Aanbid saam – Matteus 18:15-20

Reik uit na dié wat teen jou sondig

Aanbid saam - 12 OktoberHierdie toespraak van Jesus, die kerkrede, het alles met onderlinge verhoudinge te make.  Jesus gaan veral dieper in op die wyse waarop onderlinge verhoudings optimaal in standgehou kan word.  Hy gee onder andere hier die opdrag dat daar op ’n liefdevolle wyse uitgereik moet word na iemand wat teen jou sondig.

Ons ken dit goed, dink ek.

  1. In die eerste rondte probeer jy dit uitsorteer “tussen jou en hom/haar alleen”.
  2. In die tweede rondte, as ’n gesprek onder vier oë nie suksesvol was nie, neem mens een of twee mense, steeds ’n klein groepie, saam om as getuies te dien van jou eerlike poging om die saak te besleg.
  3. In die derde rondte word die gemeente (die ekklesia – die kerk) ingelig.
  4. En in die vierde en laaste rondte word hy of sy nie meer as deel van die geloofsgemeenskap geag nie.

Laasgenoemde aksie, om iemand as ’n tollenaar of ’n heiden te beskou, het natuurlik meer effek gehad in die eerste paar eeue, omdat jy dan sonder opsies was om in ’n geloofgemeenskap tereg te kom.  Vandag is dit ietwat anders.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

Verwelkoming

Toetrede

Lied 466:1-4 – Aanbiddelike Skepperheer, aan U die dank, aan U die eer – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang en aanbidding

Psalm 98:1,3 – Sing van die dade van die Here, kom sing vir Hom ’n nuwe lied – staan

Lied 445:1,3,4 – Drie-enig God, ons wil U eer met smeek- en dankgebede – staan

Toewyding

Lied 491:1,5 – ‘k Het Jesus lief, Hy is my lig en krag – sit

Gebed

Skriflesing

Jesus is in Matteus 18 besig om die dissipels te leer hoe om as koninkrykskinders in verhouding met mekaar te moet lewe.  Hierdie vierde toespraak van Hom, die sogenaamde kerkrede, begin met ’n vraag van die dissipels oor wie nou eintlik die belangrikste in die koninkryk van die hemele is.  Dit is nogal ironies gegewe dat Jesus so pas oor sy eie kruispad gepraat het.  Jesus antwoord daarom nie net dié vraag nie, maar brei uit oor die verhoudinge binne die kerk wat pas by die model van selfontlediging wat Hy so pas vir hulle gegee het.

Dit handel onder andere oor die regte gesindhede (18:1-5), die vermyding van struikelblokke (18:6-9), die uitreik na afgedwaaldes (18:10-16), die opdrag tot onderlinge teregwysing (18:18-20) en tegelykertyd die opdrag tot oorvloedige vergifnis wat in die vorm van ’n gelykenis oorgedra word (18:21-35).  Daarmee word die gedeelte wat handel oor die gemeenskap van die koninkryk afgesluit.

MATTEUS 18:15-20

Ons lees hfst. 18:15-20 wat handel oor hoe koninkrykskinders mekaar onderling teregwys.

15 “As jou broer teen jou sondig, moet jy hom onder vier oë gaan teregwys. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. 16 As hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke saak bevestig mag word. 17 As hy weier om na hulle te luister, sê dit vir die gemeente. En as hy ook weier om na die gemeente te luister, laat hom vir jou wees soos ‘n heiden en ‘n tollenaar.  18 “Amen, Ek sê vir julle: Wat julle ook al op aarde bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat julle ook al op aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees. 19 Verder, Amen, amen, Ek sê vir julle: As twee van julle op aarde saamstem oor enigiets wat julle vra, sal my Vader in die hemele dit aan julle toestaan. 20 Want waar twee of drie in my Naam byeen is, daar is Ek in hulle midde.” 

Woordverkondiging

Reik uit na dié wat teen jou sondig

Hierdie toespraak van Jesus, die kerkrede, het alles met onderlinge verhoudinge te make.  Jesus gaan veral dieper in op die wyse waarop onderlinge verhoudings optimaal in standgehou kan word.  Hy gee onder andere hier die opdrag dat daar op ’n liefdevolle wyse uitgereik moet word na iemand wat teen jou sondig.

Ons ken dit goed, dink ek.

  1. In die eerste rondte probeer jy dit uitsorteer “tussen jou en hom/haar alleen”.
  2. In die tweede rondte, as ’n gesprek onder vier oë nie suksesvol was nie, neem mens een of twee mense, steeds ’n klein groepie, saam om as getuies te dien van jou eerlike poging om die saak te besleg.
  3. In die derde rondte word die gemeente (die ekklesia – die kerk) ingelig.
  4. En in die vierde en laaste rondte word hy of sy nie meer as deel van die geloofsgemeenskap geag nie.

