This page was exported from Somerstrand Gemeente [ https://ngkerksomerstrand.co.za ]
Export date: Sun Nov 18 0:00:57 2018 / +0000 GMT

Johannes 1 Oujaarsdiens Deel die Hoop



Dit is die verhaal van God wat liefdevol uitrek na die wêreld – 'n verhaal van onwaarskynlike rolspelers. Van Josef, 'n timmerman.  Maria, 'n jong meisie.  Herders.  Vreemdelinge uit 'n vreemde land.

Van Johannes.  Markus se beskrywing beeld hom uit as 'n vreemde, onwaarskynlike karakter, met kameelhaar-klere wat leef van veldheuning en sprinkane.

Ook van my; en jou. Onwaarskynlike karakters wat God kies, red en stuur.  Wanneer ons deur Advent gewag het op hoop, oor Kersfees herinner is aan ons hoop – dan stuur God ons om in die nuwe jaar as agente van hoop te leef.

Niemand voel opgewasse tot hierdie taak nie!  Ons voel ons weet nie genoeg nie.  Of ons doen te veel sonde.  Kan nie genoeg Bybelverse aanhaal nie.  Is self te bang en broos en onseker.

Tog... God kies ons, in ons swakheid en broosheid en vrees en onsekerheid.  En God stuur ons.

Refleksie oor 2017

Ek onthou verlede jaar hierdie tyd het almal grappies gemaak oor 2016, oor hoe erg die jaar was en hoe almal nie kan wag vir die jaar om verby te wees nie.  Toe kom 2017... en dis amper soos daardie grappie, asof 2017 gehoor het wat mense oor 2016 sê en toe sê: “hold my beer”.

2017 was die jaar van vloede, brande en droogte.  Daar was die ernstige oorstromings in o.a. Durban.  Die brande in Knysna – en ook in ons eie stad – sal in die geskiedenisboeke geteken staan as van die grootste natuurrampe wat ons land nog beleef het.  Saam met van die ergste droogtes ooit.

Dit was ook die jaar van korrupsie en staatskaping en #guptaleaks.  Die jaar van Ministers van Finansies.

Die jaar – of dan nou juis nie die jaar – van KPMG en Steinhoff, waar ons ontdek het dat korrupsie baie wyer en dieper strek as net die staat.

Dit was ook die jaar van mense wat opstaan teen korrupsie. Die jaar van “Zuma must go”, die jaar waarin selfs wit mense begin betoog het.  Die jaar van fluitjieblasers, van mense wat korrupsie ontbloot en beveg tot op die hoogste vlakke.  Dit was die jaar van dapper mense, van mense wat vasskop en opstaan teen onreg, al word hulle geïntimideer.

2017 was die jaar met Swart Maandag, waar hierdie land se burgers saamgestaan het teen gruwelik geweldsmisdaad.

Die Knysna brande het, te midde van die as en die puin, die beste van Suid-Afrika gewys.  Ons medemenslikheid, ons vermoë om saam te staan en mekaar te dra, het helderder geskyn as die vlamme.

Maar natuurlik was daar nie net drama op nasionale en internasionale vlak nie.  In elkeen van ons se klein lewetjie het daar ook allerhande dramas en hartseer en vreugdes afgespeel.  Oorgange, siekte, geboorte, diagnose, prestasie, verlies, vrees.

As jy 2017 met een woord moet beskryf, wat sal daardie woord wees?  Een woord om hierdie jaar en jou ervaring van hierdie jaar saam te vat?

Paar oomblikke van stil gebed en refleksie, nadink 2017, die woord in jou hart opkom, met God daaroor praat.

Toetrede

Lied 562 Aan U, o God, my dankgesange

Votum

(n.a.v. Lied 556)

Vervul ons hart met dankbaarheid

waar ons nou tot U nader;

verkwik deur u weldadigheid,

kom ons tot U, ons Vader.

Hoe juig ons hart 'n danklied uit

vir hierdie nuwe hede;

ons eerste lied is dankbaarheid,

u lof ons eerste bede!

