Lusmaker vir Sondagaand: 1 Korintiërs 9:19-23 – Maak kontak!

Ek preek komende Sondagaand oor die tema “Maak kontak“. My teks is 1 Korintiërs 9:19-23 waar Paulus skrywe oor sy roeping om “vir almal alles te word om in elke geval sommige te red“. Nogal ‘n teks wat die Here gebruik het om my roeping as VDM te bevestig.

Dit is deel van ons reeks “What’s your story?“, hierdie keer gemik op “verstaan” veral van mense wat anders as jy is. In my preek sal ek daarom aandag gee aan kruiskulturele kommunikasie, omdat dit een van die dinge is waaroor ons nog baie moet leer.

Ek het ‘n boek geskryf hieroor: Maak kontak. Dit sal ook binnekort beskikbaar wees in Engels. Skaf dit hier aan.

Daarin skryf ek oor die veranderlikes wat ’n impak op die vermindering van vooroordele het. Dit is dinge soos gelyke status tussen groepe, gemeenskapklike doelwitte, samewerking en institusionele ondersteuning van kontak tussen groepe. Trouens, die blote feit dat jy kontak maak met iemand van ‘n ander groep, breek vooroordele af. Dit is juis ons isolasie en skeiding van mekaar wat vooroordele versterk.

In die boek gee ek 20 Leidrade vir kruiskulturele kontak

1. Maak die speelveld gelyk
2. Erken ervarings wat uit vorige kontak voortvloei
3. Ontvang protes as ‘n geskenk tot heling
4. Bevraagteken etikette en gevestigde sosiale norme wat kontak verhinder
5. Definieer duidelik gemeenskaplike doelwitte
6. Skuif die fokus weg van intellektuele argumente
7. Gebruik ‘n verhoudingsbou-aanslag
8. Doen saam, werk saam, leef saam
9. Reik doelbewus uit na mense in ander kontekste
10. Ontgin vriendskapspotensiaal herhaaldelik
11. Skuif van mededinging na samewerking en interafhanklikheid
12. Kry goedkeuring en aanvaarding van gesagsdraers
13. Begelei mense van oppervlakkige kennisse na hegter en langtermynvriende
14. Stel mense voor aan ander wat reeds oor grense gaan
15. Gebruik waardes eerder as skuld om angs te verminder
16. Nooi mense om meer van hulleself te wys en te vertel
17. Skep strukture wat kontak aktief bevorder
18. Besin saam oor die bou van sosiale kapitaal op plaaslike vlak
19. Maak plaaslik ‘n verskil
20. Aanvaar saam verantwoordelikheid vir spesifieke behoeftes

Vier stories om jou aan te moedig om uit te reik en vooroordele te begin afbreek:

1. Merchant Marine

Een van die vroegste navorsingstudies wat onderneem is om die swart-wit dinamika te ondersoek was deur Merchant Marine nadat hulle rasseskeiding op hulle skepe laat vaar het (Brophy, The luxury of anti-Negro prejudice, 1945). Die navorsing het gewys dat die verhoudinge nie onmiddellik verbeter het nie, maar met elke vaart wat wit en swart seemanne saam onderneem het, die wit seemanne se anti-swart vooroordele afgeneem het.

Dit was amper ’n liniêre verhouding. Voor die rasse saam begin uitvaar het, was die vooroordele op 65%, na 1 vaart saam reeds af na 53%, na 2 vaarte af na 46%, na 3 vaarte nog skerper af na 20% en na vier en meer vaarte af na net 15% vooroordele. Die nuwe situasie wat geskep is deurdat seemanne van alle rasse saam begin werk het, het die vooroordele teenoor mekaar laat afneem.

Vooroordele kan dus verminder hoe meer ‘n mens fokus op die regte soort kontak tussen mense.

