Luisterblad Rut 2 – 22 tot 28 Julie 2018
KLEINGROEPE SAAM-LUISTER
Ingenooi deur God:
Vertel vir mekaar van “toevallige” gebeure in jul lewens, wat julle vandag dink eintlik God se voorsiening was.
Ingaan in God se tyd:
Maak julle oë toe en luister biddend terwyl iemand Psalm 46 rustig lees.
Luister na God se Woord:
Lees Rut 2. Gee kans dat elkeen rustig op hul eie oor die teks reflekteer: wat staan vir jou uit, wat raak jou, wat ontwrig jou of daag jou uit?
Luister na mekaar:
Vertel vir mekaar wat julle gehoor het in die teks. Wat het jou getref? Wat het jou ontwrig of uitgedaag?
Luister na ander en die tye:
Lees Lev. 19:9-10, 23:22 en Deut. 24:19-22. Wat sê dit vir ons wêreld vandag? Hoe kan jy die gees van hierdie wet vandag prakties toepas, in jou lewe?
Luister weer na God se Woord:
Tel hoeveel keer die teks daarna verwys dat Rut ’n Moabiet, ’n vreemdeling, is (in vers 6 word dit sommer dubbeld onderstreep). Onthou dat die Israeliete die Moabiete as vyande beskou het. Verder is hierdie verhaal waarskynlik opgeskryf in Esra/Nehemia se tyd, wat probeer het om alle Joodse mans te dwing om hul nie-Joodse vroue weg te jaag (Esra 9-10, Neh. 10:28-30, 13:3, 23-30). Kyk ook na Boas se optrede. Let op hoe Boas nie net die wet nakom nie, maar méér doen as wat die wet vra. Wie is die vreemdelinge in ons tyd? In julle lewens? Hoe hanteer julle hulle? Wat leer julle uit Boas se optrede teenoor Rut?
Fokus op wat God nou doen:
Rut se verhaal is ’n pragtige gelykenis oor toeval en voorsienigheid. “Per toeval” kom Rut uit by dié land wat aan Boas behoort. “Toevallig” kom Boas ook dan daar aan. Tog is God die hele tyd agter die skerms aan die werk. Wat na toeval lyk, is eerder goddelike voorsienigheid. Katharine D. Sakenfeld sê:
Although none of the characters is yet aware, and although there are many hurdles yet to be overcome, a corner has been turned, a crack in a seemingly impenetrable wall has appeared, the beginning of a possible path from death to life, from bitterness to joy has been shown to the readers. It remains to be seen whether the characters will act in ways that enable God’s intention for wholeness to be realized.
Hoe help dit jou om oor jou eie lewe te dink? Wanneer is iets “toevallig” en wanneer is dit God wat besig is om te werk? Hoe kan ons seker maak dat ons deelneem aan God se plan en nie in die pad daarvan staan nie?
Antwoord met ons lewe:
Bid saam en reageer op wat julle uit die Woord gehoor het.
FAMILIE-LEWE
Rus:
Herinner mekaar wat “toevallig” beteken. Help mekaar om te sien dat goed wat ons dink “toevallig” is, eintlik God is wat besig is om dinge in plek te sit.
Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.
Hoor:
Lees Rut 2 saam.
Leef:
In Rut se wêreld was dit die gebruik om altyd ’n deel van die oes op die land te los vir arm mense. Hoe kan ons vandag leef op ’n manier dat ons die lewe vir arm mense makliker maak? Gesels oor praktiese goed wat julle kan doen. Dalk kan julle gesin hierdie week ook op ’n spesiale manier uitreik na behoeftige mense?
PERSOONLIKE LUISTER
Stop:
Waar in jou lewe het jy al ervaar dat iets “toevallig” gebeur, net om later agter te kom dat dit eintlik God se voorsienigheid was?
Neem Waar:
Lees hierdie week Rut 2 in jou stiltetyd. Lees die verhaal rustig deur. Wat tref jou? Met watter dele van die verhaal identifiseer jy hierdie week en hoekom? Is God besig om deur dit met jou te praat?
Luister:
Dink na oor jou lewe. Op watter maniere voorsien God vir jou? Kan dit wees dat jy soms God se voorsiening miskyk, omdat jy dit as “toevallig” beskou? Praat met God daaroor.
bybelstudie, bybelstudiemateriaal, Huisgodsdiens, Kleingroepe, kleingroepmateriaal, rut, selmateriaal, stiltetyd