Gemeentebrief Augustus 2008

Bedieningsbrief

Om met vreugde te lewe en met liefde te dien vanuit ‘n vaste geloofsverbintenis met Jesus Christus ons Hoof… en so snel die lewe voort. Ons knip ons oë en die jaar is amper verby, ons is reeds volstoom aan die beplan vir volgende jaar. Te midde van die snelle pas moet ons ook soms stilstaan en vra: wat is Bootjiedie Here besig om te doen? Hoe help hy ons om die roeping te leef wat hy vir ons gegee het?

As ons oor die eerste helfte van die jaar terugkyk, dan is dit duidelik dat ons besig is om te leer om al meer geloofsonderskeidend te werk, om al meer die Here se wil

te soek in alles wat ons doen en die besluite wat ons neem. Dit is een van die gevolge van die fokus op gebed wat die Here op ons harte gedruk het. Deur sy Gees is die Here besig om ons vaste geloofsverbintenis met Jesus te versterk. Al meer mense neem deel aan die “biddend luister” en soek op dié manier die Here se wil vir alles in die gemeente.

Terselfdertyd is daar ook ‘n groot beweging om dinge vas te maak, om veral bestuursake vaartbelyn te maak en binne ‘n goed geordende sisteem te laat funksioneer.

Hier is veral mense soos Frik Buys en die ander wat besig is om aandag aan die bestuur te gee, besig om die hele gemeente met liefde te dien.

Wat ons ander fokusarea – kleingroepe – aanbetref, sien ons ook die gemeente se visie gestalte kry. Chris, wat die kleingroepe gereeld besoek, vertel dat hy ‘n intense betrokkenheid by mekaar en die gemeenskap opmerk. In die Bybelstudiegroepe word daar diepsinnige, intense gesprekke gevoer. Die Here is steeds besig om die kleingroepe te gebruik om ons geloof te verinnig.

Natuurlik is die jaar nog nie verby nie! Ons sien met opgewonde verwagting uit na September se Lentefees. Daar is interessante, soms moeilike, gesprekke aan die gang rondom ons eredienste –  ook hier is ons besig om ernstig na die Here se leiding te soek. Ons wil ook graag saam dink oor ons totale kommunikasie-strategie: webtuiste, blog, afkondigings, Gemeentebrief, ens. Ons hoop om ‘n span entoesiastiese mense bymekaar te kry om saam hieraan aandag te gee (as jy graag wil deel wees hiervan, kontak die kerkkantoor). Hou veral hierdie spasie dop… wie weet hoe die gemeentebrief in die toekoms daar gaan uitsien?

Terwyl ons so met vreugde lewe, met liefde dien en groei in ons geloofsverbintenis met Jesus, bid ons dat ons sal voortgaan om ‘n hawe te wees vir mekaar en al meer daarin sal slaag om ‘n hawe te wees vir ons gemeenskap.

Laai die hele Gemeentebrief hier af.

     

Trackback from your site.

Leave a comment