LIEFDE – Kleingroepe 26 Okt – 1 Nov
- Paulus skryf die brief aan die Romeine – gedikteer aan Tertius (16:22) – waarskynlik van Korinte af naby die einde van sy derde sendingreis, ongeveer in die jaar 57 n.C. in die 3 maande wat hy in Griekeland deurgebring het (Hand. 20:2-3). Hy is op pad met die dankoffers wat gemeentes in Masedonië en Agaje bygedra het vir die gemeente in Jerusalem (vgl. Rom. 15:25-26 met 1 Kor. 16:1-7).
- Dit is duidelik dat die stryd rondom die inskakeling van Christene uit die heidense nasies nog hewig woed, hoewel hulle in die meerderheid was in die Romeinse huisgemeentes (vgl. 16:5,14,15). En die vraag is steeds krities: moet gelowiges uit die heidennasies die wet nakom of nie?
- Daarom verset Paulus hom steeds teen die klem wat sekere Joodse gelowiges plaas op die besnydenis (2:25-3:1; 4:9-12 – vgl. Gal. 5:2-12) en die voedsel wette (Rom. 14:1-23) – uiteraard, uit hulle perspektief, as ’n manier om hulle Joodse identiteit in die vreemde te bewaar, maar waarmee, uit Paulus se perspektief, hulle Christelike identiteit in gedrang kom.
- Hy verkondig daarom aan hulle die hoofsaak van hulle liefde vir mekaar wat in wese die wet vervul (Rom. 13:8-14) sodat die eenheid tussen gelowiges bewaar kan word. Maar hy brei ook uit oor die belangrike besluit wat die kerk in Jerusalem geneem het oor onsedelikheid (Hand. 15:24-29) wat juis ‘n uitdrukking van die liefde is en deur almal nagekom moet word (Rom. 1:18-32; 13:13).
- Die boodskap was nodig omdat sommige Joodse gelowiges waarskynlik apart van gelowiges uit die heidennasies in hulle huiskerke vergader het (16:5,14,15). Paulus wys dat só ’n praktiese reëling die evangelie in sy wese kan aanrand.
- Paulus skryf die brief in 4 hoofdele met ‘n slot wat aansluit by die fokus van die 4de deel:
- Hoofstuk 1-4 – hy fokus op die evangelie van Jesus Christus wat die reaksie van God is op die sondigheid van alle mense en vryspraak vir almal bring;
- Hoofstuk 5-8 – hy fokus op hoe mense van hulle sondigheid verlos kan word deur die geloof in Christus Jesus en in ’n nuwe lewe kan leef deur die gawe van die Heilige Gees;
- Hoofstuk 9-11 – hy fokus op die eenheid wat God gebring het tussen Jode en heidene en beantwoord die brandende vraag na die toekoms van Israel;
- Hoofstuk 12-16 – hy fokus op praktiese sake en veral die onderlinge verhoudinge van die geloofsgemeenskap sowel as hulle lewe in die breër gemeenskap.
RUS
- Lees die inleiding hierbo en bespreek die konteks waarbinne ons die gedeelte uit die brief aan die Romeine gaan lees. Watter uitdagings het ons in ons onderlinge eenheid en liefde vir mekaar? Hoe motiveer Paulus se oorhoofse boodskap ons?
- Raak bewus van Jesus se teenwoordigheid in julle groep. Laat iemand Jesus se opsomming van die liefdesgebod voorlees (Matt. 22:37-40). Oordink dit in stilte. Laat iemand open met gebed.
HOOR
- Lees Romeine 13:8-14.
- Wat tref julle van hierdie opdrag tot liefde? Laat elkeen vryuit deel watter insigte, beloftes en opdragte hom of haar in die hele gedeelte tref. Dit is ‘n belangrike deel van die saam luister. Gee genoeg tyd daarvoor.
- Dink hieroor na en deel met mekaar wat julle hierin tref:
“Die enigste verantwoordelikheid wat ’n gelowige teenoor sy medemens het, is om hulle lief te hê, soos die wet dit uitspel. Let op dat Paulus hier vier van die gebooie van die tweede tafel van die wet aanhaal soos ’n mens dit in Deuteronomium 5:17–21 kry. Al hierdie gebooie, trouens elke gebod wat daar is oor die naaste, word in die opdrag tot die liefhê van die naaste soos jouself (Lev. 19:18) saamgevat. Die liefde het beide negatiewe (geen kwaad aandoen nie) as positiewe (volle uitvoering van die wet) implikasies, soos vers 10 uitspel.
Dit beteken dat ons moet ophou met die werke van die duisternis wat hy uitspel as publieke vieringe (drinkery, uitspattigheid), ‘n sedelike lewe (ontug, onsedelikheid) en die bewaring van onderlinge verhoudinge (rusie, jaloesie – vgl. Gal. 5:19-21). Dit sluit ook in dat ons die wapens van die lig opneem (welvoeglik lewe [eerbaar] as volgelinge van die Here Jesus Christus). Die liefde word dus volledig deur ‘n heilige lewe gekenmerk (vgl. Ef. 6; 1 Tes. 5; 2 Kor. 10).”
LEEF
- Dink weer oor wat julle aan die begin gedeel het, en sê vir mekaar hoe ons/die gemeente/die kerk mekaar beter kan liefhê?