Kleingroep aanddiens 26 tot 31 Januarie

’n Hart wat Omgee

RUS

• Vertel vir mekaar wat op die oomblik in jul lewens aangaan.
• Vertel ’n storie van ’n keer wat jy regtig gevoel het iemand gee vir jou om. Wat het hulle gedoen wat jou so laat voel het?

HOOR

Laat iemand bid en die Here vra om julle te help om te LUISTER na God se Woord en te LEEF soos wat God vra.
Lees Matteus 8:1-4
1. Gesels oor wat julle in dié gedeelte tref.
2. Melaatsheid – die Griekse woord kan eintlik na verskillende velsiektes verwys – het dié wat daaraan gely het kulties onrein gemaak. Dit het beteken dat hulle uit die tempel uitgesluit is (en dus nie vir God kon aanbid saam met ander nie). Hulle is ook sosiaal verwerp en uitgesluit. Dit was daarom een van die mees gevreesde siektes van die antieke tyd. Die man vra nie vir Jesus om hom gesond te maak (soos sommige vertalings dit vertaal) nie, maar om hom rein te maak. Gesels saam oor hoe julle dink hierdie man se lewe gelyk het voor hy Jesus ontmoet het. Wat presies vra hy alles van Jesus?
3. Kyk weer mooi na die teks: Jesus vat aan die melaatse man! Wat beteken dit vir jou lewe – die goed waaroor jy “vuil” en/of uitgesluit of verwerp voel?
4. Jesus se “ja” vir hierdie man, is eintlik ‘n “ja” vir almal wat uitgesluit is van die gemeenskap met ander in die teenwoordigheid van God. Hoe laat dit jou voel? Ontevrede? Dankbaar?
5. Wie is die mense wat ons gemeenskappe as “melaats” behandel? Wat sosiaal en/of godsdienstig uitgesluit word? Hoe kan ons met ’n hart soos Jesus teenoor hulle optree?

LEEF
• Waartoe roep die Here jou nou? Hoe gaan jy in die komende week omgee?
• Bid en vra die Gees om jul oë oop te maak vir mense wat verwerp is en om julle in die week te wys waar en hoe julle vir sulke mense kan omgee.
• Het julle kleingroep ’n spesifieke sendeling wat julle ondersteun? Hoe gaan julle die persoon hierdie week ondersteun? Indien julle nie ’n spesifieke sendeling ondersteun nie, bid daaroor, vra die Gees om julle te lei en kies ’n sendeling om aan te neem.

     

Tags: , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment