Gelukkige Nuwe Jaar!

Vandag is die begin van die nuwe Kerkjaar – die eerste Sondag van Advent.

Wat is Advent?

Met Kersfees vier en verkondig ons dat die Woord vlees geword en onder ons kom woon het (Joh 1:14).  Advent is nie dieselfde as Kersfees nie. Dit is ‘n tyd van verwagting en voorbereiding op die koms van Christus.  Die woord “Advent” beteken ook letterlik koms.

Advent is ‘n tyd vir terugkyk na Israel se Messiasverwagting, denke aan God wat altyd – daagliks – in ons lewens kom  én ‘n vooruitkyk na die wederkoms.  Dit is dus gevul met die atmosfeer van afwagting.

Simbole, gebruike en rituele in Advent

In Adventstyd word die Christelike hoop op ‘n besonder simboolryke wyse in die eredienste en in die persoonlike lewe gevier.

Die Adventkrans bestaan meesal uit vier kerse en ‘n groter wit Christus-kers in die middel. Drie van die kerse is purper en ‘n vierde rooskleurig.  Die gevoel van afwagting word versterk deur elke Sondag ‘n volgende kers aan te steek, terwyl die vorige Sondae se kerse reeds brand.

Die rooskleurige kers word gewoonlik op die derde Adventsondag aange-steek en simboliseer vreugde.  Die groot wit Christus-kers in die middel word op Kersdag aangesteek.

In baie tradisies is dit ook ‘n bekende gebruik om kinders te betrek deur die maak van ‘n Adventskalender.  Dit help ons om die dae af te tel na Kersfees en bring dus ook iets tuis van die geduldige wag op die Here.

Die gebruik van ‘n Kersboom is ook baie bekend.  Die Kersboom verwys terug na die boom van die lewe in die tuin – en die “vervloekte hout” waaraan Christus gehang het (Gal. 3:13).  Die boom herinner aan die skepping én die koms van Christus om die skepping te verlos (Rom 8:19-20).  Die balletjies wat aan die boom gehang word, herinner aan appels.  Dit word verbind aan die sondeval in die paradys – en aan Christus wat die nuwe Adam is (Rom. 5:12-21).  Kerse is tradisioneel gebruik om te herinner aan die Lig wat geassosieer word met Kersfees en Epifanie.  Vandag gebruik ons elektriese liggies.

(Verwys “Leesrooster vir Lidmate)

 

 

 

     

Trackback from your site.

Leave a comment