Skip to main content

Author: Vian du Plessis

Familiediens NG Kerk Somerstrand | 3 Julie 2022 09:00 (Moontlik later weens loadshedding.) | Kerk en Youtube

Volg hierdie Skakel vir die opname van die erediens:
(Let wel: Die diens is eers later opgelaai weens Loadshedding.)
Die Here reinig ons van trots – 2 Konings 5:1-14
Van die begin tot die einde van hierdie vertelling is die fokus op Naäman se trots en eer. Vers 1 beskryf hoe ‘n belangrike, suksesvolle en eerbare man hy was. Sy aansteeklike velsiekte het dit alles egter in die gedrang gebring. Sy reis na Israel en die ontmoeting met die profeet was ‘n vernederende ervaring. Tog het hy hom uiteindelik daaraan oorgegee deur hom 7 maal in die nederige, modderige, Jordaanrivier te bad, en hy is van beide sy melaatsheid en sy trots genees! Daarna wou hy al die eer aan die lewende God van Israel gee. Trots in onsself is ‘n gevaarlike ding, want dit maak ons blind en selfbehep sodat ons ook nie die genade van die Here kan ontvang nie. Maar wanneer ons voor die Here nederig word, verheerlik Hy ons ook saam met Jesus.

Familiediens | NGK Somerstrand 15 Mei 09:00 | Kerk en Youtube

Psalm 73 open met die gedagte dat God baie goed is vir dié wat op Hom vertrou! Tog erken hy dat dit nie so maklik is om aan daardie geloof vas te hou wanneer hy rondom hom kyk nie. Dit lyk eerder of die wat op die Here vertrou swaar kry, terwyl die goddeloses voorspoed deur hul ongeregtigheid vergader.

Maar wanneer hy weer die Heiligdom betree en die Here deur aanbidding ontmoet, gee dit vir hom die nodige perspektief om alles anders te sien. Daardie ontmoeting herdefinieer woorde soos voorspoed en teenspoed, sodat dit nie meer net praat van materiële rykdom in die hede nie. Ons ontmoeting met Christus tydens aanbidding herinner ons aan die vreeslike uiteinde van die sonde, en dit vertel hoe ons daarvan verlos word deur ‘n pad wat lyding insluit. Sonde is sleg en dit maak alles sleg. Maar God is goed en red ons daarvan. Daarom moet ons nie toelaat dat die tydelike toestand van sake ons fokus van God af trek nie.

Die digter se gevolgtrekking is dat dit vir hom goed is om naby God te bly, omdat hy God se goedheid wil indrink sodat dit sy gedagtes en lewe vul. Net dan sal hy staande kan bly in ‘n wêreld wat so teen alles wat goed is rebelleer.

Ds Vian du Plessis

Nuusbrief

Ds Vian du Plessis intreepreek | NGK Somerstrand 8 Mei 09:00 | Kerk en Youtube

Petrus word in Johannes 21 bevestig in sy roeping tot herderskap vir Sy kerk. Die bedoeling is nie dat hy as die enigste herder aangestel word nie, want daar is baie ander in die Bybel wat dieselfde roeping ontvang.

Trouens, almal wat deur Jesus se genade herstel word, word herstel tot die roeping van Genesis 1:27 wat sê dat God die mens gemaak het as sy verteenwoordiger op aarde. Petrus het vir Jesus drie maal verloën en dit het hom geknak, want hy het die Here baie liefgehad. Hy was trots op sy liefde vir Jesus, maar dit het hom in die steek gelaat.

1 Johannes 4:10 sê:

“Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.”

Dis die duur les wat Petrus moes leer. Só word elke gelowige herstel, geroep en gestuur. Nie deur ons eie krag en liefde vir God nie, maar alleen deur sy genadige en wyse besluit. Dít moet maak dat ons hierdie roeping slegs as genade kan ontvang en in groot nederigheid, bewus van ons swakheid en feilbaarheid, kan uitleef. Hierdie roeping is om Jesus aan sy skape bekend te maak en op hom te vertrou omdat Hy alleen herstel kan bring.