Skip to main content

God se liefde staan onwrikbaar vas – Sondag 5 April 09:00 op Youtube

Ons lewe in ‘n baie onseker tyd. Elke dag word ons begroet met dinge wat ons nie kan verklaar nie. Wat ons nie regtig verstaan nie. En al lig ‘n mens jouself so goed as moontlik in bly daar dinge wat ‘n mens se begrip ontwyk.

Dink maar net aan die verskillende berigte oor maskers. Sommige sê, dra dit. Ander sê, moenie dit dra nie. En dit is die eenvoudige goed. Wat van die moeiliker vrae waarop ons antwoorde soek?

Hoe gaan hierdie wêreld lyk na hierdie inperking? Hoe gaan dit ons werksplek beïnvloed? Alle beplanning wat ons vir die toekoms gehad het, is nou “on hold”. Ons weet nie eers hoe lank dit gaan neem tot ons by ‘n meer normale situasie gaan uitkom nie.

Die een ding wat ons staande kan hou in hierdie tyd is die besef dat die toekoms nie vir God onbegryplik is nie. Dat God baie goed weet wat Hy besig is om te doen. Dat God besig is om sy wil uit te voer, en dat Hy dit doen in en deur alles wat wêreldwyd gebeur.

God het beslis sy kinders se beste belange op die hart. Ja, Hy sal ons soms vra om moeilike dinge te doen. Hy sal soms moeilike dinge op ons pad bring. Soos nou. Maar Hy is ons vertroue waardig, want Hy is besig om sy plan uit te voer.

Ons hemelse Vader reik vandag uit na jou en sê: “Ek weet dat jy nie alles verstaan wat jou in die gesig staar nie, maar onthou, Ek het jou lief. Vertrou my en jy sal vrede vind wat op geen ander manier gevind kan word nie.”

Kom luister Sondag wat die Here vir ons uit Romeine 8:31-39 wil sê;

Youtube Erediens 09:00 Sondag 5 April 2020 

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.