Skip to main content

God is HEILIG – 6-12 Sept

TEOLOGIESE RAAMWERK

Vals beeld van God: God is nie gepla oor sonde nie.

Ware beeld van God: God se liefde behels genade en oordeel

In reaksie op die vals beeld van God as ’n kwaai en toornige God wat mense haat en nie kan wag om mense te straf nie, het daar ’n ander vals beeld van God ontstaan, een wat vandag baie gewild is. In die geselsprogramme op TV, en in populêre selfhelp-boeke, word God geteken as ’n kosmiese, welwillende gees wat nooit oordeel of straf nie, wat niks as sonde beskou nie en wat almal seen.

Die behoefte om God so te sien – in reaksie op die vals beeld van God as ’n haatdraende God – is heeltemal verstaanbaar, maar dit is ook ’n vals beeld van God. H.R. Niebuhr, ’n Amerikaanse teoloog, beskryf die tipe spiritualiteit as volg: “’n God sonder oordeel bring mense sonder sonde in ’n koninkryk sonder geregtigheid deur die bediening van ’n Christus sonder ’n kruis.

Wat ons moet verstaan, is dat oordeel nodig is om al die onreg, al die verkeerde dinge in hierdie wêreld, al die pyn en lyding, sonde en siekte, boosheid en dood, reg te stel. Ons hele wêreld smag na regstelling en regverdigheid!  En dit kan nie gebeur sonder dat daar ook oordeel is nie.

Dis waarom die geloofsbelydenis sê dat Jesus sal kom “om te oordeel.”  Om ware vrede, herstel, versoening, genesing en heelmaking te bring op God se nuwe aarde, waar God se wil en God se geregtigheid sal heers, moet Jesus al die onreg in die wêreld oordeel, veroordeel en vernietig.

Oordeel en genade is die twee kante van God se liefde. Sonder oordeel kan daar nie genade wees nie. Sonder oordeel is God se liefde nie volmaak nie, want dan is God soos die ouer wat so “lief” is vir sy kinders, dat hy al hulle sonde verdra, dat hy toekyk hoe hulle hulleself en ander seermaak, dat hy toelaat dat sy kinders hulleself vernietig. God se liefde behels dat God die goeie wil hê vir sy kinders. God se patos, sy liefde, maak dat God nie apaties is en wegkyk van sonde nie.  Hy oordeel dit om dinge reg te stel.

GELOOFSGEWOONTE VIR DIE WEEK: Kantlyne

Kantlyne (MARGIN: marge, speling, grens, ruimte) verwys na die ruimte aan die rand van dié bladsy waar daar geen teks is nie.  As die blad vol teks sou wees, sou daar geen marge – geen kantlyn – wees nie.  Ons lewens is baie keer só: “We add so much to our schedules that we have no ‘margin’, no space for leisure and rest and family and God and health.

Die geheim om kantlyne in te bou in jou lewe is die eenvoudige, maar moeilike ding om te doen: SÊ NET NEE!  Waarvoor?  Vir enigiets wat nie absoluut nodig is vir jou eie menswees en dié van ander nie.  Dit gaan dus nie oor goed teenoor sleg nie, maar oor die keuse tussen goed en goed, tussen dié dinge wat vir jóú die regte goed is, en dié wat sleg is vir jóú, al is dit as sodanig goed.

OEFEN

Daar is verskillende maniere om kantlyne in jou lewe in te bou.  Hier is ‘n paar voorstelle vir dié week:

  • Staan tien minute vroeër op en maak ruimte vir stilte vóór jy die dag begin.
  • Kyk na jou program vir die dag en skakel EEN onnodige aktiwiteit uit. Gebruik dié tyd vir iets wat jy geniet – gaan stap by die see, drink ‘n lekker koppie koffie, maak tyd vir iemand spesiaal.
  • Kyk na jou program vir die week en vra oor dié dinge wat die meeste tyd neem: “Is dit wesenlik belangrik?” Oorweeg om EEN van dié dinge uit te skakel uit jou program.
  • Dink aan iets wat jy baie doen – Facebook, Nuuskyk, Kosmaak, Eet, Kuier – en skakel EEN geleentheid uit. Gebruik dié tyd vir stilte, vir gebed óf vir iets anders wat jy geniet.

VRUG

Heiligheid is wesenlik Heelheid – ‘n lewe wat aan sy doel beantwoord.  Deur te fokus op die geloofsgewoonte kantlyne herstel jy die balans in jou lewe, verhoog jy jou kapasiteit om vreugde te belewe.  Vreugde is een van die dinge wat jou van versoeking vrywaar, wat jou ‘n heilige lewe laat leef, wat jou van binne-af heelmaak sodat Christus in jou gestalte kan kry.

OORDINK

Dit is altyd ‘n goeie ding om hieroor na te dink.  Skryf jou ervarings van dié geloofsgewoonte van kantlyne in jou joernaal neer.  Wat het met jou gebeur?  Hoe het dit gevoel? Wat het jy van jouself geleer?  Wat het jy van die lewe geleer?  Wat het jy van ander geleer? Wat het jy van God geleer?  Wat was vir jou die moeilikste?  Wat was die maklikste?

KLEINGROEP

  1. Deel met mekaar wat gebeur het met julle beoefening van die geloofsgewoonte kantlyne. Wat het jy geleer: van jouself, van die lewe, van ander, van God?  Wat was moeilik?  Wat was maklik?

RUS

  1. Laat iemand Habakuk 2:20 drie keer stadig lees, terwyl julle biddend hieroor nadink: God is in jou, want jy is sy tempel. Habakuk sê: “Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees!
  2. Laat iemand met ‘n gebed begin. As iemand ‘n besondere ervaring in dié gebedstyd gehad het, is hulle welkom om dit met die groep te deel.

HOOR

  1. Begin deur te gesels oor julle beeld van God. Is God gepla oor sonde?  Behels God se liefde genade en oordeel?  Hoe dink julle?  Julle kan verwys na die “Teologiese Raamwerk”.

Lees 1 Petrus 1:13-16.

  1. Wat tref julle? Laat elkeen eers self deel wat hom of haar ruk of troos.
  2. In die OT was die tempel in Jerusalem die ruimte waar God se heiligheid ervaar kon word. Baie dinge het daartoe bygedra: die groot en majestueuse gebou, die oorvloed van goud en beeldhouwerk, die gewydheid van die atmosfeer, die indrukwekkende klere van die priesters, die reuk van die offers, die sang van die kore.  In die NT is ons die tempel van die Here.  Hy woon deur sy Gees in ons.  Wat kan jou help om God se heiligheid IN jouself en jou lewe te kan ervaar?  Dink aan dinge in die teksgedeelte: “verstandelik wakker”, “nugter”, “hoop volkome op die genade”, “as gehoorsame kinders”, “nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het nie”, “in julle hele lewenswandel heilig wees”.

LEEF

  1. Hoe kan die geloofsgewoonte kantlyne jou help om meer bewus van God se heiligheid te leef – lees meer by “Vrug” hierbo? Dink spesifiek aan dinge waarvoor jy NEE moet sê.  Dink ook aan die oorhoofse geloofsgewoonte Practising the Presence of God.  Kantlyne is deel daarvan.
  2. Besluit op ‘n praktiese manier waarop jy verder kantlyne in jou lewe gaan inbou in die res van die week – voorstelle by “Oefen” hierbo.  Bid vir mekaar.

Kleingroepe, Petrus

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.