Laasgenoemde aksie, om iemand as ’n tollenaar of ’n heiden te beskou, het natuurlik meer effek gehad in die eerste paar eeue, omdat jy dan sonder opsies was om in ’n geloofgemeenskap tereg te kom.  Vandag is dit ietwat anders.

Wat sê Jesus vir ons hiermee?

Sorteer dinge uit voor dit in onderlinge vetes verander

Die punt wat Jesus maak, is dat die onus steeds volledig op die geloofsgemeenskap rus om onderlinge konflik en sondige optredes uit te sorteer voor dit in onderlinge vetes verander.  As dinge regtig ontplof, is dit moeilik om uit te sorteer.

Jesus wys hiermee vir ons op die geweldige verantwoordelikheid wat rus op die geloofsgemeenskap om dié manier van doen te volg, want dit het ewige konsekwensies.  Hoekom?  Want waar twee of drie saamstem hieroor, sal God die Vader dit aan hulle toestaan.  God is immers in hulle midde.

Ons is geneig om hierdie teks van Jesus se teenwoordigheid in ons midde buite konteks te lees, asof dit net te make het met sy teenwoordigheid as ons Hom aanbid.  Maar die gebedsverhoring wat hier ter sprake is, dui nie maar net op enigiets nie.  Hier dui dit spesifiek op Jesus se teenwoordigheid wat met onderlinge vermaning te make het.  Daar is wel ander tekste wat natuurlik oor ander tipes gebedsverhoring praat, maar dit is nie wat Jesus hier bedoel nie.  Hier gaan dit om sy teenwoordigheid as konflik besleg word in die geloofsgemeenskap.

En ons moet dit goed hoor.  Ons het ’n dure verantwoordelikheid om uit te reik en uit te sorteer.  Ons is die gemeenskap wat die boodskap van versoening het, wat aan hierdie wêreld wys hoe dit werk.  Vir daardie doel is die Here in ons midde.  Vir daardie doel gee Hy vir ons wat ons vra.  Vir daardie doel gee Hy vir ons wysheid en verdraagsaamheid en maniere om die sake van die geloofsgemeenskap te reël.

Want, waar twee of drie in my Naam byeen is, daar is Ek in hulle midde

Hoekom?  Want aanbidding is iets wat in die eerste plek met God te make het.  Hy is die hart daarvan: “Want waar twee of drie in my Naam byeen is, daar is Ek in hulle midde.”  En ons moet sorg dra dat Hy aanbid word, dat ons almal saam Hom kan aanbid.

Daarom is aanbidding ook altyd spesifiek.  Dit groei uit ons onderlinge verhoudinge.  Dit gaan oor die werklikheid van wat tussen ons gebeur.  In die kollig is in dié gedeelte konflikhantering.  En dit is belangrik.

Ons sien dit eintlik regdeur die NT.  Lees net in Handelinge oor wat gebeur het waar twee of drie in Jesus se Naam bymekaargekom het:

  • Wanneer die Joodse Raad die dissipels dreig om nie langer in die Naam van Jesus te preek nie, vergader die geloofsgemeenskap en bid tot die Here wat in hulle midde aanwesig is: “En nou, Here, slaan ag op hulle dreigemente en gee dat u diensknegte u boodskap met alle vrymoedigheid verkondig,” en Hy antwoord deur die plek te skud en hulle met die Heilige Gees en met vrymoedigheid te vul, sodat hulle die boodskap van Jesus onbevreesd kan verkondig (Hand. 4).
  • Toe Petrus deur Herodes in die tronk gegooi is om hom leed aan te doen, het daar van die gemeente “vir hom ‘n volgehoue gebed tot God opgegaan” en het ’n engel van die Here hom uit die tronk gaan red (Hand. 12).
  • Toe Paulus en die gemeente in Antiogië op ’n tyd besig was om te bid en te vas, het die Heilige Gees vir hulle gesê om Paulus en Barnabas af te sonder vir die werk waarvoor God hulle geroep het, en die evangelisasie van die hele wêreld het ’n aanvang geneem (Hand. 13). Só is Turkye en Europa bereik, ook Afrika en later deur ander gelowiges die roete na Asië ingeslaan en het Christelike gemeenskappe reg deur die bekende wêreld versprei.

