Ark Herstelwerk

Na bykans twee dekades, het ons gemeente se Ark behoorlik begin lyk asof daar al jare lank twee van elke dier daarin woon! Almal wat gereeld daarbinne gewerk het, sal weet watter verleentheid dit naderhand geword het –sodanig dat die Bestuursraad verlede jaar besluit het om nie meer die Ark te verhuur vir nie-gemeente aktiwiteite nie.

Gelukkig kan ons, na hierdie vakansie, weer al wat leef nooi om pare-pare na die Ark toe te kom! Danksy die handewerk van Tom van Deemter en sy span, lyk die Ark nou weer splinternuut, gereed vir die vloed (van mense, natuurlik). Aan die binnekant is haar mure mooi gepleister en geverf, terwyl die hout aan die buitekant ‘n nuwe laag vernis gekry het. Dan praat ons nog nie eers van die nuwe kaste waarin alles nou stof- en gogga-vry gebêre kan word nie. Ook die braaiplekke se skoorstene is toegemaak. Hierdie braaiplekke kon weens die trek wat dit veroorsaak het, nooit gebruik word nie. Nou kan die koue lug nie meer in die winter daar inwaai nie en op winderige dae bly die stof buite.

Gaan maak gerus ‘n draai en waardeer die nuwe Ark – gereed om weer ten volle gebruik te word!

     

Trackback from your site.

Leave a comment