• Home

Hoe verander hierdie wêreld? – Handelinge 13-16:5

Die verhaal van die kerk
Tema: Hoe verander hierdie wêreld? – Handelinge 13-16:5
Youtube 09:00 2 Augustus 2020  Somerstrand Familiediens
Continue Reading

Youtube erediens 2 Augustus 09:00 – Hoe verander hierdie wêreld?

In elke mensehart is daar ‘n bewussyn van die ewigheid weggelê (Pred 3:11). ‘n Verlange na betekenis. ‘n Verlange na heelheid. ‘n Verlange na God. Mense soek die waarheid. Mense soek vir antwoorde vir die konflikte waarin hulle lewe. Hulle soek na verandering. Na vrede. Na geluk. Na lewe.

En daar is soveel maniere waarop hulle dit soek.

• Hulle soek dit in vryheid van reëls en konvensies.
• Hulle soek dit in die opwinding van plesier.
• Hulle soek dit in die begeerte na mag. Dit is waarskynlik die grootste versoeking vandag.

Hoe verander hierdie wêreld?

Skakel in Sondag om 09:00 by die NGK Somerstrand se Familiediens op Youtube en luister na die antwoord wat Paulus vir ons gee uit Handelinge 13-16:5.

Skakels

Continue Reading

Hou sinvolle Bybelstudie saam met jou huisgesin

Ek het ‘n navraag gekry oor hoe om sinvolle Bybelstudie saam met jou huisgesin te hou. Hier is die metodiek wat ek voorstel, en ‘n paar opsies vir Bybelboeke om deur te werk aan die hand van my bydraes. Dit is alles gratis.

METODIEK

STILTETYD

Ek gebruik die volgende basiese metodiek as ek die Bybel lees. Lees, luister, leef

  1. LEES – Raak stil voor die Here. Lees die gedeelte deeglik deur. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Soek vir een of meer sleutelgedagtes wat jou besonderlik tref. Skryf dit in jou joernaal neer. Lees dan wat ek geskryf het oor die hoofstuk in die Bybel en dink na oor wat jou daarin tref.
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir jou deur die sleutelgedagte(s) wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat moet jy dink of doen daarmee (insigte)? Wat belowe dit vir jou (beloftes)? Wat vra dit van jou (opdagte)? Wat is die kern van die boodskap daarvan vir jou dag en lewe?
  3. LEEF – Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit in sy teenwoordigheid.

HUISGODSDIENS OF KLEINGROEPE

As ‘n mens dan saam kom vir huisgodsdiens of in ‘n kleingroep (na elkeen stiltetyd gehou het), kan ‘n mens met mekaar deel wat jou bybly – insigte, beloftes, opdragte – en dan ‘n tyd van gebed gee waar julle die Here aanbid, voorbidding doen, en Hom loof vir gebedsverhoring.

BYBELBOEKE

1. Prontuit die Waarheid – die vier evangelies

Werk die vier evangelies saam deur.

2. Die verhaal van die kerk – Paulus versit berge

Volg die verhaal van Paulus in Handelinge en sy dertien briewe, want dit is die verhaal van die kerk. Só sal dié verhaal ook jou verhaal word.

3. Ek kom gou – Die boek Openbaring

Werk Openbaring deur.

4. Klaagliedere van Jeremia

Jeremia help ons om sin te maak van die Covid-19 tyd.

5. Werk die Bybel deur

Gebruik die Bybelskool materiaal om enige boek in die Bybel deur te werk. Daar is inligting oor elke hoofstuk in die Bybel. Lees dit kronologies deur, of soos die Here jou lei.

Chris van Wyk

Continue Reading

OP PAD MET GOD  2020 – Dissipelskap vir vandag

By OP PAD MET GOD kyk ons op ‘n vars en nuwe manier na geloof en na dissipelskap, én na die inhoud van ons lewenspad saam met God.  Dit behels gewoon ‘n hand-aan-hand wandel saam met Jesus op ‘n innerlike reis met God, en wel op ‘n roete wat Hy uniek in ‘n mosaïek vir ons elkeen persoonlik beplan het.

