Leef deur die Gees – Sondag 30 Junie 09:00
Onthou julle vir Bruce? Die groot wit dood haai in die fliek Finding Nemo. Hy is die leier van die Vis-vriendelike Haaie-ondersteuningsgroep wat vriende maak met Marlin, Nemo se pa, en Dory wie se geheue haar so in die steek laat.
By een van sy Vis-vriendelike Haaie-ondersteuningsgroep sessies – geskoei op Alkoholiste Anoniem se 12 stap program – word Marlin en Dory saamgenooi met twee ander haaie, Anchor en Chum. Dit is immers die viering van stap 5: Bring ‘n vis-vriend.
Ongelukkig kom daar ‘n bietjie bloed in die water en Bruce se natuurlike instinkte skop in. Sy oë verander van helderblou tot donkerswart en hy wil met alle mag en geweld sy nuutgevonde vis-vriende, Marlin en Dory, opeet.
Bruce is ‘n goeie siel. ‘n Aangename haai. Hy is vrolik, vol grappies, almal se pel. “Visse is vriende, nie voedsel nie,” so herinner Bruce homself telkens. Maar sy persoonlikheid verander die oomblik wanneer sy instinkte inskop, en dit maak van hom ‘n “mindless eating machine”.
Instink is sterker as afrigting
Nou, dit is maar ‘n fliek. Maar, in die werklike lewe is dit steeds ‘n realiteit. Instink by wilde diere is doodgewoon sterker as enige afrigting. Jy kan ‘n dier tem, maar jy kan nooit heeltemal die instink beheer nie.
Dit is nie anders in die geestelike lewe nie. Ons het deel gekry aan God se natuur. Watter genade! Maar die sondige natuur bly steeds lewendig in ons. En God se natuur en ons sondige natuur is in ‘n voortdurende konflik met mekaar.
Wat is die oplossing?
Wat is die oplossing dan vir die konflik binne ons? Hoe kry ons dit reg dat ons nie kop verloor soos Bruce, die groot wit dood haai, nie.
Kom luister wat Paulus daaroor skryf in Galasiërs 5 in Sondag se Familiediens …