Skip to main content

Gemeentestemming Artikel 1

Ek (Chris) is vanoggend baie bewus van die genade van die Here. Ons gemeente het met 75% “ja” gestem vir die voorstel van ons Algemene Sinode om Artikel 1 van die Kerkorde te verander dat die Belydenis van Belhar daarin opgeneem kan word met ruimte na albei kante van die spektrum.

Ek is dankbaar omdat ek weet hoe moeilik belydenisse regdeur die eeue hulle weg tot in die harte van mense gevind het.

Die ekumeniese belydenisse uit die eerste millennium n.C. het in kontekste van stryd ontstaan:

  • Die Twaalf Artikels het die Triniteit verwoord midde in verskil van mening oor die natuur van Jesus as God en mens. Dit het eeue geneem voor dit algemeen aanvaar is.
  • Net só ‘n groot stryd was daar oor die standpunt van Appolinarus dat Jesus nie ‘n menslike gees gehad het nie, net ‘n Goddelike. Uiteindelik het die Geloofsbelydenis van Nicea ook dié deel van die God-mens natuur van Jesus bevestig. Net om uiteindelik tot die skeuring van die Westelike en Oostelike deel van die kerk te lei, toe daar verskil van mening kom oor of die Gees van Vader en Seun uitgaan, soos in Nicea verwoord, of net van die Vader.
  • Ook die Geloofsbelydenis van Athanatius het ná groot debat oor die wyse waarop ons die Triniteit moet verstaan, tot stand gekom. Terloops, dít bly ‘n belangrike gespreksgenoot as ‘n mens dink oor die Triniteit. Mense formuleer te maklik hulle eie verstaan, eerder as om in gesprek te gaan met die kerk van die eeue en hulle wysheid te verreken.

Die drie Gereformeerde belydenisse het ook ontstaan in kontekste van konflik en stryd.

  • Guido de Bres het die Nederlandse Geloofsbelydenis in 1561 geskryf om teenoor die Rooms-Katolieke verdrukking te formuleer wat die Gereformeerdes glo. Daarvoor moes hy met sy lewe boet.
  • Ursinus en Olevianus het in 1563 die Heidelbergse Kategismus die lig laat sien onder andere omdat daar verskil van mening was oor die Lutherse konsubstansiasie lering dat Christus werklik in die Nagmaal teenwoordig was. Die Gereformeerde standpunt is geformuleer om eenheid in die beskouing te bring, dat Christus voluit teenwoordig is in die Nagmaal, maar sonder dat die brood sy liggaam word en die wyn sy bloed.
  • En die Dordtse Leerreëls moes die leringe van Arminius die hoof bied en die Gereformeerde verstaan van die evangelie verwoord. Dit sê so lekker in Engels met die Akroniem TULIP: Total Depravity, Unconditional Election, Limited Atonement, Irresistible Grace, Perseverance of the Saints. Maar die konflik was so erg dat die sinode eers ‘n hele paar dekades daarna weer kon bymekaar kom, as ek dit reg het, 80 jaar, twee geslagte, daarna!

Wat in ons gemeente gebeur het, stem my dankbaar. Dat daar baie plekke is waar die “nee” stem oorheers – sommige sê nee omdat hulle Belhar ongekwalifiseerd wil insluit, en ander sê nee, omdat hulle Belhar nie wil insluit nie – bekommer my uiteindelik nie.

Belydenisse neem ‘n tyd om in die gemoedere van mense pos te vat. Dit sal waarskynlik ook by ons die geval wees. Want, eenheid-geregtigheid-versoening het gekom om te bly as verwoording van die evangelie. Dit is nooit voorheen só helder geformuleer in die geskiedenis nie, ook nie in die Gereformeerde wêreld nie. Die belydenis van Belhar se bydrae is dus reeds histories fundamenteel. Die aanvaarding daarvan deur ‘n beduidende deel van die Gereformeerde wêreld, beteken dat dit waarskynlik ook reeds die toets van die tyd deurstaan het.

Nou moet dit net ‘n plek kry in die harte van Christene die wêreld oor, ook in ons kerk.

Belydenis van Belhar, belydenisskrifte

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.