Groei saam – 1 Tes. 5:1-11

Die animasie fliek Antz

Groei saam - 28 SeptemberWie het die 1998 animasie fliek Antz gesien van Dreamworks?

Dit was die eerste keer dat ek ’n neurotiese mier in terapie gesien het!  Die verhaal speel af in ’n kolonie miere in Central Park New York.  Z-4195 – briljant vertolk deur Woody Allen – filosofeer oor die lewe in ’n mier-kroeg en ontmoet die meisie van sy drome, prinses Bala.

Sy wil egter niks met hom te doene hê nie, en hy sluit by die weermag aan om haar weer te siene te kry.  In ’n geveg met termiete word almal uitgewis, behalwe Z.  Hy word as ’n held vereer en ontmoet só weer vir prinses Bala.

Generaal Mandible is egter besig om in die geheim te beplan om met prinses Bala ’n ander kolonie te stig, een wat op militêre wyse deur hom regeer sal word.  Hy wil van al die gewone werkers ontslae raak en net met die soldate voortgaan.

Z sien egter deur sy planne en kry dit reg om met die hulp van al die gewone miere generaal Mandible se planne in die wiele te ry.  Z trou met Bala en transformeer die kolonie miere in ’n gemeenskap waar elke mier se lewe en bydrae waardeer word.

Hulle het agtergekom, hulle is beter saam!

’n Gemeente is ’n gemeenskap van gelowiges

Dié fliek is ’n metafoor vir die lewe.  Ons floreer as ons elke mens se lewe en bydrae waardeer.  As ons mekaar insluit.  As ons vir mekaar omgee. Ons is beter saam as apart.  Ons doen beter saam as apart.

Dit is ook waar van ’n gemeente. Ons floreer as gemeente as ons elke gelowige se lewe en bydrae waardeer.  As ons mekaar insluit.  As ons vir mekaar omgee. Ons is beter saam as apart.  Ons doen beter saam as apart.  Ons groei beter saam as apart.

Hier volg die hele erediens:

Verwelkoming

  • Amos en Linda Ngalimani se seun is in die hospitaal met geelsug. Die doop is dus uitgestel.  Kom ons bid vir hulle.
  • Kerkraadsvoorstelling: Joubert Loots sal vanaand voorgestel word. Janneke Jacobs vanoggend.  Hulle twee se name moet net bygevoeg word by die lys van ouderlinge en diakens.
  • Ek skop vandag die Reisgenote in geloofsvorming reis van 100 dae af met dié wat daarin begelei wil word. Moet dit nie misloop nie!
  • Kleingroepe – materiaal en dagstukkies op die web by Bronne op die spyskaart.
  • Bybelskool 4de kwartaal – Hebreërs, Jakobus, 1 en 2 Petrus en Judas – gaan fokus in die bespreking elke Woensdagaand op sleutel Christelike kwessies. Ses van dié temas is ook die onderwerpe vir ons eredienste, soos ons binnekort sal bekendmaak:
    • Hoe praat God met ons?
    • Watter rol speel tekens, wonders, kragtige dade, en gawes van die Heilige Gees?
    • Hoe hanteer ons die gevaar van ongeloof (praktiese ateïsme) en die verleiding van sonde?
    • Watter rol speel die Christelike leer in ons geloof?
    • Hoe hanteer ons die behoefte aan melk en nie vaste kos nie in die gemeente – d.w.s. die volgende ses dinge oor die basiese prediking oor Christus: die bekering van dooie werke, van geloof in God, van dooponderrig, oplegging van hande, opstanding uit die dood en van ewige oordeel?
    • Hoe werk God in ons verstand, hart en gewete?
    • Hoe kan ek geloofsekerheid hê?
    • Hoe weet ons God bestaan en dat Hy dié beloon wat Hom soek?
    • Hoe kan ons weerstand bied teen die sonde, en nie moedeloos raak as die Here

Toetrede

Flam 120 – Hy is Heer vv.1,2,3

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 219 – Laat ons sing van ons Verlosser vv1,3

