HOOGLIED 8:5-14 – Week 2

RUS EN ONTVANG

  • Gesels met mekaar oor julle ervarings rondom die huwelik.  Op watter maniere het dit julle gebou en julle menswees laat groei.
  • Word stil en laat iemand met ‘n gebed open.

HOOR EN ONTGIN

Lees Hooglied 8:5-14

  • Wat tref jou in die gedeelte?  Deel dit met mekaar.

Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:

Die huwelik groei uit die liefde en is gebaseer op wederkerigheid en interafhanklikheid.  In hierdie perikoop kan ‘n mens die volgende aspekte van die liefde raaksien:

  • Ondersteuning: Waar die vrou as bruid in 3:6 alleen uit die woestyn kom na die bruidegom toe, kom sy hier in die geselskap van haar man daarvandaan, en sy leun op die man wat sy liefhet (8:5a).  Dit is ‘n pragtige beeld van die ondersteuning wat ‘n liefdesverbintenis onderling aan lewensmaats bied.
  • Hartstog: Die liefdesverbintenis maak hartstog vir mekaar “wakker” (8:5b) en word in seksualiteit uitgeleef (2:7; 3:5; 4:16; 8:4).  Sulke liefde kan dus nie gekoop word nie.  Mense wat dit dink, sal met reg uitgelag word.  Sulke hartstogtelike liefde kom net tot sy reg in die geborge ruimte van ‘n familie (8:5b – verwysing na die [skoon]ma!).
  • Geborgenheid: Die vrou gee haarself om soos ‘n seëlring  op sy bors of arm vasgehou en gedra te word (8:6a).  Die seëlring was ‘n bewys van identiteit, ‘n kosbare besitting, wat ook in die sluit van kontrakte gebruik is (Gen 38:18; 41:42; Est 3:10).  Haar oorgawe aan hom skep dus vir hulle ‘n nuwe identiteit.  Sy word sy kosbare besitting.  Sy vertroeteling van haar as ‘n seëlring op sy bors en aan sy arm sê eweneens dat sy vir hom kosbaar is.  Sulke wedersydse liefde gee ‘n diep gevoel van geborgenheid in die lewe.  Dit gee aan hulle albei ‘n vaste plek in die lewe, ‘n fondament vanwaar hulle regtig met oorgawe kan lewe.
  • Sekuriteit: Die liefde is “sterker as die dood”; die hartstog daarvan is “magtiger as die doderyk”; dit “brand en vlam soos vuur”, en kan nie deur strome water of riviere geblus of afgekoel word nie (8:6b-7).  Die liefde gee ‘n sekuriteit en beskerming wat selfs – by wyse van spreke – die dood kan trotseer!
  • Selfstandigheid: Die liefde kan nie gekoop word nie (8:7b), en kan nie afgedwing word nie (8:12).  Daarom is dit so belangrik dat die vrou (en man) self besluit aan wie sy (hy) wil behoort (nie haar broers of vriende nie – 8:8-9), en wie sy (hy) gelukkig wil maak (8:10).  Die liefde is daarom altyd ‘n selfstandige keuse wat kom uit eie oortuiging, iets waaraan jy jouself getrou en lojaal verbind hou.
  • Uniekheid: Die liefde beteken ook om uniek vir iemand ander wees, om net aan een ander te behoort.  Een interpretasie van die wingerd van Salomo in Baäl-Hamon, is dat dit ‘n simbool was vir sy harem, waaruit hy ‘n opbrengs van kinders verwag het , en daarom wagte aangestel het om dit te beskerm (8:11).  Die Sulammitiese vrou kies egter teen die insluiting in die harem (8:12) en vir persoonlike wedersydse liefde (8:13).
  • Interafhanklikheid: Die liefde het sy uitdagings en teleurstellings vanweë misverstande en behoeftes wat verskil, selfs ook weens die pogings tot beheer deur onderlinge magspeletjies, soos ons in 5:1-6:3 kan sien.  Die enigste manier om dit die hoof te bied, is om doelbewus te kies om interafhanklik te wees (8:13-14 – vers 13 kan vertaal word dat dit die stem van die man is, en vers 14 die stem van die vrou).  “Die liefde is om om te gee vir ‘n ander terwyl jy ook sorg dra vir jouself” (Landman).

Bespreek.

LEEF EN ONTPLOOI

  • Deel met mekaar wat jy vandag van die huwelik en die liefde geleer het.  Hoe help die teks jou om anders te dink daaroor?  Waartoe roep die Here jou nou?
  • Sluit af met ‘n gebed.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.