Seëngroet

Aan die einde van een jaar en die vooraand van die volgende, groet ek julle in die Naam van die Drie-enige God en herinner ons mekaar van God se voortdurende teenwoordigheid, in die jaar wat byna verby is én in die jaar wag kom.

Lofsang

Lied 335 Die Heiland is gebore

Toewyding

Een van Leesrooster Lectionary tekste van vandag, is Galasiërs 4:4-7.  Dis 'n belangrike woord om ter harte te neem as ons terugkyk oor die afgelope jaar – en vooruit kyk na die komende jaar.

4Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit 'n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe 5om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. 6En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader! 7Jy is dus nie meer 'n slaaf nie; jy is nou 'n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.

Sang

Vonkk 104 Wat 'n vriend het ons in Jesus

Gebed vir 2018

Jy het aan die begin gedink aan een woord wat 2017 beskryf.  Dink nou aan een woord wat jou gebed of hoop vir 2018 sal beskryf. Neem daardie woord in stilte as gebed na God.

Stilte... Wit kers word aangesteek

Gebed

(n.a.v. Lied 554)

Diep uit ons hart, o Vader,

Bring ons U lof en dank.

Ons kom met blydskap nader;

Dien U, ons lewe lank.

U neig u oor tot ons,

U luister na ons bede.

 

U het ons uit genade

Getrou bewaar –

Teen ramp en skrik en skade,

Teen elke groot gevaar.

Ons is aan U verbind,

Aan U behoort ons dae.

Met al ons twyfelvrae

Bly ons steeds u kind.

Skriflesing

Kersdag eerste deel van Johannes 1 gelees, die proloog, byna sood die koor in 'n Griekse tragedie, wat almal in die verhaal innooi en die grond lê vir die ontkonping.

Nou begin die aksie:  Johannes 1:19-34

Video

Heaven Breaks Through uit The Jesus Storybook Bible

Preek

Die seemeeu-sendeling

In Oktober 1942 het die B-17 Flying Fortress se brandstof opgeraak en in die see geval.  Vir die volgende maand het 9 bemanningslede op drie reddingsbootjies in die see rondgedryf.  Hulle moes hitte, stormsee en haaie trotseer.  Na 8 dae was hulle kos op.

Een van die bemanningslede, John Bartak, het voortdurend alleen gesit en Bybel lees, of soms hardop vir almal gelees.  Tot 'n ander bemanningslid, James Whittaker, se erge ergernis. Whittaker was 'n ongelowige en die vliegongeluk het net sy ongeloof en woede versterk.

Een oggend, na so 'n gesamentlike Skriflesing, het die kaptein, Eddie Rickenbacker, kop agteroor teen die bootjie geleun en sy hoed oor sy oë getrek.  'n Voël het op sy kom, kom sit.  Hy het onder sy hoed uitgeloer.  Alle oë was op hom.  Hy het instinktief geweet dis 'n seemeeu.

Rickenbacker het die voël gevang en hulle het dit geëet.  Die ingewande het hulle gebruik om mee vis te vang.  En so het hulle oorleef om die verhaal te vertel.

Maar die storie is nie die vliegramp of die seemeeu nie.  Die wonderlike deel van hierdie storie is dat Whittaker, die geharde ateïs, op daardie oomblik toe die seemeeu op Rickenbacker se kop kom land, tot bekering gekom het.

Want dit is hoe God werk.

Die res van die wêreld is besig met Duitsland en Hitler, koerantopskrifte roep oor Roosevelt en Churchill.  Die wêreld is gewikkel in stryd... maar op die Stille Oseaan stuur God 'n voël om 'n sendeling te wees.

Onwaarskynlike rolspelers

Want dit is die verhaal van God wat liefdevol uitrek na die wêreld – 'n verhaal van onwaarskynlike rolspelers. Van Josef, 'n timmerman.  Maria, 'n jong meisie.  Herders.  Vreemdelinge uit 'n vreemde land.

