM NA GOD TE LUISTER

Die afgelope tyd het Chris al ‘n paar keer met sy preke met ons sy ervarings rondom sy joernaal gedeel.  Dalk wonder jy ook daaroor, of het jy ook vrae – soos ek daaroor gehad het, toe het iemand Ordering your Private World (Tyd vir Orde) van Gordon MacDonald vir my gegee om te lees.  Dit het eintlik ook my hele verstaan van stiltetyd en Bybelstudie verander.

Gordon skryf dat jy nodig het om in jou binnekamer tot stilstand te kom en stil te word – sodat jy tye van stilte en afsondering kan beleef, asook om te leer om die dissipline van luister te beoefen. Hy sê: “Die meeste Christene leer op ‘n vroeë ouderdom hoe om met God te praat, maar hulle leer nie om ook te luister nie.  Ons luister elke keer wat ons die Skrif oopmaak wat die verborgenheid van God openbaar, wanneer ons onsself oopstel vir die aanspoorwerk van God se inwonende Heilige Gees , en wanneer ons ‘n boodskap van onderrig met die krag van die Gees van God bring.”

Hy skryf: “Ek het ontdek dat om ‘n joernaal te hou een praktiese metode is om te leer om na God se stem in die tuin (stilte) van my persoonlike wêreld te luister. Met ‘n potlood in die hand gereed om te skryf, het ek agtergekom dat daar deur my leeswerk of oordenking, ‘n afwagting is, ‘n gereedheid om enigiets te hoor wat God dalk wil fluister.”

“Daardie ontdekking het ek ongeveer twintig jaar gelede gemaak toe ek ‘n biografie gelees het.  Die man oor wie die boek geskryf is, het ‘n lewenslange gewoonte gehad om sy geestelike pelgrimstog neer te skryf.  Hy het noukeurig aantekeninge gehou oor hoe hy deur die Gees van God gelei is, “skryf hy verder en sê-vra dan: “Wat ‘n instrument moes dit nie gewees het nie?  Iets waarheen hy keer ná keer kon teruggaan om die hand van God in sy lewe raak te sien!”

Gordon het toe besluit om dit op die proef te stel en het self begin om ‘n joernaal te hou.  Aanvanklik was dit vir hom moeilik; hy sê hy het selfbewus gevoel, maar het nietemin al meer en meer van die gedagtes wat sy gees oorstroom het, in sy joernaal neergeskryf.  Daaroor skryf hy: “Ek het in die joernaal my emosies, my verse, my gevoel van swakheid en my verwagtinge beskryf, asook my ontdekkings van hoe Christus my lei.  Wanneer ek leeg of verslae gevoel het, het ek ook daarvan in die joernaal geskryf.”

Mettertyd het hy begin besef dat die joernaal hom help om ‘n groot deel van sy innerlike wêreld, waaroor hy nog nooit ten volle eerlik was nie,  te hanteer.  Sy vrese en worsteling kon nie langer in sy binneste bly sonder om verwoord te word nie.  Dit is na die oppervlak gebring en was daar aangespreek of kon uitgesorteer word.  Hy het ook bietjie vir bietjie daarvan bewus geword dat die Heilige Gees besig was om sy gedagtes te rig en hom nuwe insig te gee, terwyl hy in sy joernaal geskryf het.

Hy verduidelik hoe waardevol die joernaal kan wees ten opsigte van jou gebed.  As jy stom of woordeloos voel, of nie samehangend woorde kan vind as jy wil bid nie, skryf jou gebede neer, want jou gebed se inhoud gaan vir jou meer sinvol geword as jy dit neerskryf. 

Hy kon ook mettertyd in sy joernaal teruggaan en sien hoe hy reeds al geestelik gegroei het en sy geestelike vordering was vir hom ‘n groot aansporing.  Jou joernaal is dus nie net ‘n verslag van die goeie tye was nie, maar ook van die slegte tye.  Hy sê voorts: “Wanneer daar tye van moedeloosheid en selfs van wanhoop gekom het, was ek in staat om my gevoelens te beskryf en om te vertel hoe die Gees van God my te hulp gekom het om my te versterk.  Sulke gedeeltes was later van besondere waarde om in herinnering te roep; dit het my gehelp om die krag van God te ervaar te midde van my eie swakheid.” 

