This page was exported from Somerstrand Gemeente [ https://ngkerksomerstrand.co.za ]
Export date: Tue Apr 13 19:27:19 2021 / +0000 GMT

Barmhartigheid in ons omgewing



Daar is baie mense en instansies wat ons vrygewigheid benodig. Jy kan via ons gemeente of in jou persoonlike hoedanigheid betrokke raak. Finansiële en ander bydraes is altyd nodig, maar ook jou kennis, ervaring en tyd kan 'n reuse-verskil maak!

MARANATHA
Net om die draai van ons (in Forest Hill) bedryf Maranatha verskeie projekte. Besoek hul webtuiste by www.pechurchnet.co.za/maranatha/home.htm. By Forest Hill is daar Youth Space, 'n skuiling vir meisies. Daar is ook 'n skuiling vir straatkinders (seuns). Siyakathala is 'n oornag-verblyfplek waar mense vir R10 kan stort en skoon kan slaap. Hier is ook 'n werkskeppingsprojek en opleiding word gegee in basiese arbeidsvaardighede. Kontak hulle by 041 586 0017

BARCELONA VOEDINGSKEMA
Die Barcelona voedingskema voed Dinsdae en Donderdae ongeveer 350 kinders tussen die ouderdom van 3 en 15 jaar met stampmielies en bone gemeng met groente (wortels, aartappels) tamatie-puree en vleis-bene. Op Woensdae word die fasiliteite (twee vraghouers) gebruik vir 'n munisipale kliniek wat die gebied bedien. Elke sessie word vooraf gegaan deur sang en 'n evangelisasie boodskap. Die aanbieders word opgelei deur "Street Evangelism". By die jaarlikse Kersfunksie vir al die kinders word lekkernye en Kersgeskenke uitgedeel. Die volwassenes wat behulpsaam is kry ook 'n Kerspakkie en 'n maaltyd. Besoek hulle of raak betrokke: kontak die kerkkantoor by 041 583 5115.

BOSBEWONERS
'n Aantal mense wat in die bos woon, word ondersteun met hul houtkap-projek. Hulle is aanvanklik van 'n saag voorsien, maar het intussen heeltemal selfversorgend geraak. Tans word hulle gehelp met die vervoer en afset van die hout. Hulle word ook gehelp met die aanry van water, stortgeriewe by Die Willows en vervoer na kerk op Sondag-aande. Hulle het reeds 5 sae self aangekoop en is nou selfversorgend t.o.v. kos en petrol. As jy met hulle wil kontak maak, vra by die kerkkantoor.

Bosslapers buite Somerstrand word deur die kwartaal elke Woensdag met sop, brood en die evangelie bedien. Wanneer nodig, word mediese hulp gereël. Hulle word ook gehelp met dokumentasie soos Id-dokumente. Soms vind ons kinders in die bos wat nie skoolgaan nie of volwassenes wat weens omstandighede geen ander heenkome het nie. Familielede of plekke wat hul kan inneem word gesoek, daar word betaal vir hul aanvanklike verblyf by nuwe plekke en/ of vervoer na hulle familielede elders in die land. Kontak Hannes Marais 041 583 4550.

SYDENHAM
Twee maal per week neem van ons lidmate die verby-vervaldatum produkte van die Spar in Somerstrand na die ouetehuis in Sydenham. Dit sluit in vrugte, groente, brood, blikkies kos asook al die vorige aand se warm disse. Die 42 hulpbehoewende senior burgers se finansiële las word aansienlik hierdeur verlig. Kontak die Kerkkantoor.

ACVV
Kamvalethu is 'n inval sentrum vir straatkinders (seuns). Hier leer hulle basiese vaardighede soos lees, skryf, higiëne, ens. Hulle kry kos en kan skoon kom. As daar wel 'n huis is waarheen hulle kan terugkeer, word hierdie pro-ses gehelp met o.a. kospakkies. Kontak Elsje Nelson 041 583 2624.
Khayalethu is 'n kinderhuis wat 36 kinders - almal voorheen straatkinders - huisves. Kontak vir Elsje Nelson.

CMR
Die CMR bied professionele dienste en ondersteuning aan mense in nood ten einde hulle lewenskwaliteit te verbeter sodat hulle tot hulle beste potensiaal kan funksioneer. Behoeftes word bekend gemaak in die gemeente-afkondigings en klere, kos, komberse en finansiële bydraes word geskenk en by die CMR kantore afgegee. Kontak Martie Coetsee 041 583 3500.

MASEKHANE
Kwazakhele Dienssentrum vir bejaardes ontmoet 3 keer per week. Hulle word besig gehou met handwerk, gesels, speletjies, uitstappies en etes. Aan die einde van die jaar word 'n gesellige Kersfunksie in die kerk vir die bejaardes van die sentrum gehou deur 'n Bybelstudiegroep. Kontak Johan McFarlane 041 583 3674.

MTR SMIT
MTR Smit Kinderoord se huis word verfraai, uitstappies gereël en kinders kreatief besig gehou. Die 16 dogters van Huis 9 word van persoonlike benodighede te voorsien. Kontak Charlene Brewis 041 583 5699.

BABAHUISE
Thand'usana versorg mishandelde en weggegooide babas, totdat daar vir hulle 'n veilige, permanente heenkome gevind kan word. Kontak Audrey 082 455 55553. Nog so 'n babahuis is Ithemba Lam. Kontak Alison Bricknell 084 606 8420.

ANDER PROJEKTE WAT ONS GEMEENTE ONDERSTEUN
Kruis Middestad Bediening versorg haweloses in die stad. Combined Christian Ministries to the Poor doen gemeenskapsontwikkeling en versorging. 'n Werker sien om na die behoeftes van kinders by Dora Nginza. Die ACVV het 'n werkskeppingsprojek by hul wassery. By die Oos-Kaap Kinderhuis en Protea Plek van Veiligheid word kinders versorg. Die Noodspens is nie-bederfbare kos wat by die kerk gehou word vir mense wat kom aanklop vir kos of lidmate wat nood het.

Daar is soveel maniere waarop ons elkeen betrokke kan raak. Elke klein bietjie maak 'n verskil.

Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. So vergader hulle vir hulle 'n skat as 'n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry. 1 Timoteus 6:18-19

 

 


Post date: 2011-07-21 13:26:20
Post date GMT: 2011-07-21 13:26:20
Post modified date: 2011-07-21 13:26:20
Post modified date GMT: 2011-07-21 13:26:20

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com