Skip to main content

JAAR VAN DIE BYBEL 2020

Bybelgenootskap vier vanjaar hulle 200ste verjaarsdag. In November kom daar ook ‘n splinternuwe Afrikaanse vertaling, die Bybel Direkte Vertaling, of kortweg, die 2020-Bybel.

Ons vier hierdie Jaar van die Bybel met ‘n Eenjaar Bybelleesprogram.

Lees die Bybel deur in 2020!

Lees vier hoofstukke per dag uit die OT en NT om die Bybel in een jaar deur te lees.

  1. Die gedeeltes uit die OT bevestig jou in die verhaal van God se seën vir almal en alles wat bestaan.
  2. Die gedeeltes uit die NT bevestig jou in die verhaal van Jesus en sy kerk wat die boodskap van verlossing na alle nasies toe neem sodat hulle die ewige lewe kan beërwe deur geloof en gehoorsaamheid.
  3. Die gedeeltes uit Psalms vorm daagliks jou gebede.
  4. Die gedeeltes uit Spreuke vorm daagliks jou lewe.

Laai hier af: Pdf – in vier kwartale opgedeel
Ook beskikbaar in gedrukte vorm by kerkkantoor.

GETUIENISSE VAN ONS LIDMATE WAT DIT REEDS VOLG

Ek het lidmate gevra wat die leeswerk vir hulle beteken en of ek moet aanhou om my daaglikse Whatsapp boodskap te stuur. Hier is van hulle antwoorde:

(as jy nog wil inskakel, stuur net vir my jou selnommer na nul-agt-twee-574-9191 met jou naam en van, en lys my as ‘n kontak op jou selfoon sodat jy my whatsapps kan ontvang)
1. Ja, groot asseblief  ….gaan net so voort. Nuuskierigheid maak dat jy tog na alles kyk en ‘n gevoel kry van die Bybel as eenheid. My ma.

2. Jou bydraes moet VERSEKER voortgaan!!!! ek moet egter beaam dat, alhoewel ek alles lees, ek ook baie meer verdiep raak in die OT/NT verhale en my opsommings wys dit. ek gaan beslis nou ook omswaai en Spr 1e lees. Baie baie dankie vir jou reuse aandeel om 2020 die jaar van die Bybel (jou oproep aan ons) vir my te maak! GOD IS GROOT, GETROU EN BAIE GEDULDIG MET MY. Hannie.

3. Ja asb gaan voort! Ek geniet die opsomming … Dalien.

4. Ek waardeer jou bydraes maar die Psalms beteken vir my op hierdie stadium baie elke dag. Nogmaals Dankie. Mooi aand vir julle. Liésl.

5. Gaan asseblief voort. Ek het van die begin met Sp begin,dan Ps dan Mat en dan Gen. Ryke verskeidenheid met waarhede. Eben.

6. Baie dankie Chris. Soos met die jarelange Bybelskool is hierdie leesprogram nog ’n manier om op ’n gedissiplineerde manier elke dag met die Bybel besig te wees. Ek het dit nodig in my lewe. Jou kommentaar is altyd waardevol as jy dit kan volhou. Dalene

7. Ek geniet OT verhale net so baie maar bly nog by. Sal dalk ook my lees omskakel om Spr en Ps eerste te lees. Sal sien hoe dit gaan as ons terug by huis is met ander roetine. Jou bydrae in die oggend is motivering vir my om te lees. Ursula.

8. Chris baie dankie vir jou daaglike stukkies. Dit gee lig op baie vd gedeeltes wat ons behandel.  Hou so aan as jy kan..ons beide is betrokke en een lees hardop voor uit die Bybel, die ander een lees jou insette, so kan ons saam gesels oor dit wat ons lees, amper soos ons eie selgroepie tuis. Ons voel ook soms dis te veel vir saans en het nou begin om soggens Gen te lees want die storie is so interressant. Maar dan is Matt net so lieflik en Psalms gee die stilte en gebede vir elke dag, maar Spreuke bly die boek met al die lesse en leringe vir ons lewens elke dag   ….  Ons ook het al die Bybel n paar keer van voor tot agter deur gelees, maar jou manier van 4 boeke  op 1 slag is baie interressant …baie dankie. Poppie en Paul

9. Oh ja, Chris!! Jou bydraes beteken baie vir my en ja, ek raak ook in party dele vasgevang, maar dis die  idee, dink ek!  Ek dink God self weet wat ek vir die spesifieke dag nodig het!  Ek raak net nie angstig as ek nie by als kom nie.  Baie dankie vir al jou hulp en input! Biffy.

10. Dankie Chris dit is ‘n wonderlike wegwyser. Ek lees oggende die OT en die Ps en dan raak ek stil en praat met my Vader. Ek doen Mat en Spreuke saans. Moet asb nie ophou nie….dit is so wonderlik. Nellie.

11. Jou insette is vir my baie werd. Daar kom altyd iets te voorskyn wat ek nie tevore raakgesien het nie.  Ek lees graag Genesis en Matteus saam en raak opnuut bewus van die wonder van God die Vader wat van die grondlegging van die aarde af in beheer bly en dan God  die Seun, Jesus wat in die NT steeds die goue draad van God se genade aan ons openbaar. Ek is veral diep geraak deur jou woorde by 11Januarie: “God se wil word in ons eie keuses verwerklik”(oor Esau se keuse)  Ek skryf maar in n joernaal neer as daar iets is wat ek raaklees ‘asof vir die eerste keer!’ , sodat ek later daarheen kan terugkeer. Ek lees dan Spreuke en Psalms soms op ander tyd deur die dag met n ander ingesteldheid, soos om stil te word in gebed of bepeinsing. Dit is vir my ook baie spesiaal om te weet daar is n hele klompie mense wat elkedag  stilstaan by dieselfde Skrifgedeeltes. Ek het die Bybel natuurlik al paar keer in my lewe deurgelees maar nooit op hierdie manier nie.  Baie dankie vir die geleentheid wat jy vir ons geskep het , Chris! Ek besef jou werklas gaan weer toeneem en dat jy dalk bietjie moet afskaal . Weet net, ons het groot waardering! Vinie.

12. Hello Chris, ek het ook gevind ek raak so verdiep in die OT, dat ek eintlik die NT afskeep. Ek het toevallig in Desember (en in my voordeel!) die NT klaargelees; dus is dit redelik vars in my geheue en kan ek meer fokus op Spreuke en Psalms. Ek het gevind dat hierdie volgorde vir my werk: Psalms en Spreuke in die oggend. Ek bou my gebede rondom Psalms en gebruik Spreuke om my “straatslim” vir die dag te maak. Saans fokus ek op die OT en sluit af met jou waardevolle en baie interessante insette en opsommings vir nabetragting (baie dankie daarvoor Chris….. en as jou tyd dit toelaat, sal jou verdere bydraes baie waardeer word).  Jy is welkom om my program met ander in die groep te deel. Groete, Philip

Eenjaar Bybelleesprogram 2020

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.