Christenskap 101

Mailchimp header

Inleiding op Hebreërs

Die brief is gerig aan gelowiges in Italië

Die brief aan die Hebreërs word geskrywe aan huisgemeentes in ’n stad in Italië, waarskynlik Rome.  Dit is ’n “Boodskap van aansporing” of ’n “Boodskap van bemoediging” (hfst. 13:22) aan ’n diverse groep gelowiges wat onder baie druk verkeer. Hierdie gelowiges het tot bekering gekom deur die werk van eerstehandse getuies van die boodskap van Jesus (hfst. 2:3;13:7).  Hulle was veral Jode (vgl. die titel: “Aan die Hebreërs”), goed bekend met die Joodse geloof en tradisies, maar het waarskynlik ook gelowiges uit die heidene in hulle geledere gehad (“dié wat van Italië is” – hfst. 13:24).

Die sestiger – of sewentigerjare van die eerste eeu is die mees waarskynlike tyd vir die brief, hoewel dit nie meer presies gedateer kan word nie.  Teen die middel negentigs haal Clemens van Rome al uit die brief aan, so dit moes voor daardie tyd geskryf gewees het.

Die gelowiges het traag geword om te luister weens teenstand

Hoewel hierdie gelowiges die verligting van die Heilige Gees en die “goeie woord van God gesmaak het” (hfst. 6:4-5), het hulle ironies genoeg “traag geword om te luister” (hfst. 5:11) en onder andere ’n “behoefte aan melk en nie vaste kos nie” (hfst. 5:12) gehad.

Hoekom?  Dit is duidelik dat hulle baie teenstand in die gemeenskap ervaar het: ’n “geweldige stryd van lyding”.  Hulle is nie net “deur beledigings en verdrukking openlik bespotlik gemaak” nie, maar daar is ook vroeër op hulle besittings beslag gelê (hfst. 10:32-36 – keiser Claudius het in 49 n.C. Joodse Christene uit Rome verdryf).  Baie van die gelowiges het dus die gevaar geloop om weens hierdie volgehoue druk uit die publieke gemeenskap van die geloof en die geloofsgemeenskap afvallig te raak.

Een van hulle geestelike leiers bemoedig hulle met die brief

Die skrywer, wat een van hulle eie leiers was (vgl. die “ons” in hfst. 13:17-19 en dat hy binnekort na hulle teruggebring wil word), kom sy pastorale en geestelike verantwoordelikheid teenoor hulle na met dié brief.

Nie dat ons weet wie hy of sy was nie.  Dit kon nie Paulus gewees het nie, hoewel die skrywer wel met Paulus se werkkring bekend was.  Hy ken bv. vir Timoteus (hfst. 13:23).  Benewens die feit dat Paulus nie ’n leier van een van die gemeentes in Rome/Italië kon wees nie, verskil die taal, styl en teologiese beklemtonings van hierdie brief met dié van Paulus se ander briewe.  Die skrywer het ook nie eerstehands na die Here Jesus geluister nie (hfst. 2:3).  Die name van Barnabas, Apollos (Luther se voorkeur), Silvanus (Paulus se medewerker),  en Priscilla word onder andere deur die ou kerkvaders en moderne geleerdes voorgestel as skrywers, maar daar is geen historiese sekerheid moontlik nie.

Moenie vasgevang word deur buitengewone of basiese dinge, ook nie deur Joodse gebruike nie

Hoe dit ook al sy, uit hierdie skrywer se boodskap blyk dit dat sommige van die gemeentelede hulle toevlug begin soek het in óf:

  • buitengewone ervarings, waarskynlik in hulle geval veral rondom die verering van engele – daarom die beklemtoning van Jesus se uitsonderlike posisie “hoog bo die engele verhef”. Hy is immers nie een van hulle nie, maar een met God: “U troon, o God, is vir ewig en ewig.” (hfst. 1-2);
  • die grondbeginsels van die Christelike prediking: die basiese dinge, ironies genoeg hier as “melk” beskryf – daarom die afwysing van ’n vassteek by bv. dinge soos die doop en handoplegging, en die aanmoediging om eerder op geestelike volwassenheid in terme van leer en lewe te fokus (hfst. 6), d.w.s. “vaste kos”;
  • die Joodse gebruike van die wet – daarom die afwysing van bv. die reinigingsrites en reëls rondom kos en drank en die aanmoediging om eerder op die lewende verhouding met God te fokus (hfst. 9-10; 13:9).

Moenie afvallig word nie

Die grootste probleem was egter dat sommige van hulle doodgewoon afvallig begin word het, en in ongeloof (hfst. 3:12 – “’n bose hart van ongeloof”), sonde (hfst. 3:13), ongasvryheid (hfst. 13:2), seksuele wanpraktyke (hfst. 13:4), geldgierigheid (hfst. 13:5), en nog allerlei vreemde leringe (hfst. 13:9) verval het.  Hierdie mense het daarom hulle leiers teengestaan (hfst. 13:7,17) en onbarmhartig teenoor die wyer gemeenskap geraak (hfst. 13:16).

Fokus op God se werk in julle lewe

Daarom lê die skrywer van Hebreërs daarop klem dat hulle weer die werk van God in hulle lewe moet erken:

  • die lewende verhouding met Jesus Christus, die Leidsman en Voleinder van die geloof (hfst. 1:2; 2:1; 10:19-22; 12:2),
  • die dinamiese werk van die Heilige Gees (hfst. 2:4; 3:7),
  • die krag van die Woord van God (hfst. 4:12),
  • die aanmoediging van hulle onderlinge byeenkomste, en die inspirasie van hulle onderlinge aansporing (hfst. 3:13: “elke dag”!; 10:23-25; 12:14-17; 13:1-6), sowel as
  • die boodskap en werk van hulle leiers (hfst. 13:7-9,17).

