Dien saam – Galasiërs 6:1-10

Om lief te hê en liefgehê te word

Diensaam-250Ron Highfield  sê om lief te hê en om liefgehê te word, is die mees sentrale aspek van menswaardigheid, dieper as enige funksionaliteit of kwaliteit van menswees.  Dit is in die feit dat ons God se geliefdes is, wat ons menswaardigheid ten diepste lê.  En wanneer ons God hierin navolg – deur ander lief te hê – bereik menswaardigheid sy hoogtepunt.  (God, Freedom, & Human Dignity.  Embracing a God-Centered Identity in a Me-Centered Culture.  IVP Academic: Downer’s Grove, 2013)

Paulus skryf oor die bedreiging van Joodse kultuurgebruike

Dit is uit dié hoek wat ek wil kyk vandag na die brief wat Paulus aan die Galasiërs skryf, ’n streek in die suide van hedendaagse Turkye, waar Paulus ’n aantal gemeentes op sy eerste sendingreis gestig het: Antiogië in Pisidië, Ikonium, Derbe, en Listra.  Hy skryf die brief waarskynlik kort na die brief aan die Tessalonisense in die begin vyftigerjare van die eerste eeu uit die stad Korinte op sy tweede sendingreis.

Hy is baie bewus van die bedreiging wat die Joodse kultuurgebruike vir die evangelie inhou.  Baie Joodse Christene het gedink, alle gelowiges uit die heidene moet die wet ook nakom.  Hulle moet in Jesus Christus glo, maar hulle moet ook die Sabbat hou, ook die besnydenis toepas en ook allerlei reinheidsgebruike nakom.

Gelowiges se menswaardigheid word aangetas

Daarmee het gelowiges ervaar, ons is nie die moeite werd nie.  Ons tel nie. Ons moet eers word soos die ander, voor ons aanvaarbaar gaan wees.  En dié veranderinge moes hulle aanbring, sonder om regtig ’n waarborg te hê dat hulle aanvaarbaar sal wees.

In hoofstuk 2 skryf Paulus hoe hy selfs vir Petrus vroeër moes aanspreek in Antiogië (Sirië) omdat dié kulturele gebruike ’n verdeling gebring het tussen Joodse Christene aan die eenkant en gelowiges uit die heidene aan die ander kant.

Die evangelie kom daarmee in gedrang

Hoekom sê Paulus só?  Want die evangelie kom daarmee in gedrang, die waarheid wat in Christus mense met mekaar versoen, word daardeur verbreek.  Mense verloor só hulle waardigheid binne die gemeenskap van gelowiges.  Hulle word só tweede klas burgers, mense wat eintlik soos heidene bly, al is hulle binne die gemeenskap van gelowiges.

Paulus lê klem op die wet van Christus

Paulus lê dus op die regte verstaan van die leer van Christus – hy noem dit letterlik die wet van Christus – klem, wat ’n mens die regte verstaan van die vryspraak van Christus kan gee, van die werk van die Heilige Gees sowel as van die gemeenskap van gelowiges.  Hy beklemtoon dus in die brief:

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

Verwelkoming

Die gemeente het in September wonderlik gereageer op ons finansiële situasie. Ons “gewone” inkomste was die hoogste normale maandelikse inkomste nog, nl. R243 503 (indien ons die kermis en ander buitengewone inkomstes buite rekening laat).  Ons wil die gemeente en elke lidmaat, wat hiertoe meegewerk het, en natuurlik ook die Here, hiervoor bedank.

Ons het vir Oktober R286 000 min of meer nodig. Ons vertrou die Here daarvoor.

Toetrede

Psalm 100 (2de melodie) – staan

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 188 – staan

Lied 202 – staan

Lied 191 – sit

Verootmoediging

Lied 601:1,4,5 – sit

Doop

Oluwagbenga Ezekiel Lizwilokhanyiso Ngalimani (Amos en Linda)

Lied 290:1

Gebed

Skriflesing en Woordverkondiging

Om lief te hê en liefgehê te word

Ron Highfield  sê om lief te hê en om liefgehê te word, is die mees sentrale aspek van menswaardigheid, dieper as enige funksionaliteit of kwaliteit van menswees.  Dit is in die feit dat ons God se geliefdes is, wat ons menswaardigheid ten diepste lê.  En wanneer ons God hierin navolg – deur ander lief te hê – bereik menswaardigheid sy hoogtepunt.  (God, Freedom, & Human Dignity.  Embracing a God-Centered Identity in a Me-Centered Culture.  IVP Academic: Downer’s Grove, 2013)