Flam 286 – As ek u hemel aanskou ×2

Kindertyd

Toewyding

Lied 222 – Loof die Here God: Afrikaans, English, Afrikaans

Lied 528 – Leer my u wil, Heer vv1,2,3

Gebed

Skriflesing

Paulus het ’n reuse nalatenskap vir ons in die vorm van sy briewe in die Nuwe Testament gelaat.  Dié werk was selfs van groter belang as die 3 groot sendingreise wat hy onderneem het.  Sy briewe het ’n onberekenbare groot invloed gehad in die lewe nie net van die groeiende kerk van sy tyd nie, maar regdeur die eeue tot vandag toe nog in die breë Christelike kerk.

Die briewe aan die Tessalonisense is die eerste twee briewe wat hy geskryf het, in die vroeë 50er jare van die eerste eeu, so 16 jaar ná sy bekering.  Hy het Tessalonika (vandag Salonika, tweede grootste stad in Griekeland), net ’n paar weke lank besoek, tydens sy tweede sendingreis, net na die eerste “sinode”-sitting in Jerusalem (Handelinge 17:1-9).

1 Tessalonisense 5:1-11

1 Oor die tye en geleenthede, broers en susters, is dit nie nodig dat ons aan julle skryf nie, 2 want julle weet self baie goed dat die dag van die Here soos ‘n dief in die nag kom. 3 Wanneer hulle sê, “Daar is vrede en veiligheid,” kom vernietiging skielik oor hulle, soos geboortepyne ‘n swanger vrou oorval, en hulle sal beslis nie ontkom nie. 4 Maar julle, broers en susters, is nie in die duisternis nie, sodat dié dag julle nie soos ‘n dief sal oorval nie. 5 Julle is immers almal kinders van die lig en kinders van die dag. Ons is nie van die nag of die duisternis nie. 6 Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar waaksaam en sober wees! 7 Want hulle wat slaap, slaap snags en diegene wat hulle dronk drink, doen dit snags. 8 Laat ons wat van die dag is egter sober wees, omdat ons die borsplaat van geloof en liefde, en die helm van hoop op verlossing, aangetrek het. 9 Want God het ons nie tot veroordeling bestem nie, maar om deur ons Here Jesus Christus verlossing te verkry, 10 Hy wat ter wille van ons gesterf het, sodat ons, of ons wakker is of slaap, saam met Hom kan leef. 11 Daarom, bemoedig mekaar en laat die een die ander in die geloof opbou, soos julle inderdaad doen. (BDV)

Woordverkondiging

Die animasie fliek Antz

Wie het die 1998 animasie fliek Antz gesien van Dreamworks?

Dit was die eerste keer dat ek ’n neurotiese mier in terapie gesien het!  Die verhaal speel af in ’n kolonie miere in Central Park New York.  Z-4195 – briljant vertolk deur Woody Allen – filosofeer oor die lewe in ’n mier-kroeg en ontmoet die meisie van sy drome, prinses Bala.

Sy wil egter niks met hom te doene hê nie, en hy sluit by die weermag aan om haar weer te siene te kry.  In ’n geveg met termiete word almal uitgewis, behalwe Z.  Hy word as ’n held vereer en ontmoet só weer vir prinses Bala.

Generaal Mandible is egter besig om in die geheim te beplan om met prinses Bala ’n ander kolonie te stig, een wat op militêre wyse deur hom regeer sal word.  Hy wil van al die gewone werkers ontslae raak en net met die soldate voortgaan.

Z sien egter deur sy planne en kry dit reg om met die hulp van al die gewone miere generaal Mandible se planne in die wiele te ry.  Z trou met Bala en transformeer die kolonie miere in ’n gemeenskap waar elke mier se lewe en bydrae waardeer word.

Hulle het agtergekom, hulle is beter saam!

’n Gemeente is ’n gemeenskap van gelowiges

Dié fliek is ’n metafoor vir die lewe.  Ons floreer as ons elke mens se lewe en bydrae waardeer.  As ons mekaar insluit.  As ons vir mekaar omgee. Ons is beter saam as apart.  Ons doen beter saam as apart.

