Moenie die Heilige Gees van God bedroef nie – Familiediens 29 Desember
Ek onthou ‘n keer toe ons gesin op pad Kaap toe was. Met een van my Jettas. Dié dag was daar egter fout. Die enjin wou nie lekker krag lewer nie. As jy gewone spoed probeera ry, dan lewer die enjin al hoe minder krag. Die enigste manier was om voet in die hoek te ry. Want dan was daar krag. Die oomblik as ek normaal probeer ry het, dan wou-wou die enjin net vrek.
Maar, dit kon tog nou nie só aangaan nie. Ek draai toe in by Humansdorp na die Volkswagen garage. Die fout was toe al die tyd ‘n filter. ‘n Petrolfilter. Nogal ‘n diens gehad net voor die rit. Die petrolfilter was egter ‘n prul. Nuwe woord wat ek geleer het. Dit is wat in Engels ‘n “dud” genoem word. ‘n Prul. ‘n Pure Petrolfilter Prul.
‘n Paar rand later en ons kon normaal ry, tot verligting van my gesin …
Ek wonder as jy terugkyk na hierdie jaar of daar nie ook sulke momente was vir jou nie. Jou lewe verloop so normaal soos altyd. Dan skielik is daar ‘n haakplek.
Jy kry ‘n pyn wat soos sooibrand voel, en ‘n week later lê jy in die hospitaal met ‘n prosedure gedurende ‘n angiogram. Gelukkig is die stente van ‘n bietjie meer gehalte as die pure prul van ‘n petrolfilter wat ek eenkeer gekry het.
Of jy word gekonfronteer met die dood van ‘n geliefde. En maak nie saak of dit nou lank verwag was of aardskuddend skielik, dit is altyd ontwrigtend. Jy kan nie voortgaan asof alles normaal is nie.
Jesaja het ook só teruggekyk op die geskiedenis van sy volk. Hy kon wonderlike verhale in herinnering roep. Die Here was waarlik vir hulle ‘n Heiland, soos Jesaja 63 dit sê.
Maar die slegte verhale van die verlede het hom hartseer en bedroef gemaak, want hy het ook onthou:
“Maar húlle was wederstrewig en het sy Heilige Gees bedroef; daarom het Hy vir hulle in ’n vyand verander: Hy self het teen hulle gestry.” (Jes 63:10)
Tog weet Jesaja, die enigste Een wat dié opstand in oorgawe kan laat verander, is steeds die Here alleen. Daarom bid Jesaja aan die einde van hoofstuk 63 en die begin van hoofstuk 64:
“Here, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug ter wille van u knegte, die stamme van u erfdeel! Ag, as U maar die hemele wou skeur, wou neerdaal, dat die berge wankel voor u aangesig.”
Dit is dié gebed wat met die geboorte van Jesus en veral met sy doop beantwoord word. Ons lees dus Jesaja 63-64 in die lig van die gebeure van Markus 1:9-11.
Kom luister verder 29 Desember by NGK Somerstrand om 09:00