Paulus skryf oor die bedreiging van Joodse kultuurgebruike

Dit is uit dié hoek wat ek wil kyk vandag na die brief wat Paulus aan die Galasiërs skryf, ’n streek in die suide van hedendaagse Turkye, waar Paulus ’n aantal gemeentes op sy eerste sendingreis gestig het: Antiogië in Pisidië, Ikonium, Derbe, en Listra.  Hy skryf die brief waarskynlik kort na die brief aan die Tessalonisense in die begin vyftigerjare van die eerste eeu uit die stad Korinte op sy tweede sendingreis.

Hy is baie bewus van die bedreiging wat die Joodse kultuurgebruike vir die evangelie inhou.  Baie Joodse Christene het gedink, alle gelowiges uit die heidene moet die wet ook nakom.  Hulle moet in Jesus Christus glo, maar hulle moet ook die Sabbat hou, ook die besnydenis toepas en ook allerlei reinheidsgebruike nakom.

Gelowiges se menswaardigheid word aangetas

Daarmee het gelowiges ervaar, ons is nie die moeite werd nie.  Ons tel nie. Ons moet eers word soos die ander, voor ons aanvaarbaar gaan wees.  En dié veranderinge moes hulle aanbring, sonder om regtig ’n waarborg te hê dat hulle aanvaarbaar sal wees.

In hoofstuk 2 skryf Paulus hoe hy selfs vir Petrus vroeër moes aanspreek in Antiogië (Sirië) omdat dié kulturele gebruike ’n verdeling gebring het tussen Joodse Christene aan die eenkant en gelowiges uit die heidene aan die ander kant.

Die evangelie kom daarmee in gedrang

Hoekom sê Paulus só?  Want die evangelie kom daarmee in gedrang, die waarheid wat in Christus mense met mekaar versoen, word daardeur verbreek.  Mense verloor só hulle waardigheid binne die gemeenskap van gelowiges.  Hulle word só tweede klas burgers, mense wat eintlik soos heidene bly, al is hulle binne die gemeenskap van gelowiges.

Paulus lê klem op die wet van Christus

Paulus lê dus op die regte verstaan van die leer van Christus – hy noem dit letterlik die wet van Christus – klem, wat ’n mens die regte verstaan van die vryspraak van Christus kan gee, van die werk van die Heilige Gees sowel as van die gemeenskap van gelowiges.  Hy beklemtoon dus in die brief:

  • Dit gaan in die geloofsgemeenskap nie oor die nakom van kulturele reëls nie, of oor van watter groep jy deel is nie. Dit gaan oor die geloof in en vryspraak van ChristusSolus Christus: “Ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my!” (Gal. 2:20).
  • Dit gaan in die geloofsgemeenskap nie oor kulturele afkoms nie, maar oor die verbondsgemeenskap wat die Gees skep: “Daar is nou nie meer Jood of Griek, nie meer slaaf of vryman, nie meer man of vrou nie, want julle almal is één in Christus Jesus!” (Gal. 3:28).
  • Dit gaan in die geloofsgemeenskap nie oor die besnydenis of enige ander ritueel in die Joodse, heidense of selfs Christelike geloof nie, maar oor die vryheid van die lewe wat die Gees gee. Dit gaan in die gemeenskap van gelowiges oor die vrug van die Gees[1]: “liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” (Gal. 5:22-23).

Dit is die tipe gemeenskap wat die Here Jesus geskep het, mense wat só leef.  Dit is die tipe gemeenskap waarvoor elke kind van die Here hom- of haarself moet beywer.

Paulus moedig hulle aan om hulle gedrag teenoor mekaar te verander

Maar nou weet Paulus hoe moeilik dit is vir mense om hulle kulturele idees, hulle kulturele gebruike, dié dinge wat vir hulle van soveel belang vir soveel jare was, waarin ’n groot deel van hulle identiteit lê, te laat vaar.  Daarom moedig hy hulle aan om hulle gedrag teenoor mekaar te verander.  Dit sal hulle help om hulle houdings te verander.

