Luisterblad Rut 3 – 5 tot 11 Augustus 2018
SAAM-LUISTER
Ingenooi deur God:
Vertel vir mekaar hoe dit met julle gaan. Waarmee is God besig in jul lewens? Waar sukkel julle om God se hand te sien?
Ingaan in God se tyd:
Laat iemand Psalm 92 rustig voorlees terwyl die res biddend daarna luister.
Luister na God se Woord:
Lees Rut 4.
Gee kans dat elkeen rustig op hul eie oor die teks reflekteer: wat staan vir jou uit, wat raak jou, wat ontwrig jou of daag jou uit?
Luister na mekaar:
Vertel vir mekaar wat julle gehoor het in die teks. Wat het jou getref? Wat het jou ontwrig of uitgedaag?
Luister na ander en die tye:
Hoe en waar sien julle God se hand in die storie van Rut raak?
Annene Mullins en Kobus Myburg wys daarop dat die transaksie in v12 bekragtig word met verwysing na die verhaal van Tamar. Herinner mekaar gou weer aan die verhaal van Juda en Tamar – dit staan in Genesis 38 opgeskryf. Die geslagsregister in Rut begin ook by Peres, Tamar en Juda se seun. Hoekom dink julle word Tamar se verhaal hier opgeroep? Watter ooreenkomste en verskille is daar tussen die twee verhale?
Luister weer na God se Woord:
Lees Genesis 19:36-37 en Deuteronomium 23:3 en 6. Lees nou ook Matteus 1:1-17. Wat leer ons uit Rut se teenwoordigheid in Jesus se geslagsregister? Wat ander dinge uit Jesus se geslagsregister val julle op?
Fokus op wat God nou doen:
Glo julle dat God vandag steeds dinge ten goede laat uitwerk? Vertel vir mekaar hoekom julle so voel.
Waarom dink julle is hierdie verhaal in die Bybel opgeneem? Wat was die skrywer se bedoeling met die boek?
Antwoord met ons lewe:
Sakenfeld skryf, met verwysing na die gemeenskap wat in die boek Rut voorgestel word, dat hierdie gemeenskap gebou is op
the loyal kindness of God, who occasionally intervenes but mostly works through the loyalty and kindness of worthy women and men. By their actions Ruth and Boaz give us a glimpse not just of how we should live, but also of what the loyal kindness of God might be like… That glimpse expands to the fullness of Jesus of Nazareth, born of Mary, son of David, descendant of Ruth, Messiah, who fed the hungry, succored the grieving, entered into unlikely friendships and confounded traditional categories of center and margin. The story of Ruth and the story of Jesus invite us to love loyal kindness and to follow the God in whom dividing walls of hostility are still being broken down.
Bid saam en reageer op wat julle uit die Woord gehoor het.
FAMILIE-LEWE
Rus:
Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.
Hoor:
Lees Rut 4 saam.
Leef:
Dink na oor die hele verhaal van Rut. Wat was julle gunsteling dele? Wat leer julle uit hierdie boek? Hoe kan julle leef volgens die voorbeeld van Rut en Boas?
PERSOONLIKE LUISTER
Stop:
Vir Naomi, wat haarself aan die begin van die verhaal “Mara” genoem het, eindig die verhaal van Rut mooi. God was toe die hele tyd besig om te werk! Dink na oor jou eie lewe. Vra die Gees om jou te wys waar God aan die werk is.
Neem Waar:
Lees hierdie week Rut 4 in jou stiltetyd. Lees die verhaal rustig deur. Wat tref jou? Met watter dele van die verhaal identifiseer jy hierdie week en hoekom? Is God besig om deur dit met jou te praat?
Luister:
Dink terug oor jou 4 weke met Rut. Wat wil jy met jou saamneem uit hierdie verhaal?
Huisgodsdiens, kleingroepmateriaal, Rut 4, selmateriaal, stiltetydmateriaal