En Johannes.  Markus se beskrywing beeld hom uit as 'n vreemde, onwaarskynlike karakter, met kameelhaar-klere wat leef van veldheuning en sprinkane.

Ook ek; en jy. Onwaarskynlike karakters wat God kies, red en stuur.  Wanneer ons deur Advent gewag het op hoop, oor Kersfees herinner is aan ons hoop – dan stuur God ons om in die nuwe jaar as agente van hoop te leef.

Niemand voel opgewasse tot hierdie taak nie!  Ons voel ons weet nie genoeg nie.  Of ons doen te veel sonde.  Kan nie genoeg Bybelverse aanhaal nie.  Is self te bang en broos en onseker.

Tog... God kies ons, in ons swakheid en broosheid en vrees en onsekerheid.  En God stuur ons.

Johannes doop in Betanië

Nou is hier 'n interessante brokkie inligting in die teks, wat ek moet bieg, ek voor hierdie week nog nooit so opgelet het nie.  Die teks noem so half terloops:

28Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop.

Betanië.  Teen die tyd weet ons dat geografie, in God se verhaal met die mense, saak maak.

Betanië, waar Simeon die Melaatse gewoon het (Matt. 26, Mark 14).  Dit is vanuit Betanië dat Lasarus se familie vir Jesus laat weet dat Lasarus sterwend is (Joh 11).

Geleerdes stry vreeslik – soos wat hulle maar doen – oor die oorsprong van die naam “Betanië”.  Een moontlikheid is dat dit 'n Siriese woord is, wat “Huis van smart” of “arm-huis” beteken.  In van die ou Joodse geskrifte word dit beskryf as “huis van ellende”.  Of dit kan 'n Latynse verbuiging van Aramees wees, wat dan ook “huis van armoede” sal beteken.

Alle stryery ten spyt, wat ons wel met redelike sekerheid weet, is dat Betanië 'n plek was waar siekes en armes versorg is.  Nie omdat almal so baie vir hulle omgegee het nie, maar omdat hulle die samelewing se “untouchables” geraak het.

Die konsep van “untouchables” is vandag nog bekend in Indië, waar sekere kaste verstoot word. Niemand mag saam met hulle eet of dieselfde eetgerei as hulle gebruik nie.  Hulle mag nie op dieselfde plekke sit of staan nie, mag nie in die tempels kom nie, dieselfde paaie gebruik of op dieselfde plekke begrawe word nie.

So het die Jode ook sekere mense hanteer.  Veral melaatsheid is so hanteer.  Betanië val presies binne die Joodse wette van hoe ver sekere siekes van mense af moet wees.  Dit was 'n gemeenskap van verworpenes, siekes en armes, untouchables.  Dis waarheen jy gaan om dood te gaan.

Dit is hierdie mense, insinueer vandag se Skriflesing, wat deur Johannes gedoop is.  Johannes het die onrein, untouchable, sterwende mense aangeraak en gewas.

Ons prentjie van Johannes is altyd – waarskynlik gebaseer op Matteus se vertelling – dié van 'n woedende profeet wat op mense gil en skree en hulle uitskel.  En dis waar, hy het mense uitgeskel – die godsdienstige leiers, die Fariseërs en Sadduseërs.

Vir die gewone mense het hy aanvaarding gebied, waardigheid. Hoop.

Wys na Christus, ons hoop

Johannes sê vir die mense:  Dáár is die Lam van God.  Elke keer wat ek hierdie woorde lees, sien ek in my gedagtes die stukkie van die Isenheim Altaar, waar Johannes se vinger so prominent wys na Jesus aan die kruis.

Uiteindelik is dit ons elkeen se roeping:  om te wys na Christus.  Om te sê:  Dáár is die Lam van God.  Daar is die Lig vir die wêreld.  Daar is ons hoop.

En dit maak eintlik nie saak wie jy is, of hoe dapper jy voel en hoe belangrik jy is nie.  Jy kan 'n skaapwagter wees, of 'n seemeeu – maar jou vingertjie moet wys na Christus, ons hoop.