Aanbidding sluit voorbidding en hulpverlening in

En die tipe byeenkomste moet vandag ook gehou word, want die bedreiging van die wêreld gaan net voort.  Irak en die kinders van die Here daar is op die oomblik in die brandpunt.  Ons kan bid vir die mense van Mosul. Ons kan bid teen die gevaar van ISIS. (Kry meer inligting oor Irak by https://www.opendoors.org.za/afr/vervolgde_christene/wereldwaarnemingslys_2014/irak/).

Bid bv. in julle kleingroepe vir die gelowiges in Irak (en ander plekke):

  • Vir gelowiges vanuit ʼn Moslem agtergrond wat gereeld teenstand van hul families en gemeenskappe in die gesig staar.
  • Vir wysheid vir Christene vanuit die buiteland, wat daar werk, en meer en meer deur die owerhede dopgehou word.
  • Vir werkers wat op verskillende maniere ontwortelde Christene ondersteun deur traumaberading, opleiding en projekte om ʼn inkomste te genereer. Ook familie van ons eie lidmate is by sulke werk betrokke.

Dit is só belangrik dat ons betrokke raak by voorbidding en hulpverlening aan die verskeie krisispunte in die wêreld, bv. by Geopende Deure se verskillende aksies: https://www.opendoors.org.za/afr/.  Lees daar hoe jy kan intree in vir ’n familie in Koeweit.  Skryf daar ’n brief om ’n gelowige in Iran te bemoedig.  Bid vir China met die inligting wat hulle daar gee, wat nie net belangrik is weens hulle stryd teen die Dalai Lama nie, maar weens die verdrukking wat steeds teen Christene plaasvind.

Ons aanbidding is ’n dinamiese en lewensveranderende ervaring van God se teenwoordigheid.  Dit kan jou kleingroep ervaring van God se teenwoordigheid transformeer as jy begin om vir die uitdagings wat die koninkryk van God ervaar regdeur die wêreld te bid.

Aanbidding is ’n sleutel aktiwiteit van ’n Gestuurde Gemeente

Geen wonder dat aanbidding daarom een van die sleutels is om ’n Gestuurde Gemeente te kan herken nie.  Dit is immers waar aanbidding, soos die Skrif dit uitspel, sy sentrale plek begin inneem in die lewe van ’n gemeente dat wonderwerke gebeur, dat ’n gemeente sy grense oorskry en dat die wêreld kennis neem van die teenwoordigheid van God by ons.

Ons aanbidding is ’n openbare getuienis wat bewys dat ons as kerk getrou is aan die enigste God, die een wat aan ons bekend is as Jesus Christus, en wat ons op talle maniere in ons lewens ervaar in die wyse waarop die Heilige Gees onder ons en in ons werk.

Aanbidding is nie net iets wat ons hier in die kerkgebou doen nie, dit is deel van ons getuienis in die wêreld.

Ons val hier in “eerbetoon” (aanbidding) op ons gesig voor die Heerser van die Heelal neer, soos ons dit in Psalm 95 sê: “Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor die Here ons Skepper!” (Ps. 95:6).  Daarmee verklaar ons ons trou bo alle ander dinge aan die enigste ware God.

Ons probeer in ons aanbidding ook nie net ons eie behoeftes bevredig nie. Natuurlik voorsien God wel in ons diepste behoeftes, selfs behoeftes waarvan ons nie eers altyd geweet het ons het nie. Maar aanbidding gaan nie in die eerste plek oor ons nie.  Dit gaan in die eerste plek oor God. Ons aanbidding word aan God gerig en ons verkondig daarmee aan die wêreld wat God gedoen het. En dit gaan in die tweede plek oor die nood in die wêreld.

Daarom kan ons style van aanbidding en musiek verskil, maar wat belangrik is, is dat ons almal God en sy koninkryk in die middelpunt van ons aanbidding plaas.  Want, ons aanbidding is die sentrale, openbare handeling waardeur ons God se teenwoordigheid en die toekoms wat Hy vir die wêreld beplan, met vreugde en danksegging vier.

Die hele lewe is ’n erediens, ’n aanbidding van God

Wat ons dus moet verstaan, is dat Jesus hier in Matteus vir ons net een voorbeeld gee van hoe ware aanbidding werk.  Dit groei hier uit ’n konfliksituasie.  Daar is egter baie ander maniere waarop aanbidding werk.  Die Psalms is vol daarvan.  Die OT verhale van die profete, priesters en konings is vol daarvan.  Dit omsluit die hele lewe.  Wanneer jy bid in verwondering, aanbid jy God.  Wanneer jy getuig van God se wonders, aanbid jy God.  Wanneer jy in die tempel voor Hom kniel, aanbid jy God.  Wanneer jy in die berge jou aan die natuurskoon verwonder, aanbid jy God.  Wanneer jy die nood van die wêreld voor Hom bring, aanbid jy God.