Die Gees lewe mos in julle, sê hy vir hulle.  “Leef (dan) deur die Gees” (Gal. 5:16).  Dan sal julle dit kan regkry.  Laat die Gees julle gedrag bepaal.  Dan sal julle dit regkry om met mekaar in volle gemeenskap te lewe.

In hoofstuk 6 spel hy dit dan prakties uit in die wyse waarop hulle geroep word om mekaar se laste te dra.  Só kan hulle die wet van Christus, die nuwe manier van leef wat met Hom gekom het, uitvoer.

Galasiërs 6:1-10 – Dra mekaar se laste en vervul só die wet van Christus

Ek gaan dit uitlê soos ons lees:

1 Broers en susters, as iemand deur een of ander sonde oorval word, moet julle wat die Gees het, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp;”

Dit is ongetwyfeld so: “We want to love and to be loved.” (Ron Highfield).

Dit is die totaliteit van menswees.  Die liefde struktureer ons diepste wese. Ons wil nie net êrens behoort nie.  Ons wil nie net waardeer word nie.  Ons wil liefgehê word.  Ons wil die voorreg hê om iemand anders lief te hê.  Daar is niks wat ons dieper as dit begeer nie.

But this cannot happen unless we become present to each other in honest revelation and respect.” (Ron Highfield).

Soos Paulus herinner Ron ons daaraan dat ons nie weg moet staan van mekaar as daar iets verkeerd loop nie.  Ons – dié wat die Gees het – moet diep eerlik die Woord van God, die wyse waarop God oor die lewe dink, die wet van Christus, aan mekaar openbaar.

Maar, tegelykertyd, dit doen in ’n gees van diep respek, soos Paulus dit hier sê,

so iemand in ’n gees van sagmoedigheid reghelp.”

Dit sluit ook in:

“Maar let op jouself dat ook jý nie versoek word nie.”

Die gevaar is altyd groot dat ’n mens in die proses om iemand anders sy of haar sonde uit te wys, self in ’n strik kan val: verwaandheid, hoogmoed, selfregverdiging, uittarting, afguns, veroordeling.

Daarom is Paulus so duidelik:

2 Dra mekaar se laste, en vervul so die wet van Christus.

Van watter laste praat Paulus hier?  Hy verwys heel moontlik na gevalle wanneer iemand in versoeking kom, wat hulle sonde doen dan en gevaar loop om van die Christelike pad af te dwaal, dat jy só iemand se laste dra.

Só vervul ons die wet van Christus.  Want Hy het op die mees openbare manier moontlik, aan die kruis van Golgota, ons laste, ons sonde, gedra.  Daarmee het Hy Homself geopenbaar as ’n God wat liefde is, wie se wese selfprysgawe is.

Ron Highfield sê daaroor: “Jesus pioneered a new way of being human, enabling us to think of ourselves as God’s beloved children whose life task is to embody God’s love for the world.

Soos God óns in Jesus liefgehad het, só het ons die taak om dié vergewende selfprysgawende liefde aan hierdie wêreld, veral in die geloofsgemeenskap te bewys.

Ons moet deur ons liefde vir ander hulle tot liefde beweeg.  In ons liefde moet mense die vreugde van wederliefde ervaar.

Wat ons van God moet verstaan: “God does not love us to increase God’s joy; God loves us that we might share in the joy that God is eternally.  God delights in loving us because God is love.” (Ron Highfield).

Dit is ook waar van ons liefde vir ander.  Ons het ander nie lief omdat hulle ons vreugde kan vermeerder nie. Ons het ander lief sodat hulle in ons vreugde, die vreugde wat God natuurlik vir ons in die eerste plek gee, kan deel.

Dit is hoe die Triniteit werk.  Dit is hoe God Homself liefhet: “The members of the divine Trinity love themselves only in their love for each other.” (Ron Highfield).

Hulle liefde vir hulleself kom net na vore in hulle liefde vir mekaar! Dit is diep!

Terug by Paulus.  Hy waarsku teen ’n soort selfliefde wat ons van mekaar kan isoleer:

3 As iemand meen dat hy iets is terwyl hy niks is nie, bedrieg hy homself. 4 Elkeen moet sy eie dade beoordeel; dan sal hy sy trots net vir homself kan hou sonder om by ander daaroor te spog, 5 want elkeen moet sy eie las dra.”