En dan kan jy sê:  ag tog!  Hier aan die einde van die jaar laat die dominee my al weer net skuldig voel!  Want ek weet nie hoe nie, ek weet nie eers waar op te begin nie!

Leef hoop

Jy wys na Christus, ons hoop, deur hoop te leef.  Ons het die laaste 4 weke baie gepraat oor hoe 'n mens dit doen.

Leef liefde en barmhartigheid

Dit beteken ook dat jy mense na Christus kan wys, na die hoop kan wys, deur liefde en barmhartigheid te leef.  Deur jou eie broosheid en ander se broosheid te aanvaar en dan, in jou broosheid, na ander uit te reik.  Jy hoef hulle nie gesond te maak of al hulle probleme op te los nie.  Dikwels is al wat mense nodig het om weer te hoop, iemand wat untouchables aanraak.  Deur mense raak te sien, met waardigheid te behandel, wys jy hulle na Christus, die bron van ons hoop.

Vertrou God

Derdens wys jy daardie krom vingertjie na God, deur self op God te vertrou.

Om op God te vertrou is weereens een van daardie goed wat ons so maklik misvorm en in 'n wet verander.  Vertroue is nie 'n reël nie.  Dis nie 'n swaard wat jou dreig en sê jy moet jou vrees ontken en maak asof jy glad nie broos en kwesbaar is nie.  Vertroue is om te erken dat jy kwesbaar, weerloos is.  Om te erken dat jy bang is.  En om, in jou broosheid en vrees, op God te vertrou.

Vertroue is om te leer om te sien.  Om nie vas te kyk in die vuuroond of die droë bene nie, maar om die klein oomblikke van genade tussen die droë bene, in die brose vlees raak te sien.  Om te midde van die brande en die droogte en die korrupsie en die haat, liefde te sien, genade te sien, sorg en barmhartigheid te sien.  God te sien.

Al is jy bang.  Al bly jy bang.  Jou vrees hang nie onheilspellend in die lug rond nie.  Jy kan jou vrees en jou broosheid in die rigting van God draai en hom vertrou.

Hoe lyk die God na wie jy wys?

Hier is my vraag dan, vir 2018.  Nie of jy na God gaan wys nie – want jy gaan dit in elk geval doen.  Mense weet dat jy 'n gelowige is.  Jou lewe getuig, of jy dit doelbewus doen of nie.

Dit vraag is, hoe lyk die God van wie jou lewe getuig?

Hoe wys jou gedrag vir Jesus?  En hoe lyk daardie Jesus?

Wat sal verander as jy elke dag doelbewus besluit dat jy net vir een oomblik in daardie dag met jou gedrag na Jesus wil wys?

2018

Jy het aan die begin gedink aan 'n woord wat jou hoop en/of gebed vir 2018 verwoord.  Kan ek jou nooi om daardie woord nie net 'n gebed van hoop vir jouself te maak nie, maar ook vir die mense wie die Here in 2018 oor jou pad bring.

Mag jou lewe in 2018, tussen die stampe en stote en broosheid deur, 'n vinger wees – al is dit soms 'n krom, bewende vingertjie – maar steeds, 'n vinger wat in hoop en liefde, na Christus wys.

Gebed

Slotsang

Vonkk 124 verse 1 en 3 Jesus bring vreugde

Seën

Mag jy in 2018 'n krom vingertjie wees, wat wys na ons hoop.  Onthou:  Die Vader se liefde sal ons lei;  die Seun staan ons genadig by; die Gees sal ons in waarheid leer;  mag ons lewens die drie-enige God eer.  Amen.

Respons

Lied 189 Halleluja!

 

 


Post date: 2017-12-31 10:02:18
Post date GMT: 2017-12-31 08:02:18
Post modified date: 2018-03-01 12:58:48
Post modified date GMT: 2018-03-01 10:58:48

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com