Familiediens 18 Augustus 09:00 – Vra sonder ophou
Voel jy ook soos die man wat ‘n grassnyer nodig gehad het. Terwyl hy loop om sy buurman se grassnyer te gaan leen, werk hy hom so op daaroor dat die buurman moontlik gaan nee sê, dat hy toe die deur oopgaan, sommer sê: “Man, hou jou grassnyer!”
‘n Mens kan jou só opwerk oor ‘n moontlike nee-antwoord dat jy nooit eers by vra uitkom nie. Jy besluit sommer self wat die antwoord gaan wees, en kom nie eers sover om te vra nie.
Maar, dan is daar natuurlik die kere wat jy wel sover kom om te vra, en dan stel die antwoord jou teleur. Dit kan ‘n mens erg moedeloos maak.
Soos ek nou onlangs ervaar het met ‘n administratiewe probleem by binnelandse sake. Ek was al vier keer daar en die probleem, ‘n eenvoudige regstelling op ‘n databasis, word nie uitgesorteer nie.
Ek is nou al moedeloos om te gaan, want ek kom elke keer onverrigter sake terug.
Jesus het geweet dat ons die werklikheid só kan ervaar, en dat veral die negatiewe ervarings van die lewe ons negatief kan maak oor God. Dat ons later kan dink, maar God is soos ons buurman of soos binnelandse sake. En dan óf moedeloos raak om te bid, óf nog erger, ophou om te bid.
Daarom vertel Hy vir ons ‘n gelykenis om ons te bemoedig. En Hy gebruik ‘n voorbeeld uit die regstelsel, ‘n regter wat goddeloos en liefdeloos was, wat nie volgens God se wette optree nie, en ook nie volgens die samelewing se wette nie. ‘n Korrupte vent. Maar, hy gebruik die negatiewe ervaring se onverwagse uitkoms om ons iets belangriks van God te leer.
Kom luister Sondag by ons Familiediens om 09:00 wat God ons uit Lukas 18:1-8 leer oor gebed.