Misdaad en gebed

Die kerk behoort leiding te neem teen misdaad in Port Elizabeth se bende moord en verkragting hotspot – Helenvale.  So het Generaal Dawie Rabie van die plaaslike SAP, verlede week aan die stad se geestelike leiers gesê.  Hy het vertel hoe die kerk in 2009 opgestaan het teen misdaad.  Aanvanklik was daar drie tot vyf skietvoorvalle per dag.  Nege maande later, nadat die kerke begin bid en vas het, was daar geen.  

Ons het ‘n effektiewe wapen teen die misdaad in ons stad – gebed.  Daar-om word almal uitgenooi na ‘n gebedsdag vir Helenvale, 5 Maart om 11:00 by die park op die hoek van Kobus en Gail.  Gelowiges word ook uitgenooi om elke Donderdag te vas en te bid teen misdaad, spesifiek in Helenvale.

Barcelona Voedingskema

Ons gemeente het natuurlik ‘n besondere verbintenis met Helenvale, in die vorm van die Barcelona Voedingsprojek.  Hier kry tussen 300 en 350 kinders elke Dinsdag, Donderdag en elke tweede Vrydag ‘n heerlike bord kos.  Met samp, bone, vleis, groente en wat ook al as skenkings ontvang is, tower vyf mense uit die gemeenskap die heerlikste disse op.  Woensdae word die houers as ‘n kliniek gebruik, ook m.b.v. die vrywilligers – wat deur die Departement Gesondheid opleiding ontvang het.  

Die impak van hierdie projek is onmeetbaar.  In ‘n gemeenskap waar meer as 50% huishoudings óf enkel-ouer óf deur kinders gelei word, waar daar soms tot 30 mense in ’n twee-vertrek huis bly, kry die kinders nou gereeld kos – en toegang tot mediese sorg.  Elke kind van skoolgaande ouderdom gaan skool toe.  Die kinders is beduidend gesonder as 9 jaar gelede.  Die volhoubaarheid van die projek is uniek.  Die vyf personeellede werk met passie – een vir ‘n salaris van R500 per maand, terwyl die ander vier vergoed word deurdat hulle kos kan neem vir hulle families.

Doen gerus die moeite om hierdie projek te besoek – Xt. 5, Barcelona, Helenvale, Di. of Do. vanaf 14:30.  (Regs by die Makro-verkeerslig in Kaapweg.) Finansiële bydraes kan direk in hul rekening by ‘n plaaslike groothandelaar inbetaal word – of jy kan jou naam vir Theo Havemann gee as jy bereid is om sporadies te  help met vervoer (bv. groente aflewer).  Kontak vir Theo via die Kerkkantoor. 

     

Trackback from your site.

Leave a comment