2. Amerikaanse somervakansie kampe

Dit is belangrik om te skuif van kompetisie na samewerking en interafhanklikheid. Een interessante voorbeeld hiervan is die navorsing by Amerikaanse somervakansie kampe waar twee groepe eers in ’n situasie gesit is waar hulle met mekaar moes wedywer om sekere take te verrig, en dit tot konflik en vyandigheid gelei het. Dieselfde groepe het toe opdragte gekry – bv. om waterpype te herstel wat tot almal se voordeel was, en ’n bakkie aan die gang te kry om na ’n gesamentlike piekniek te ry – waar samewerking tot albei groepe se voordeel was (Sherif, Intergroup conflict and cooperation: The Robbers Cave experiment, 1961). En dié opdragte is met baie meer samehorigheid en effektiwiteit uitgevoer.

3. Die “Jigsaw Classroom” benadering

’n Ander voorbeeld is die bekende “Jigsaw Classroom” benadering waar die onderwyser die les in kleiner dele opgedeel en aan ’n paar diverse leerders uit die klas gegee het om te bemeester om dit dan vir die hele klas aan te bied. Die klas is toe opgedeel in “Jigsaw” groepe waar in elke groep een van dié leerders hulle deel van die les kon aanbied. Die sukses van die benadering was dit hulle in samewerking met mekaar en interafhanklik die les kon bemeester (Aronson en ander, The Jigsaw Classroom, 1978).

4. Van oppervlakkige kennise na langtermyn vriende

Selfs in situasies waar die kontak tussen groepe uitdagend of moeilik is, kan vooroordele steeds verminder word. Waar ‘n mens fokus daarop om mense te begelei van oppervlakkige kennisse van mekaar na dieper en langtermyn vriende van mekaar, daar het die kruiskulturele kontak die meeste kans op sukses in die vermindering van vooroordele.

Shook en Fazio (Interracial roommate relationships, 2008) het bv. die ervarings en houdings van wit voorgraadse studente ondersoek wat ewekansig ’n wit of swart kamermaat toegedeel is gedurende hulle eerste semester op kollege. Interessant genoeg, ten spyte van die feit dat die wit studente minder tevrede was met die verhouding met hulle swart kamermaats en minder betrokke by hulle was as dié wit studente by ’n wit kamermaat, het die wit studente wat ’n swart kamermaat gehad het ’n vermindering in “automatically activated racial prejudice … as well as marginal decreases in intergroup anxiety, relative to White students paired with a White roommate,” ervaar. (Pettygrew & Tropp, When Groups Meet, 2011, hfst. 2)

Die navorsing dui ook aan dat vooroordeel vermindering universeel waargeneem word. Dit is nie beperk tot ’n spesifieke geografiese area nie. Intergroep kontak is in baie dele van die wêreld nagevors en toon positiewe resultate, bv. tussen Chinese en Maleisiese studente (Rabushka, “Affective, cognitive, and behavioral consistency of Chinese- Malay interracial attitudes”, Journal of Social Psychology, 1970), Israeli en Palestynse adolessente (Maoz, “An experiment in peace”, Journal of Peace Research, 2000), Hindoe en Moslem volwassenes in Bangladesh (Islam & Hewstone, “Dimensions of contact as predictors of intergroup anxiety, perceived out-group variability, and out-group attitude: An integrative model”, Personality and Social Psychology Bulletin, 1993) en in konflik areas soos in Suid-Afrika (Dixon en ander, “A paradox of integration? Interracial contact, prejudice reduction and perceptions of racial discrimination”, Journal or Social Issues, 2010; Luiz & Krige, “The effect of social contact between South African white and colored adolescent girls, Journal of Social Psychology,” 1985).

My oorwoë mening is dat die beste weg tot vooroordeel vermindering tussen groepe uiteindelik lê in kruisgroep vriendskappe met institusionele ondersteuning wat die norme en riglyne vir die kontak kan neerlê. Skep dus doelbewus strukture wat kontak met mekaar oor grense heen aktief kan bevorder.

Begin vandag!

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.