Skip to main content

Kleingroepe 15-21 November – HEILIGHEID

Efese was ‘n groot en belangrike stad in wat ons vandag ken as Turkye. Vandag is daar net ruïnes oor van Efese, naby die moderne stad Selçuk.  Paulus kom aan die einde van sy tweede sendingreis, ongeveer in die jaar 51-52 n.C., in Efese aan en bly daar vir ‘n kort rukkie.  Hy het waarskynlik by Akwila en Priscilla gebly. Hy wou egter nie lank bly nie, en belowe om met ‘n volgende reis weer by hulle aan te doen.  Hy vertrek dus, doen Jerusalem aan, en voltooi sy tweede sendingreis met ‘n tyd in Antiogië.

Dan vertrek Paulus weer op sy derde sendingreis, ’n geestelike reis van versterking.  Die groot fokuspunt op hierdie reis is Efese.  Paulus doen vir twee jaar groot werk hier, aanvanklik in die sinagoge, en later in die saal van Tirannus.  Die effek op die stad is dat baie tot bekering kom en afstand doen van hulle bose werke.  Daarmee is die towergodsdiens van Efese ’n gevoelige slag toegedien, iets waarby Paulus sal aansluit in die laaste hoofstuk van sy brief aan die Efesiërs.

Paulus besluit dan om terug te gaan na Griekeland, en dan via Jerusalem uiteindelik ook Rome te gaan. Hy kom wel in Rome uit, maar nadat hy in Jerusalem gevange geneem is, en na Rome vir sy verhoor gestuur is.

Dit is dus vanuit Rome wat hy die brief aan die Efesiërs uit die gevangenis skryf.  Hy skryf in dié tyd aan die gemeentes in Filippi, Kolosse (ook bedoel vir Laodisea) en Efese, sowel as aan Filemon.  Hierdie vier gevangenis briewe is waarskynlik deur Tigikus (Kol. 4:7,9; Ef. 6:21) en Onesimus (Kol. 4:9 – Filemon se slaaf) afgelewer in die vroeë sestiger jare van die eerste eeu, moontlik op dieselfde reis.

Die brief val duidelik in twee helftes uiteen:

  • ‘n Teologiese begronding van die evangelie van Christus Jesus wat ‘n nuwe mensheid tot stand gebring het oor die grense van nasies heen – hoofstuk 1-3.
  • Praktiese riglyne oor die eenheid van die kerk, die gebruik van gawes, die uitdagings van dissipelskap, die eise van ‘n lewenstyl in die lig, ‘n fokus op verhoudinge en ‘n oproep tot publieke standvastigheid – hoofstuk 4-6.

RUS

  1. Lees die inleiding vooraf as agtergrond vir ons lees van die brief aan die Efesiërs.
  2. Dink vooraf ook ná oor wat heiligheid vir jou beteken. Wat is vir jou heilig?  Wat is vir ander mense heilig?  Wat is vir God heilig?  Wat beteken dit dat God heilig is?  Watter uitdagings het ons in ons gesamentlike verstaan van heiligheid?  Deel in die groep met mekaar hoe julle oor heiligheid gedink het.
  3. Raak bewus van God se heilige teenwoordigheid in julle groep. Laat iemand Jesaja 6:1-5 lees.  Dink jou in Jesaja se situasie in.  Hoe sou jy gevoel het as jy dit soos hy ervaar het?  Oordink dit in stilte.  Erken die Here se heilige teenwoordigheid in jou lewe.  Laat iemand open met gebed.

HOOR

  1. Lees Efesiërs 4:17-24.
  2. Deel met mekaar wat julle daarin tref.
  3. Wat beteken dit om nie soos heidene te lewe nie – vers 17-20?
  4. Hoe kan ons dié opdrag nakom om nie soos heidene te lewe nie – vers 21-24?
  5. Scot McNight sê dat heiligheid nie net met afsondering te make het nie, maar met “devotion to God”. D.w.s., soos jy ‘n gholfstok nie as ‘n hamer gebruik nie (al wil jy ook soms), só doen jy sekere dinge nie, omdat jy aan God toegewy is, en heilig wil lewe.  Maak dit sin?  Hoe sou jy heiligheid prakties beskrywe?
  6. Scot McKnight sê dat ons nie bang moet wees vir: “Do’s and Don’ts” nie. Die Bybel is immers vol van sulke lyste. Wat belangrik is, is dat ons die Don’ts moet vermy, omdat ons in die Do’s glo en hulle wil navolg.  Hy stel dit so: “Because we are doing devotion of God, we don’t want to do sin.”  Maak dit vir jou sin?  Hoe sou jy daaroor dink.

LEEF

  1. Dink weer oor wat julle aan die begin gedeel het oor heiligheid, en sê vir mekaar hoe ons/die gemeente/die kerk in die lig van die boodskap aan die Efesiërs meer heilig kan lewe?

Kleingroepe

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.