Nuwe Roeping vir Wimke Jurgens
Wimke Jurgens, ons huidige gemeentebestuurder, het besluit om uit sy huidige pos by ons gemeente te bedank. Wimke onderskei dat die Here hom roep om voltyds op sy besigheidsbelange en teologiese studies te fokus. Wimke sê:
“Ek is baie dankbaar vir die voorreg om die afgelope drie jaar die gemeente as werknemer te kon bedien. Dit was vir my ’n wonderlike ervaring om deel te kon wees van God se werk in ons gemeente. Ek is veral dankbaar vir die voorreg om met soveel mense binne die gemeente saam te kon werk. Ek bedank die gemeente en kerkraad vir die vertroue wat hulle in my gestel het. Ek is ook dankbaar vir die ondersteuning wat ek voortdurend van die personeel ontvang het. My rol in die samesmelting en herstrukturering was, alhoewel uitdagend, ’n besondere ervaring. Ek is baie positief oor Somerstrand Gemeente en sien daarna uit om die gemeente weer as ’n gewone lidmaat te dien.”
Chris van Wyk
Wimke is ‘n gawe van die Here aan sy kerk. Ons was bevoorreg om sy dienste op verskillende maniere en in verskeie rolle te geniet en het baie waardering vir sy nalatenskap. Gelukkig sal hy darem nog as lidmaat sy plek volstaan! Wat ek persoonlik veral waardeer het, is die vermoë om mense te begelei om saam die visie wat die Here vir ons het, na te streef. Sy menslikheid en visie is wonderlike gawes wat nog baie waarde vir die gemeente en koninkryk sal hê. Mag die Here jou verder seën en gebruik op wonderlike maniere.