Familiediens Youtube 09:00 14 Junie – Wat doen jy as jy moedeloos is?

Youtube Sondag 14 Junie 09:00

Ons bring weer Sondag ons gesamentlike angs en vrees voor die Here. Hierdie uitmergelende tyd van inperking bring ons by lament. Ons is bewus van die moedeloosheid en die verlies wat dit veroorsaak. Vir so baie. Ons kies daarom om te fokus op ons emosies en behoeftes en dit na die Here te bring. Dit is steeds ‘n tyd om tot stilstand te kom, om te treur met die wat treur, om te ween met die wat ween.

Ons weet egter ons praat met die God wat hoor, die God wat sien, die God wat ons seer in sy eie liggaam ervaar het. En ons kan ons eie seer voor God uitstort sowel as die seer van ons eie tyd: om geregtigheid, om genade, om uitkoms.

Ons gaan by Jeremia leer:

1. Dat ons in ons gebede eerlik moet wees oor die donker wat ons beleef. Die wolke wat spreekwoordelik oor ons toesak. Dit is bykans altyd die gevolg van valse profete wat die volk gerus in hulle sondes maak, en dié waarheid moet ‘n mens eerlik in die oë staar.

2. Dat ons in ons gebede eerlik ons moedeloosheid en smart oor die toestand van die stad en sy mense moet uitstort. Ons harte wat breek, soos ‘n Jeremia van ouds. “Dit brand in my, my moed is gebreek.”

3. Dat ons doodgewoon nooit moet ophou bid om die lewe van ons kinders en kleinkinders en die mense van hierdie wêreld nie. Roep tot die Here. Laat jou trane in strome vloei, dag en nag. Moet jouself nie rus gun nie. As’t ware, moenie dat jou oë verligting kry nie. Staan dwarsdeur die nag op en roep. Stort voor die Here jou hart uit soos water. Strek jou hande uit. Bid om die lewe van jou kinders.

Net van God kom verandering. Net van God kan verandering gevra word.

Soos gewoonlik is daar Kindertyd deur oom Jaco Barnard en ‘n bydrae van een van ons sendelinge, Elspeth Liebenberg.

     

Trackback from your site.

Leave a comment