Met die saam-lees van die Bybel is daar verrassende wyses hoe geestelike gewoontes – ook dissiplines genoem, jou kan help om te begin verstaan WIE God is en HOE God is, en om die werklikheid van God in jou daaglikse lewe te kan raaksien en beleef.  Ons gaan saam met mekaar stap op hierdie ontdekkingreis,

Jy sal saam hier kan ontdek op watter wyses God praat en veral hoe Hy met jou praat, asook wat Sy wil vir jou eie lewe is.  Op hierdie geestelike roete kry ’n ontmoeting-met-Hom en ’n aanraking-deur-Hom ‘n héél nuwe inhoud.  Vervolgens sal jy vorentoe kan vind dat jy in jou gees ervaar dat die Gees van Christus jou immer bybly, en met jou gees resoneer, asook dat dit jou bly bekragtig om saam met Jesus te leef.

Continue Reading

Waar is God? – Handelinge 6-12

Die verhaal van die kerk
Tema: Waar is God? – Handelinge 6-12
Youtube 09:00 26 Julie 2020  Somerstrand Familiediens

Continue Reading

Youtube erediens 26 Julie 09:00 – Waar is God?

Ek fokus die volgende 18 weke op die lewe van Paulus. Dit is tot en met Advent. Ek gebruik die boek Handelinge en Paulus se dertien briewe. Titel: Die verhaal van die kerk – Paulus versit berge.

Sondagoggend begin ek met die vraag Waar is God?

Daar is ‘n Bybelstudieboek vir stiltetyd en kleingroepe. Jy kan alles gratis aflaai ons op webwerf. Daar is ‘n inleidende hoofstuk. Daarna is daar 18 hoofstukke wat ooreenstem met die 18 weke se eredienste. Hierdie week is hoofstuk 1 met Handelinge 6-12 op die tafel.

Continue Reading

Die verhaal van die kerk – Paulus versit berge

Waar is God?

In hierdie inperking; In jou lewe; In die kerk; In hierdie wêreld.

Dit is ‘n vraag wat die dissipels ‘n paar jaar na Jesus se hemelvaart ook gevra het. Toe die vreugde van Pinksterdag uitgeloop het op vervolging. Toe die standvastigheid van Stefanus beantwoord is met steniging. Toe die gelowiges uit Jerusalem moes vlug vir hulle lewe.

Op die koop toe het Paulus die verleentheid van die gelowiges aangegryp en die gemeente in Jerusalem verwoes, sê Lukas in Handelinge 8. Paulus het van huis tot huis in Jerusalem gegaan en die mans en vroue uitgesleep en in die tronk laat gooi. Hy het soos ‘n besetene agter die vlugtelinge aan gereis om hulle met geweld terug te sleep na Jerusalem om hulle in die tronk te laat gooi.

Waar was God?

Op die pad na Damaskus; Om Paulus te ontmoet; Om Paulus van ‘n besete vervolger in ‘n begeesterde verkondiger van die evangelie te verander.

Dit is nie anders vandag nie. Al is ons in ‘n heel ander situasie met die Covid-19 pandemie. In die grootste uitdagings wat ons beleef, is die Here nie net by ons nie, maar besig om sy plan uit te werk

Om ons te roep; Om ons te stuur; Om ons te begelei.

Totdat hierdie hele wêreld die boodskap van Jesus gehoor het.

Volg saam met die volgende vier maande die lewe van Paulus, hierdie passievolle pionier vir die evangelie.

Soos Lukas dit beskryf in die boek Handelinge; Soos Paulus self aan die woord kom in sy dertien briewe.

Paulus se verhaal is die verhaal van die kerk. Dit is die verhaal van ‘n man wat berge versit vir die evangelie. Maak nie saak wat die uitdagings was nie. Wat die evangelie gevat het waar dit nog nie in hierdie wêreld was nie. Oor berge en deur riviere. Te voet en per boot. Na enkelinge en skares. In klein dorpies en groot stede. In tronke en raadsale.

Tot almal die boodskap gehoor het, selfs die konings van sy wêreld.

Daarmee het Paulus se verhaal ook die verhaal van die Christelike kerk geword.

Ons, die kerk is geroep om soos Paulus gestuurdes te wees, om berge te versit in diens van die evangelie. Ons is geroep om alle hindernisse te oorkom sodat hierdie wêreld in God kan glo en op hulle beurt gestuurdes kan word.

God die Vader roep ook vir jou om die boodskap van Jesus Christus in die krag van die Heilige Gees regdeur die wêreld tot aan die einde van die aarde te vat.