Dit is ook waar van ’n gemeente. Ons floreer as gemeente as ons elke gelowige se lewe en bydrae waardeer.  As ons mekaar insluit.  As ons vir mekaar omgee. Ons is beter saam as apart.  Ons doen beter saam as apart.  Ons groei beter saam as apart.

Ons selgemeente het die afgelope paar maande die Reisgenote in geloofsvorming reis met mekaar onderneem.  En ek kan ongekwalifiseerd sê, dit was vir my persoonlik ’n verstommende reis van geloofsvorming.   Ek het dinge daar geleer wat ek op geen ander plek sou leer nie.

Hoekom?  Want elkeen van ons kyk op verskillende maniere na die geloof.  Ons ervaar die Here op verskillende maniere.  En deurdat ons elkeen ons unieke geloofstories vir mekaar oor vier maande op gestruktureerde wyse vertel het, het dit gehelp dat ons ons eie geloofstorie in die lig van ander s’n kon beoordeel.

  • Ek onthou hoe ons oor ’n krisis gesels het wat die een egpaar ervaar het, saam gebid en selfs gehuil het. Net om ’n volgende keer te hoor hoe die Here ’n krisis wat oor baie jare gekom het in ’n ander egpaar se lewe, volledig opgelos het.  Ons het die Here daarvoor gedank, net om agter te kom dat die twee stories met mekaar verband hou.

Die feit dat die Here ’n krisis kon oplos, al het dit jare gevat om te gebeur, het moed en hoop gegee dat hy dit ook in die huidige krisis sou kon doen.  En hoewel dit ’n voortgaande storie is, is die Here nou stap vir stap besig om helderheid en lig te bring.

  • Ek onthou hoe een van ons lede ’n gebedsjoernaal begin het en met verloop van tyd vir ons van gebedsverhorings vertel het. Dit was ’n openbaring van God se teenwoordigheid in die lewe.  Dit was ’n getuienis van ’n God wat op presiese en innoverende wyses besig was en deur die gebede sy werk gewys het vir ons.
  • Ek onthou ook hoe dié gebedsjoernaal al hoe meer ’n luister karakter ingeneem het, van ’n lysie na die Here bring – wat Hy geantwoord het! – na ’n houding van afwagting. Dit was besonders om te sien.
  • Ek kon ervaar hoe die Here my lewe deur die Jesus-gebed en later die beoefening van die geloofsgewoonte van die Sabbat verander het. En hoe ek vir die eerste keer in my bediening hier kon ervaar dat ek SAAM met mense groei, nie net inbou in ander se lewe nie.

Kosbaar, verrykend, lewensveranderend, verootmoedigend.  En ons het dit SÁÁM GEDOEN.  Ons het SÁÁM GEGROEI.

Dit is immers wat dit beteken om ’n gemeenskap van gelowiges te wees.  ’n Gemeente is ’n gemeenskap van gelowiges.

Paulus se bediening in Tessalonika

Dit is immers wat ons lees van al die gemeentes in die NT.

Handelinge 17 vertel vir ons die verhaal van een van dié gemeentes wat gestig is deur Paulus se bediening in Tessalonika.  Ons lees daar dat hy soos gewoonlik begin het met ’n besoek aan die sinagoge en drie Sabbatdae na mekaar op die boodskap van die lyding en opstanding van Jesus gefokus het, wat vir die Jode die bewys was dat Hy die Christus, die Messias is.

’n Aantal Jode, onder andere Jason in wie se huis Paulus tuisgaan, sowel as ’n hele aantal godvresende Grieke en ’n aansienlike aantal vooraanstaande vroue, kom tot bekering. Maar die bekering van sommige Jode stuit die meerderheid ander Jode teen die bors.  Hulle kom in opstand hieroor en hits die stadsbestuur aan om teen Paulus-hulle op te tree.