Die hele lewe is ’n erediens, ’n aanbidding van God.  Geen wonder dat ons Liedboek drie rubrieke het naas die 150 Psalms nie: 1) liedere vir die erediens, 2) liedere vir die liturgiese jaar, en 3) liedere vir die erediens van die lewe, wat gaan oor God se skepping en onderhouding van alles, sy heerskappy, die kerk, oor geloof en vertroue, oor die huwelik, oor kindwees, oor liedere vir die oggend en liedere vir die aand, oor tafelgebede, oor die jaarwisseling, oor lyding en nood, oor sterwe en begrafnis en oor ons hoop en die voleinding van die lewe.  ’n SKATKIS wat ons nie net in die erediens moet gebruik nie, maar oral!

I fear your kindness –  I want to become a word of God

Ek sluit af met die verhaal van Ignatius wat ook verband hou met hierdie teks in Matteus 18.

Ignatius, ‘n biskop van Antiogië in die begin van die tweede eeu n C, was op pad na Rome.  Hy was ter dood veroordeel weens sy geloof in Christus.  Op pad deur Turkye word hy besoek deur gelowiges uit Rome wat hulle invloed wou gebruik om hom van sy vonnis te onthef.

Sy hele lewe het hy geleef vir die Here Jesus, het hy Hom aanbid, en hy was gereed om sy getuienis met sy lewe te beseël.  Daarom het hy nie gedink dat die Romeinse Christene hom ‘n guns sou bewys nie.  Inteendeel.  Dit sou hom verhinder om Jesus te volg tot die einde toe.

Daarom skryf hy in sy brief aan die Christene in Rome, interessant genoeg uit die stad Smirna, hedendaagse Izmir, waar ons sendelinge op ‘n tyd gedien het, die volgende aangrypende woorde:

“I fear your kindness, which may harm me.  You may be able to achieve what you plan.  But if you pay no heed to my request it will be very difficult for me to attain unto God.”

Al wat hy wil hê van sy mede Christene is dat hulle sal bid dat hy getrou bly, met sy hele hart, aan die pad wat die Here vir hom gegee het:

“If you remain silent about me, I shall become a word of God.  But if you allow yourselves to be swayed by the love in which you hold my flesh, I shall again be no more than a human voice.” (Letter from Ignatius, Romans 1,2-2.1)

Geen wonder dat Ignatius bekend geword het as die “Draer van God” en dat die legende ontstaan het dat hy die jong kind was wat Jesus gebruik het om te illustreer hoe ‘n mens die koninkryk van die hemele binnegaan (Matt 18:1-5).

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 449:1,4 – Halleluja!  Ons loof U, Heer; aanbid U, Vader, gee U eer – staan

Seën

Lied 309:1 – My lewe bly aan U gewy, o Vader van genade! – staan

 

     

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Genévieve Young

    |

    ASAP

    Ek is n 2de jaar Argitek student, van NMU.
    Ek is dringend opsoek na n tuinwoonstel.

    1 or 2 bedroom/s
    1 or 2 bathroom/s
    Kitchen
    1 or 2 Parking/s (secured)
    Space to work (medium space required)

    Kontak my groot asb.
    Genévieve Young
    060 6514 417
    Of Morné Young
    082 4211 984

  • Avatar

    Anita

    |

    So jammer ek het nie voorheen kommentaar gesien nie. Sy is geholpe. Dankie

  • Avatar

    Carla

    |

    Hi, is die woonstel nog beskikbaar?

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Elizabeth, jou vraag is relevant. Vir my gaan dit alles oor konteks. Die regte ding in die verkeerde konteks kan ‘n mens ontstel, terwyl in die regte konteks dit ‘n mens kan ophef. Die idee van Jesus as die Heer van die dans kan goed met sy eie opmerkings oor sy boodskap in hierdie teks verbind word. In ander kontekste kan dieselfde boodskap oor die dansende Jesus afbreek doen aan sy Goddelikheid. Groete.

  • Avatar

    Elizabeth

    |

    Dankie vir die preek..
    Ek het die lied in ‘n video gesien waar daar ballet gedans word met die ” Tema Dance with Me”. Dit was pragtig maar ek het gevoel dit pas nie.
    Was ek verkeerd?
    Ek het hulp gesoek en -Kom na My toe – en op hierdie preek afgekom.
    Baie dankie dit was verfrissend.
    Goeienag.
    Elizabeth