Skip to main content

Dag 2 – Wie God is

Lees Jeremia 31:31-36

God verbind hom aan die mens deur sy beloftes – ons noem dit die verbond.  Die volk Israel was dikwels ongehoorsaam.  In hierdie gedeelte word daar verby die naderende straf gekyk na ‘n troosvolle tyd onder ‘n nuwe verbond.  Daar sal ‘n toegewyde groep gelowiges oorbly wat uiteindelik die Here se seën, vergifnis en vernuwing sal geniet.

Met hierdie nuwe verbond verbind God Hom aan Israel en word daar vooruit gekyk na ‘n tyd wanneer almal Hom sal ken en wanneer sy wet op hulle harte geskryf sal wees – wanneer hulle God se wil so hulle eie gemaak het dat hulle spontaan daaraan gehoorsaam sal wees.

Die Here se genade gaan dus altyd ons geloofsreaksie vooraf.  Dit dui op die Here se onwankelbare verbintenis aan ons.  Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes (1 Joh 4:9-10).  As die Here Hom so aan jou verbind, wat verhinder jou om hierdie nabye verhouding met Hom te geniet?

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.