Bid dat God se wil geskied – Sondag 09:00
Ons eindig baie keer ons gebede met ‘n “laat u wil geskied”. Dit is ‘n baie veilige gebed, want maak nie saak wat gebeur nie, jou gebed sal verhoor word. Óf die Here doen wat jy gevra het, en jou gebed is verhoor. Óf die Here laat iets anders gebeur as wat jy gevra het, en jou gebed is ook verhoor. Jy kan jouself verontskuldig, God het sy wil laat gebeur.
Dit is waarom sommige se gebede eerder ‘n verklaring is, waarin hulle dink dat hulle kan die uitkoms bepaal deur net sonder enige twyfel te vra. Die probleem is net dat jy daarmee baie naby daaraan kom om die Here se arm te probeer draai in jou eie rigting. Wat eintlik beteken dat jy jou eie wil wil laat geskied …
Koning Hiskia moet vir ons almal in dié verband tot versigtigheid maan. Want Hiskia het gekry wat hy gevra het, maar dit het nie so goed uitgewerk vir hom nie.
Die Here het in die 8ste eeu vC moeite gedoen om Hiskia in te lig dat hy sal sterwe. Die profeet Jesaja is na hom toe gestuur (Jes 38; 2 Kon 20; 2 Kron 32). Die Here wou Hiskia op ‘n hoogtepunt na hom toe neem, want hy was ‘n goeie koning wat die volk goed regeer het. Wat eenheid gebring het. Wat die vyande teruggedryf het. Wat vrede gebring het vir sy volk.
Hiskia het egter teëgestribbel teen die geopenbaarde wil van die Here, bitterlik gehuil, en die Here het hom 15 jaar ekstra gegee.
Dit was egter die slegste jare van Hiskia se lewe. Hy het hoogmoedig geraak, gespog met alles wat God hom gegee het by sy vyande. Soveel so, dat hy bygedra het dat die Here die volk gestraf het met ballingskap en die einste vyande hulle oorrompel het.
Hoe bid ‘n mens die Ons Vader gebed? Hoe bid ‘n mens die gebed in die Ons Vader, “Laat u wil op die aarde geskied, soos in die hemel”?
Kom luister Sondag by ons Familiediens 09:00.