This page was exported from Somerstrand Gemeente [ https://ngkerksomerstrand.co.za ]
Export date: Tue Apr 13 19:28:45 2021 / +0000 GMT

Dag 1- om met die regte prioriteite te leef - 16/11/09



Lees Lukas 12:16-21

Daar is meer te doen as waartoe ons in staat is - wat betref ons tyd, ons geld en ons energie.  Ons moet dus kies.  En in ons keuses word ons prioriteite duidelik.  Jesus vertel 'n storie van 'n man wie se belangrikste prioriteite hyself en sy besittings was.  Hiermee waarsku Jesus nie net teen die gevaar van hebsug of geldgierigheid nie.  Hy wys veral op die futiliteit van prioriteite wat nie ooreenstem met God se wil vir jou lewe nie.  Die man in die gelykenis se prioriteite is duidelik - persoonlike rykdom en 'n toekoms waarin hy goed versorg sal wees - dinge wat 'n finansiële konsultant instemmend sal laat knik.  Maar hierdie ryk dwaas, soos die gelykenis hom noem,  begin met die verkeerde motiewe en slaag nie daarin om een van hierdie doelwitte te verwesenlik nie.  Hy is dood voordat hy sy besigheid kon uitbrei of sy aftrede kon geniet.  Jesus maak dan hierdie gelykenis van toepassing op almal wie se prioriteite openbaar dat hulle harte by hulle eie belang in plaas van by God gelê het.  Ons lewe behoort God te verheerlik en nie op onsself gerig te wees nie.  Ons sou dus kon vra of ons belangrikste prioriteite tot die erkenning van God sal lei.  Indien wel, dan sal ons ryk in God se oë wees.  Dink oor jou eie prioriteite na.  Is dit in ooreenstemming met God se wil?  Of is dit op jou eie ambisie en besittings gerig?

 

 


Post date: 2009-11-14 22:00:00
Post date GMT: 2009-11-14 22:00:00
Post modified date: 2009-11-14 22:00:00
Post modified date GMT: 2009-11-14 22:00:00

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com