God maak gebreekte potlode weer skerp! – Erediens 09:00

banksy-yesterday-today-tomorrow

Twee berigte in die media het vir my uitgestaan hierdie week. Die eerste was ‘n berig deur Geopende Deure oor die vervolging van Christene in 50 van die lande wat die meeste getref word – Noord-Korea, Somalië en Irak is die ergste. Die tweede was die berigte oor die tragiese dood van 12 mense by die Charlie Hebdo tydskrif in Frankryk aan die hand van Islamitiese ekstremiste. Die impak hiervan gaan nog wyd ervaar word.

Een van die reaksies op die Charlie Hebdo tydskrif tragedie het my aan die dink gesit. Dit is deur Banksy, ‘n skuilnaam vir ‘n Engelse graffiti kunstenaar. Dit sluit op ‘n manier aan by die boodskap vir Sondagoggend. Sy tekening help ons verstaan hoe selfs die ergste krisisse ‘n mens kan inspireer om te heroriënteer en aan te gaan. As die potlood waarmee jy skryf, breek, het jy ‘n keuse:

  • Gooi tou op en laat die teenstand jou oorrompel, jou stem stilmaak, die punt van jou lewe stomp maak.
  • Óf neem bestek op, neem die korter potlood, maak dít skerp, en laat jou stem hoor, maak jou punt so sterk as wat jy kan.

Dit is immers hoe God met ons werk en hoe ons die Christelike lewe moet benader. Hoeveel keer is God nie met gebreekte potlode in die lewe gekonfronteer nie. ‘n Dawid wat sy posisie misbruik. ‘n Petrus wat sy posisie ontken – “Ek ken die man nie.”

Trouens – die evangelie is bedoel vir dié dele van die lewe waar daar onvrede is, waar daar hartseer is, waar dinge nie uitgewerk het nie, waar dinge in mekaar geval het. Die Here werk altyd met die toekoms, met dié dinge wat gered kan word, met dié dinge wat gedoen kan word, met dié dinge wat reggestel kan word. Hy hou nooit op om gebreekte potlode heel te maak en in te span vir die doel waarvoor Hy dit in die eerste plek gemaak het nie.

Daarop kan ons staatmaak dié jaar. Die Here weet wat Hy vir jou beplan. Hy wil jou gebruik vir die doel waarvoor Hy jou gemaak het. Selfs al breek jou potlood ‘n paar keer dié jaar, sal die Here jou nie laat vaar nie. Hy sal jou elke keer weer optel en jou weer in diens neem. Soms sal dit seer wees. Soms sal dit baie seer wees. Maar, die Here sal sy doel met jou nie versaak of verlaat nie. Hy sal dit enduit volvoer.

Kom luister saam na die woord van die Here vir dié werklikheid waarin ons lewe uit Filippense 4:4-8.
Chris van Wyk

     

Trackback from your site.

Leave a comment