“Die joernaal het dus eintlik al die getuienis van die getrouheid van God in my lewe vervat en is baie betekenisvol.  Vandag, ná twintig jaar van joernaal hou, het ek ‘n gewoonte aangeleer.  Daar gaan selde ‘n oggend verby dat ek nie die joernaal oopmaak en die dinge neerskryf wat ek hoor het wat God aan my sê, òf deur my leeswerk, òf oordenking, òf in my dag se ervaring nie.  Wanneer die joernaal oopgaan, gaan die oor van my hart ook oop.

As God gaan praat, is ek gereed om te luister.”

HOE OM JOERNAAL TE HOU

“Wanneer ek in die openbaar oor joernaal-hou praat, vind ek dat baie mense besonder daaarin belangstel en baie vrae daaroor het. Hulle aanvanklike nuuskierigheid neig om meer oor die praktyk te wees, as iets anders.  Hoe lyk jou joernaal? Hoe dikwels skryf jy daarin? Watter soort dinge sluit jy in? Is dit nie maar eintlik net ‘n dagboek nie? Laat jy jou vrou toe om die joernaal te lees?”

Gordon het vir elkeen goeie praktiese raad.  Hy sê jou joernaal kan enige skryfboek wees, terwyl ons hier vind dat ‘n gewone A4-grootte hardebladboek baie goed werk.  Hy skryf sowat elke dag in sy joernaal, maar dit sal hom nie erg onstel as ‘n dag af en twee verbygegaan het sonder dat hy ‘n inskrywing daarin gemaak het nie. Hy het dit wel sy gewoonte gemaak om die aanvangsoomblikke of -insigte van ‘n geestelike ervaring of stiltetyd neer te skryf.  Vir hom beteken dit: dit is elke oggend die eerste ding wat hy doen.

En wat skryf jy daarin?  Begin met vandag se datum, skryf dan enige iets oor jou geestelike reis saam met God, byvoorbeeld:

  • mense wat jy ontmoet het,
  • gevoelens wat jy ervaar, en
  • indrukke/oortuigings wat jy glo God wou hê jy moet kry,
  • gebede soos jy daarna voel om dit neer te skryf,
  • nuwe insigte  – ook van ander geestelike leesstof,
  • besorgdheid oor jou eie persoonlike gedrag,
  • en die dinge wat jy in die lewens van jou gesinslede opmerk.

“Dit is alles deel van my luister na God,” gaan hy voort. “Ek is bewus daarvan dat dít wat ek skryf, eintlik kan wees wat God aan my sê.  Hy glo dat die Gees van Christus dikwels werksaam is in die dinge waaroor hy dink en wat hy neerskryf. “Dit is vir my belangrik om my hart te ondersoek om te sien watter gevolgtrekkings God voortbring, waaraan Hy my wil herinner en  watter indrukke Hy op my persoonlike lewe wil laat.” 

Maar Gordon sê hy skryf ook in sy joernaal van agteraf vorentoe. Daar word die sake waarvoor en persone vir wie hy bid vir daardie dag aangeteken.  

Die joernaal is dus nie net ‘n gesprek met God nie, maar dit is ook ‘n weergawe van jou totale geestelike reis  – met al jou stryd en leerervarings ook daarin opgeteken.  Die grootste waarde lê egter vir hom daarin dat dit ‘n instrument is wanneer jy in die stilte van jou binnekamer op God wag, en jy luister om Sy stem te hoor as Hy met jou praat.

“Joernaal-hou,” sê Gordon, “dien as ‘n wonderlike instrument om in afsondering  gemeenskap met die Vader te hê..  As ek skryf, is dit asof ek in gesprek met Hom is.  Ek voel hoe God wonderbaarlik aan die werk is in die woorde wart ek gelei word om te skryf, en dat ek daarmee die diepste vorm van gemeenskap met Hom kan ervaar  

 Lees gerus meer in Ordering your Private World Tyd vir Orde Gordon MacDonald. Struik  

Seën toegebid.

     

Trackback from your site.

Comments (2)

  • Avatar

    George Hayes

    |

    Dankie Chris ek het vanoggend net n begeerte om met n joernaal te begin en waardeer die skrywe rondom jou weergawe. Ek gaan ook die boek bestel van Gordon McDonald Ordering your Private world.
    Groete George Hayes

    Reply

    • Avatar

      Chris van Wyk

      |

      Wonderlik! Gordon se boek is ‘n uitstekende hulpmiddel.

      Reply

Leave a comment