Skip to main content

Bybelskool Jeremia en Klaagliedere

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnOns lees die boeke van die profeet Jeremia en sy Klaagliedere in die derde kwartaal 2014.  Die inleiding op die boek Jeremia word op 23 Julie geplaas en daarna lees ons 6 hoofstukke ’n week, Klaagliedere ingesluit, tot en met die 1ste Oktober.  Ek plaas DV elke weeksdag ’n bydrae.

In die gemeente Somerstrand het ons agt uur-byeenkomste op Woensdae: 30 Julie 19:15; 6 Augustus 19:15; 13 Augustus 18:00; 20 Augustus 18:00; 27 Augustus 18:00; 3 September 18:00; 10 September 18:00; 1 Oktober 18:00.  Let op die verskillende begin-tye asook op die feit dat daar nie byeenkomste 17 en 24 September is nie.

Registreer by die webtuiste www.bybelskool.com om dié bydraes per e-pos te ontvang. Dit is gratis.

Die boek van die profeet Jeremia

Die profeet Jeremia worstel in sy boek met sy roeping om vernietiging en oordeel oor die volk Juda en hulle leiers aan te kondig.  Sy boodskap is dat God se volk Hom vergeet het en geweier het om Hom te erken.  Hulle is so nutteloos in die verhouding met God soos ’n verslete gordel.  Daarom is die Here hulle nie meer goedgesind nie en het Hy geen medelye meer met hulle nie.  Soos ’n kleipot gebreek word, sal die Here hierdie volk en hierdie stad breek.  Die ballingskap in Babel is hulle straf.  Die Here gaan hulle nie spaar nie en hulle deur hulle vyande laat wegvoer.

Ironies genoeg is die ballingskap egter ook hulle redding.  As deel van Jeremia se roeping om ook op te bou en te vestig, beskryf hy die weggevoerde ballinge as ’n mandjie goeie vye en in ’n brief verkondig hy die Here se goeie guns aan hulle:

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting.  Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor.” (29:11-12).

Dié hoop kry nog groter betekenis in ’n grondkooptransaksie wat Jeremia aangaan in Anatot waarmee die Here ’n belofte aan die volk maak dat ná sewentig jaar van ballingskap daar weer huise, grond en wingerde in Juda gekoop sal word. Die Here belowe om ’n nuwe verbond met hulle te sluit waarin sy woord op hulle harte geskryf en in hulle gedagtes vasgelê sal wees. Almal sal Hom ken, klein en groot.

Klaagliedere van Jeremia

Jeremia huil in hierdie boek hartroerend oor die toorn van God wat hy oor die land sien losbars het.  Hy skryf as ’n ooggetuie van die traumatiese verwoesting van die stad, die verkragting en vernietiging van die mense en die verstrooiing van die volk in ballingskap.  In hartverskeurende detail brei hy uit oor die dodelike impak daarvan op die geloofsgemeenskap:

My oë is gedaan van huil, dit brand in my, my moed is gebreek … kinders en babatjies sak inmekaar in die strate van die stad.  Hulle soek by hulle moeders iets om te eet en te drink.  In die strate van die stad val hulle om soos gewondes, in die arms van hulle moeders blaas hulle die asem uit.  Wat kan ek vir jou sê … Wie se lyding kan ek vir jou noem dat ek jou daardeur kan troos, Sion?“ (2:11–13)

Die probleem was ook nie net dat die volk Juda sosiaal, ekonomies en polities verwoes is nie.  Dit was immers al erg genoeg.  Maar, hulle worstel nou in ballingskap veral met die feit dat hulle teologiese sekerhede vernietig is.

Hulle het geglo dat God Sy volk, Sy huis (die tempel) en Sy stad sou beskerm.  Dit het sy verbond met Abraham, Moses en Dawid immers behels, soos die Skrifte hulle beloof het.  Maar Hy het nie sy verbond in stand gehou nie.  Hy het die stad van belofte en die plek van Sy teenwoordigheid vernietig en die volk in ballingskap laat wegvoer.

Die vraag was dus brandende:  Hoe kon God soveel ellende oor Sy volk laat kom?  Hoe kon Hy Sy eie beloftes só versaak?  En waar laat dit hulle nou?  Sou daar nog iets oor wees vir die toekoms?  Wat kon hulle nou van God verwag?  Sou daar ’n omkeer moontlik wees?

By Chris van Wyk

bybelskool, Chris van Wyk, Jeremia, Klaagliedere van Jeremia

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.