Hoewel die stadsbestuur egter weier om te streng op te tree, vertrek Paulus-hulle na drie weke verder op hulle reis. Die kern van ’n florerende gemeente in Tessalonika was egter in dié kort tydjie gevorm.  Ons lees dat ook van die Grieke tot bekering kom en by die gemeente aansluit.

Paulus se briewe aan die Tessalonisense

Na Paulus se verdere bediening in Berea en Atene kom hy in Korinte aan waar hy 18 maande lank bly en in die gemeente leiding neem (Hand 18:11).  Omdat hy so min tyd gehad het om die gelowiges in Tessalonika te bemoedig, en onseker was oor die impak wat die evangelie op hulle lewens sou hê, het hy eers uit Atene vir Timoteus gestuur om uit te vind hoe dit met hulle gaan.

Nadat hy berig ontvang het oor hulle standvastigheid in die geloof, skryf hy dus hierdie eerste brief vanuit Korinte (Hand. 18; vgl. 1 Tess. 3).  Die terug rapport moes hom baie bemoedig het, want die geloofsgroei by die gemeente het vir hom gesê dat hulle werk nie tevergeefs was nie, al was dit maar net drie weke lank.

Sy doel met die brief is daarom om hulle te help om as ’n gemeenskap verder te groei.  Hy wy onder andere uit oor ’n paar vrae wat hulle hom gevra het, en dan in hoofstuk vyf skerp hy die opdrag om as ’n gemeenskap van gelowiges te funksioneer verder in.

1.  DIE HERE KOM WEER

Wat uitstaan van sy lering hier in hoofstuk vyf is dat hy in die eerste plek vir hulle sê: “want julle weet self baie goed dat die dag van die Here soos ‘n dief in die nag kom”(vers 2).

Nie dat hy hulle daarmee wil bang maak nie, want hy beskryf die gelowiges as mense van die lig, wat beteken dat hulle wakker sal wees as Jesus weer kom, en dié dag dus nie hoef te vrees nie.

Die wederkoms is dus onverwags, maar nie onverwag nie!

Maar hy beklemtoon dit, omdat hy weet dat die gevaar altyd bestaan dat ’n mens se lig dof kan raak, en uiteindelik die gevaar kan loop uitgedoof te word.

Die lewe in die geloof is nie iets wat outomaties kom nie.  Dit is iets waaraan ons moet werk.  Dit is iets waarop ’n mens jou moet toelê.  Die Here werk in ons om sy wil te doen, maar ons moet daarmee saamwerk!  Ons moet ons toelê daarop dat Hy ons vernuwe, dat Hy ons verlig, dat Hy ons met Homself verenig.

Ek moes leer om af te vat.  En my groep kon my daarin bemoedig.  Ons almal moes leer dat die Here groter is as ons krisisse.  Al vat dit soms lank om sekere situasies uit te sorteer: “Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet.” (Rom. 8:28).  Ons leer dit elke dag net meer en meer.

En die herinnering aan die wederkoms van die Here help my om te fokus op wat nou belangrik is.  Dit help ons almal om dit te doen.

2.  ONS GROEI SAAM

Die lewe in geloof is ook nie iets wat kom wanneer jy net op jou eie daaraan werk nie.  Daarom sê Paulus vir hulle: “Julle is immers almal kinders van die lig en kinders van die dag … Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar waaksaam en sober wees!” (vers 5-6)

God se doel met ons is “om deur ons Here Jesus Christus verlossing te verkry … sodat ons … saam met Hom kan leef.” (vers 9-10)

Daar is eintlik niks belangriker vir jou om te doen, as om saam met Hom te leef nie.  Dit was my oorhoofse geloofsgewoonte, om in die teenwoordigheid van die Here te leef.  En natuurlik probeer ek dit my hele lewe lankal.  Maar wat hierdie keer anders was, was dat ek verantwoordelik gehou is deur my groep.  Ek kon my worsteling daarmee, sowel as my vreugdes daarin, deel.

