Skip to main content

Kerkraadsbesluit Oktober 2019

By die Buitengewone Kerkraadsvergadering van 29 Oktober 2019, het die Kerkraad die volgende besluite geneem:

3.1   Die Kerkraad neem kennis van Chris se verklaring

“My verklaring op Facebook was gemik op ’n gesprek oor ’n teologiese beginsel. Ek het die idee dat seksuele oriëntasie ’n teologiese rol in die gesprek moet speel, afgewys. Dit geld alle seksuele oriëntasies. My standpunt is dat seksuele oriëntasie nie sonder meer as ’n gawe van God beskryf kan word nie.

Ek het nie homoseksualiteit en pedofilie in my verklaring gelyk gestel nie. Ek het geen uitspraak oor bestialiteit gemaak in my verklaring nie. Ek maak ten sterkste beswaar teen berigte wat die teendeel beweer.”

3.2  Die kerkraad bevestig hul besluit oor selfdegeslagverhoudings van 2017:

 Besluit

In die kerkraad se gesprekke oor selfdegeslagverhoudings het ons tot die volgende oortuiging gekom, binne die kontoere van die besluit van die Besondere Algemene Sinode van 2016. Ons deel dit graag met die gemeente en wil in gesprek tree hieroor met almal wat graag wil deelneem.

1.        Ons glo dat die Here ons as gemeente geroep het om te “Luister” en te “Leef” aan die hand van die volgende waardes:

  • Ons verwelkom almal (Insluitend)
  • Ons luister na God (Geloofsonderskeidend)
  • Ons is en maak dissipels (Bybelse geloofsvorming)
  • Ons gee om (Verhoudings)
  • Ons reik uit (Gestuur)
  • Ons waag in die geloof (Waagmoed)

2.       Ons bely dat die Bybel ons uitgangspunt in leer en lewe is.  In ons nadenke daaroor soek ons saam na maniere om die Bybelse boodskap betekenisvol binne ons konteks te interpreteer.

3.       Ons erken die diversiteit van beskouings oor selfdegeslagverhoudings binne die gemeente en aanvaar dat gelowiges met diep oortuigings oor selfdegeslagverhoudings dikwels van mekaar verskil.

4.       Ons beklemtoon dat geen mens minderwaardig behandel mag word nie, maar inteendeel, dat alle mense met respek en liefde as beelddraers van God verwelkom moet word. Ons erken die gelykwaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie en verbind onsself tot die bevordering van die Godgegewe waardigheid van alle mense.

5.       Ons is oortuig dat enige persoon wat die genade en liefde van die Here deelagtig is en Jesus Christus as Here bely, ongeag seksuele oriëntasie, ’n volwaardige lidmaat van die kerk is.

3.3  Die kerkraad is diep bewus van al die pyn en hartseer wat die konflik rondom die saak in die gemeente veroorsaak het.

3.4  Die Kerkraad besluit dat die Diensverhoudinge-kommissie ‘n beleid rondom die gebruik van sosiale media formuleer.

3.5  Dat W Nel Sondag, 4 November 2018 die verslag van die kerkraad aan die gemeente voorlê.

3.6  Dat die verslag een keer in die Afkondigings en nuusbrief geplaas word, asook op die gemeente se webtuiste.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.