Dít is die dinge waarop elke gelowige in hierdie gemeente moet fokus, sê die skrywer.  Daarin lê die krag van God opgesluit.  Daardeur word sy krag in hulle lewe oopgesluit. Dit is die geloofsbeginsels waaraan hulle hul moet hou.

Luister na die Skrif en die prediking

Met talle aanhalings en voorbeelde uit die skat van die Ou Testament boodskap – ’n boodskap waarmee hulle duidelik bekend was – begrond die skrywer sy boodskap en bemoedig hulle met die evangelie van Jesus as die Leidsman van ons verlossing sowel as die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis.  Daarmee word hulle aan die Skrif verbind soos dit deur die prediking aan hulle voorgehou word.

Hulle word opgeroep om almal saam te waak daarteen dat geeneen van hulle van die lewende God afvallig word nie.  Hulle moet styf vashou aan hulle belydenis en hulle verlossing – leer en lewe – en voortdurend met vrymoedigheid in gebed die troon van genade nader.

Fokus op geestelike volwassenheid

Hulle word dus opgeroep tot geestelike volwassenheid, om nie langer te fokus op die eerste beginsels van die geloof in Christus nie – “die bekering van dooie werke, van geloof in God, van dooponderrig, oplegging van hande, opstanding uit die dood en van ewige oordeel” (hfst. 6:1-3) – maar die wedloop wat vir hulle voorlê met volharding te hardloop, hul oog gevestig op Jesus die Leidsman en Voleinder van hulle geloof (hfst. 12:1-2).  Gasvryheid, meelewendheid, mededeelsaamheid, gehoorsaamheid en onderlinge onderdanigheid moet hulle gemeentelike lewe kenmerk. God belowe immers dat Hy hulle sal toerus met alles wat goed is, sodat hulle sy wil kan doen (hfst. 13).

Erediensreeks: “Christenskap 101”

In die Bybelskool gaan ons die hele boek lees en dieper ingaan op van die aktuele vrae wat in die boek aangespreek word. In die eredienste fokus ons op ses van die grondbeginsels van die geloof.  Ons noem dit “Christenskap 101”:

  1. Gawes – Hebreërs 2:1-3:11 – teks Hebr. 2:3-4 – Chris – 19 Okt.
  2. Leer – Hebreërs 4:14-5:10 – teks Hebr. 4:14 – Rethie (Hervormingsondag en nagmaal) – 26 Okt.
  3. Ongeloof – Hebreërs 3:12-4:13 – teks Hebr. 3:12-13 – Chris (Dankofferfees) – 2 Nov.
  4. Doop – Hebreërs 5:11-6:20 – teks Hebr. 6:1-2 – Rethie – 9 Nov.
  5. Gewete – Hebr. 9:1-10:18 – teks Hebr. 9:13-14 – Kobus (Kategese af naweek) – 16 Nov.
  6. Geloofsekerheid – Hebr. 10:19-39 – teks Hebr. 10:22 Chris (Christus-Koning Sondag) – 23 Nov.

1. GAWES – Hebreërs 2:1-3:11 – Hebr. 2:3-4 – Chris – 19 Okt.

Hierdie verlossing is eers eers deur die Here verkondig en daarna aan ons bevestig deur hulle wat dit gehoor het, terwyl God dit verder bevestig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en deur gawes van die Heilige Gees wat uitgedeel is soos Hy dit goedgevind het.

2. LEER – Hebreërs 4:14-5:10 – Hebr. 4:14 – Rethie (Hervorming/nagmaal) – 26 Okt.

Terwyl ons dan ’n groot Hoëpriester het wat deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons styf vashou aan ons belydenis.

3. ONGELOOF – Hebreërs 3:12-4:13 – Hebr. 3:12-13 – Chris (Dankofferfees) – 2 Nov.

Broers en susters, waak daarteen dat geeneen van julle ooit ’n bose hart vol ongeloof kry deur van die lewende God afvallig te word nie.  Maar spoor mekaar elke dag aan, solank daar nog van ‘vandag’ sprake is, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.

4. DOOP – Hebreërs 5:11-6:20 – Hebr. 6:1-2 – Rethie – 9 Nov.

Laat ons dan die basiese prediking oor Christus daar laat en voortgaan na volwassenheid, sonder om weer die fondament te lê van die bekering van dooie werke, van geloof in God, van dooponderrig, oplegging van hande, opstanding uit die dood en van ewige oordeel.

5. GEWETE – Hebr. 9:1-10:18 – Hebr. 9:13-14 – Kobus (Kategese af) – 16 Nov.

Want as die bloed van bokramme en bulle en die as van ’n jong vers die verontreinigdes deur besprinkeling wy met die oog op die reiniging van die liggaam, hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees as vlekkelose offer aan God geoffer het, ons gewete reinig van dooie werke sodat ons die lewende God kan dien?

6. GELOOFSEKERHEID – Hebr. 10:19-39 – Hebr. 10:22 – Chris (Christus-Koning) – 23 Nov.

Laat ons daarom ingaan met ’n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van ’n slegte gewete, en ons liggame gewas met skoon water.

     

Trackback from your site.

Leave a comment