Maak reguit paaie vir jou voete – Sondag 22 Desember 09:00
Ek onthou die opwinding van ‘n wandelpad. Die voorbereiding. Die beplanning van die roete. Die bymekaar maak van mense saam met wie jy gemaklik voel om te stap. Die skoene. Die rugsak. Die toerusting. Die proviand.
‘n Bietjie anders as in diensplig. Daar was dit vasbyt. Aftjop. Baie lank stap. Geen hutte. Reën. Koud. Warm. Stof. Blase op die voete. Veral die “hel” sal my bybly. Gamkaskloof. Met ‘n gebreekte toon daardeur.
Wat ‘n vreugde om daarna die Hottentots-Holland berge te betree. 12 km op ‘n slag ipv 50. Baie water. Uitstekende hutte. Die pragtige Outenikwa en die boomryke Tsitsikamma. Die korter roete van Harkerville en die effens moeiliker roete in die Drakensberg. Met die leer op na Mont-Aix-Sources. Die pragtige uitsig van bo die Tugela waterval af oor die amfiteater.
Talle lesse geleer. Lewenswyshede. Ek onthou een stapmaat wat ‘n bietjie gesukkel het. Die aande in die hutte het sy eenvoudig gaan sit en kon nie weer opstaan nie. En dan die versoeke aan haar man: “JP, as jy my baie lief het …” Dan is dit vir water. Dan vir iets anders. En JP was ewe gedwee lief vir haar.
Jy sal jou eie ervarings hê van wandelpaaie. Sommige herinneringe sal goed wees. Ander minder goed. Maar, onaangeraak is ‘n mens nie op só ‘n wandelpad nie.
Jesaja praat in hoofstuk 34-35 oor twee wandelpaaie. Die een goed. Die ander skrikwekkend sleg.
- Die afvallige pad van die nasies lei na die land van “brandende teer“, daar waar die bose floreer.
- Die “heilige weg” van die gelowiges lei na die land van water en oorvloed, daar waar God regeer.
Dit is met dié agtergrond wat die Hebreërskrywer ons in hoofstuk 12 aanmoedig om ons oë te hou op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof. Om reguit paaie te maak vir ons voete, sodat ons die pad van heiligmaking enduit kan loop.
En hy waarsku ons oor die “wortel van bitterheid” – die teenpool van die “wortel van Isai” – op hierdie wandelpad …
Kom luister Sondag 22 Desember by NGK Somerstrand om 09:00 na die vierde in ons reeks oor Jesaja en Jesus.