  • Laai die Die verhaal van die kerk af en doen Bybelstudie saam met my uit Handelinge en die dertien briewe van Paulus.
  • Luister elke Sondag na die erediens op Youtube waar ek 18 temas daaruit gaan verkondig (daar is ook ‘n kleiner video en klankbaan beskikbaar). Skakels na die verskillende bydraes hieronder.
  • Laat die Here jou lewe hierdeur verander sodat Hy jou kan gebruik om die taak van die kerk te voltooi.
Continue Reading

God laat alles ten goede meewerk – Romeine 8:26-30

Jaar van die Bybel
Tema: God laat alles ten goede meewerk – Romeine 8:26-30
Youtube 09:00 19 Julie 2020 Somerstrand Familiediens

Kyk op Youtube

Kyk na kleiner video (171 MB)

Luister na klankbaan (89 MB)

Verwelkoming

Welkom van waar in die wêreld jy ook al af inskakel.

Die mense wat van Februarie die Psalms deurlees, het die week begin met Psalm 119, die langste Psalm, 172 verse! Psalm 119:65-72 wat vanoggend gelees is, se boodskap is: U is goed en U doen goed; leer my u voorskrifte. Omdat God goed is en goed eon, wil die Psalmis ons oorreed om God toe te laat om ons te onderrig.

Hoekom? Want, God se woorde, sy bevele, sy voorskrifte, sy opdragte, sy wet, en sy onderrig is die enigste goed: “Die onderrig uit u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer.”

Wat ‘n voorreg om vandag as gemeente voor God te vergader sodat Hy ons kan onderrig!

Verjaarsdae

Baie geluk aan Theresa du Plessis, Sarolien Heunis, Liésl Knipe, en Graham Stander (10) verjaar vandag. Lee-Ann van Vuuren word ook 10 jaar oud hierdie week. Só ook Jason Hoops. Geluk ook aan Eben Schoeman (9), Robert Pienaar (8), Elle Marais (3) en Danie Kritzinger (2).

Kategese

Ons skakel vir die laerskool kategese in die tyd van die inperking in by die Lofkabouters van ds Thania Boha van PE Hoogland. Vandag is dit C vir Christus in haar Geloofsalfabet. Ds Pieter Nel staan vir haar in. Gebruik die 10 minute aanbieding vir gesprek en aktiwiteite met julle kinders. Geniet! https://youtu.be/IL3VkS0T4eY

Behoeftes

Onthou die kos en klere projekte wat ons deurlopend hardloop. Bydraes vir Jaco en Annemarie Barnard by Bognorstraat 6 en vir Theo by Total en Elsje en Cecile. Bydraes vir die Noodfonds is ook steeds welkom.

Pulse

Ons informele erediens vanaand, Pulse, gaan oor die tema van ‘n verhouding met mense van ‘n ander geloof. Hoekom moet ek my geloof met iemand anders deel? Elspeth Liebenberg gaan dit hanteer.

Youtube

Teken sommer nou in op die Youtube kanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe knoppie. Jy kan notifications ook aansit sodat jy kennis kan kry van elke volgende video.

Onthou die kleiner formaat video of die klankbaan. Die skakels is op Whatsapp, nuusbrief, web en Facebook beskikbaar.

Votum en Seëngroet

28 Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is. (Rom 8:28)

Kindertyd

Gebed

Loflied

Lied 154 en 220 Kom nou tesaam en Met ons harte sing ons, Here

Skriflesing en prediking

Het jy al ervaar dat dinge net heeltemal verkeerd loop?

Ek lees die ware verhaal van ‘n koor in Beatrice, Nebraska, wat die Saterdagmiddag (1 Maart 1950) sou oefen van so 19:15 af. Die predikant het die plek gereed gemaak en gou huis toe gegaan vir ‘n vinnige aandete. Hy was net reg om terug te gaan toe hy sien sy dogter se rok was vuil. Die rok wat sy toe wou aantrek, moes eers gestryk word, so hy was laat.

Een van die hoërskool meisies, Ladona, het gesukkel met haar wiskunde en wou dit eers klaarmaak. Twee ander se motor wou nie vat nie, so hulle bel toe vir Ladona om hulle op te tel, so hulle al drie was laat.

Mevrou Schuster moes haar jong dogter by haar ma gaan los, want dié wou nie saamgaan nie, en sy was laat.

‘n Ander wou eers ‘n belangrike brief skryf. Nog ‘n ander was doodgewoon lui en wou wag tot die allerlaaste minuut. ‘n Ander het die horlosie nie dopgehou nie, en so lekker gekuier dat hy ook laat was.