’n Mens kan nie jouself beroem op jou betrokkenheid by ander se nood, asof dit van jou iets besonders maak nie.  Dit is eintlik hoe jou lewe in elk geval moet werk.  Dit is hoe die wet van Christus werk.  Jy moet ander liefhê en hulle laste dra.

Hierdie liefde vir mekaar, hierdie fokus op mekaar, is natuurlik wederkerig, dit sluit ook in dat ander jou las dra.  Só:

6 Wie onderrig ontvang, moet die een wat hom onderrig, laat deel in al die goeie dinge wat hy besit.

Maar na beide kante toe word daaraan ’n waarskuwing gekoppel, na dié wat liefhet en na dié wat liefgehê word:

7 Moet julle nie laat mislei nie — God laat Hom nie bespot nie! Wat die mens ook al saai, sal hy maai. 8 Hy wat in sy sondige aard saai, sal uit sy sondige aard vernietiging oes, maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe oes.

So, hoe moet ons teenoor mekaar optree?

9 Laat ons daarom nie moeg raak om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die regte tyd oes.”

Daar is ’n wonderlike beloning geleë in standvastige volhardende liefde vir mekaar, om nie moeg te raak om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die regte tyd oes.  Ons sal op die regte tyd oes. Die liefde oorwin altyd.  Die liefde word altyd beloon.  Want die liefde is God, en God is die liefde, en waar Hy is, waar die liefde is, daar sal ons op die regte tyd oes.

Watter gerusstelling vir my!  Watter aanmoediging!  Watter hoop!

Dit laat my Paulus se laaste vers aangryp as die motto vir my lewe:

10 Daarom: Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar veral aan ons geloofsgenote.” (BDV)

Dra mekaar se laste en vervul só die wet van Christus.  Inderdaad.  Só dien ons saam.  Só is ons beter saam.

Gebed

Dankoffers

Langpiet de Villiers op die konsertina (saam met die orrel)

Slotsang

Lied 524 – staan

Seën

Lied 524 – vier laaste reëls van vers 3

[1] Uitleggers wys gereeld daarop dat hier 3 groepe van 3 deugdes genoem word.  In lyn daarmee sal ek dit ook só kan voorstel: 1) Gawes van God: liefde, vreugde, vrede; 2) Gawes vir die gemeente: geduld, vriendelikheid, goedhartigheid; 3) Gawes vir die gemeenskap: getrouheid, nederigheid, selfbeheersing.  Veral die laaste drie, wat as Christelike deugdes verklaar kan word, sou deur die Griekse wysgere hoog aangeslaan word.

 

     

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Genévieve Young

    |

    ASAP

    Ek is n 2de jaar Argitek student, van NMU.
    Ek is dringend opsoek na n tuinwoonstel.

    1 or 2 bedroom/s
    1 or 2 bathroom/s
    Kitchen
    1 or 2 Parking/s (secured)
    Space to work (medium space required)

    Kontak my groot asb.
    Genévieve Young
    060 6514 417
    Of Morné Young
    082 4211 984

  • Avatar

    Anita

    |

    So jammer ek het nie voorheen kommentaar gesien nie. Sy is geholpe. Dankie

  • Avatar

    Carla

    |

    Hi, is die woonstel nog beskikbaar?

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Elizabeth, jou vraag is relevant. Vir my gaan dit alles oor konteks. Die regte ding in die verkeerde konteks kan ‘n mens ontstel, terwyl in die regte konteks dit ‘n mens kan ophef. Die idee van Jesus as die Heer van die dans kan goed met sy eie opmerkings oor sy boodskap in hierdie teks verbind word. In ander kontekste kan dieselfde boodskap oor die dansende Jesus afbreek doen aan sy Goddelikheid. Groete.

  • Avatar

    Elizabeth

    |

    Dankie vir die preek..
    Ek het die lied in ‘n video gesien waar daar ballet gedans word met die ” Tema Dance with Me”. Dit was pragtig maar ek het gevoel dit pas nie.
    Was ek verkeerd?
    Ek het hulp gesoek en -Kom na My toe – en op hierdie preek afgekom.
    Baie dankie dit was verfrissend.
    Goeienag.
    Elizabeth