Ek sal só graag wil hê dat elke gelowige in hierdie gemeente die kuns sal aanleer om saam met die Here te leef.  Ek is bereid om meer en meer tyd daaraan te spandeer – individueel en in groepe.  Daar is immers niks belangriker as dit nie.  Trouens, dit is eintlik die eniges fokus van my bediening, en ek dink van ons gemeente s’n, om mense te help om met Hom te leef.

LuisterLeef: ons visie vir hierdie gemeente!

3.  BEMOEDIG EN BOU MEKAAR

Daarom Paulus se gevolgtrekking en opdrag in vers 11: “Daarom, bemoedig mekaar en laat die een die ander in die geloof opbou, soos julle inderdaad doen.

Dit gaan nie in die eerste plek oor die inskakeling in ’n kleingroep in die gemeente as sodanig nie, waaroor hierdie reeks gaan nie.  Dit gaan uiteindelik ook nie soseer oor die waarde wat jyself daaruit gaan put, soos ek dit op só ’n wonderlike wyse hierdie afgelope paar maande kon ervaar het nie.  Dit gaan uiteindelik oor die waarde wat jy kan toevoeg tot ander se lewe.

’n Gemeente is soos ’n ekosisteem.  Dit is die naam wat gegee word vir die komplekse wyses waarop lewende wesens in verhouding met mekaar leef.  Dit sluit plante, bome, diere, miere, visse, voëls, mikro-organismes, water, grond en natuurlik mense in.

Die belangrike punt van ’n ekosisteem is, as elkeen nie sy rol speel nie, verbrokkel ’n ekosisteem, verloor dit volhoubaarheid.  Soos dit was met generaal Mandible wat net met die soldate wou werk, en Z wat almal se bydrae waardeer en ingespan het.  Só is dit ook in ’n gemeente.

Daarom kan ons dit nie langer uitstel nie.  Het ons dit dringend nodig om te leer hoe ons mekaar kan help om te groei in die geloof.  Het ons mekaar nodig sodat ons mekaar kan bemoedig sodat die een die ander in die geloof kan opbou, soos ons inderdaad dit reeds doen in hierdie gemeente, maar wat ons nog beter kan doen.

Amen!

Gebed

Dankoffers

Kerkraadsvoorstelling

Seën van kerkraad

Lied 527: Die werk behoort aan U vv.1,2

Slotlied
Lied 523 – Goddelike liefdebande vv1,2,3,4

Seënbede
Lied 311 – Dit wat ons hier ontvang het v.1, en Lied 314 – Amen

     

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Genévieve Young

    |

    ASAP

    Ek is n 2de jaar Argitek student, van NMU.
    Ek is dringend opsoek na n tuinwoonstel.

    1 or 2 bedroom/s
    1 or 2 bathroom/s
    Kitchen
    1 or 2 Parking/s (secured)
    Space to work (medium space required)

    Kontak my groot asb.
    Genévieve Young
    060 6514 417
    Of Morné Young
    082 4211 984

  • Avatar

    Anita

    |

    So jammer ek het nie voorheen kommentaar gesien nie. Sy is geholpe. Dankie

  • Avatar

    Carla

    |

    Hi, is die woonstel nog beskikbaar?

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Elizabeth, jou vraag is relevant. Vir my gaan dit alles oor konteks. Die regte ding in die verkeerde konteks kan ‘n mens ontstel, terwyl in die regte konteks dit ‘n mens kan ophef. Die idee van Jesus as die Heer van die dans kan goed met sy eie opmerkings oor sy boodskap in hierdie teks verbind word. In ander kontekste kan dieselfde boodskap oor die dansende Jesus afbreek doen aan sy Goddelikheid. Groete.

  • Avatar

    Elizabeth

    |

    Dankie vir die preek..
    Ek het die lied in ‘n video gesien waar daar ballet gedans word met die ” Tema Dance with Me”. Dit was pragtig maar ek het gevoel dit pas nie.
    Was ek verkeerd?
    Ek het hulp gesoek en -Kom na My toe – en op hierdie preek afgekom.
    Baie dankie dit was verfrissend.
    Goeienag.
    Elizabeth