Die pianis Marilyn Paul wou vroeg kom, maar het aan die slaap geraap en die dirigent, haar ma, was gevolglik laat saam met haar.

Om 19:25 het die kerk opgeblaas. Die dak het ingeplof en die mure het omgeval, weens ‘n lekkende gassilinder. Maar die koorlede was almal laat. Iets wat nog nooit tevore gebeur het nie.[1]

Dit is nie verbeelding nie.

God laat alles ten goede meewerk.

Kom ons luister na wat Paulus ons hieroor wil leer.

Romeine 8:26-30

As jy nie weet wat om te bid nie

As Paulus skryf oor die lyding van hierdie wêreld, die feit dat dinge nie werk soos dit moet nie, nie in die skepping nie, ook nie in ons lewe nie, en hy praat oor die sug wat daar in ons lewe is na verandering, dan skryf hy oor die Gees en sê die volgende:

26 So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie;

Dit het al baie met my gebeur dat ek bid oor ‘n saak, maar ek nie regtig weet wat ek moet vra nie. Daar is ‘n stuk onsekerheid in my oor wat die regte pad vorentoe sal wees. En dan is ek eintlik maar net stil voor die Here.

Soms is die stilte so lank dat ek eintlik by myself wonder of ek nie maar moet ophou nie. Die versoeking is daar om op te hou bid, om maar Gods water oor Gods akker te laat loop, want wat gaan my gebed, veral so ‘n stil gebed, nou eintlik help!

Tree die Gees vir jou in

Maar, sê Paulus, dit is juis wanneer jy jouself as swak beleef, as jy nie verder weet nie, as jy stil geraak het, wat jy moet aanhou bid. Want dit is dán wat die Gees aan die werk kom, sê Paulus.

… maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie.

Hierdie hulp van die Gees is iets wat in ons hart gebeur, wat ons op ‘n baie besondere manier verbind aan ons Vader wat in die hemel is. Die Gees tree vir ons deur vanuit ons hart, vanuit ons ongevormde gedagtes, met God in gesprek te tree. Hy bring ons sugte voor God in die vorm van sy eie versugtinge, om dié dinge wat ons nie weet nie goddelike terme aan die Vader te bring.

Hy is immers die Helper, die Voorspraak, die Trooster, die Advokaat.

Wanneer ons swak is en nie mooi weet waarvoor ons behoort te bid nie, dan kom die Gees ons te hulp!

Wat ons van onsself moet verstaan is dat ons tussen twee wêrelde lewe. Die huidige wêreld wat onder die oordeel van God is, en die toekomstige wêreld waar ons vir ewig in God se teenwoordigheid sal lewe.

En die Gees is nie net die eerste gawe in ons van die toekomstige bedeling nie, maar Hy is ook die Een wat aktief in ons binnekant aan die werk is om die suigkrag van die huidige wêreld tot niet te maak en ons in die vryheid wat God vir sy kinders bedoel het, te laat lewe.

Daarom hou ons aan bid, selfs al is dit ‘n worsteling, selfs al weet ons nie presies wat ons moet bid nie.

God weet wat die bedoeling van die Gees is

En dit is dan wat die wonder gebeur:

27 Hy wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, dat Hy volgens die wil van God vir die heiliges intree.

God wat weet wat in ons hart, in ons gedagtewêreld, aangaan, weet ook wat die bedoeling van die Gees is. En Hy weet dat die Gees volgens die wil van God intree vir ons as die heiliges, die kinders van God.

God reageer dus nie net op ons eie onbeholpe woorde nie, maar juis op die gebed van die Gees wat seker maak dat God se wil in ons lewe sal plaasvind.

God sorg dat alles ten goede meewerk

En dit is daarom dat:

28 Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is;

Dit is die belofte wat ons daarom kan vasgryp. Dat maak nie saak of ons presies weet wat moet gebeur nie. God weet wat moet gebeur. En sy belofte is dat alles ten goede sal meewerk vir hulle wat God liefhet, vir ons wat volgens sy voorneme geroep is.

So, ons weet nooit presies hoe dinge gaan uitwerk nie. Ons weet nie hoe negatiewe dinge wat met ons gebeur kan meewerk ten goede nie. Maar, ons het ‘n belofte waaraan ons kan vasgryp wat vir ons ‘n idee gee.

Paulus sê dat God besig is met ons lewens sodat die volgende met ons sal gebeur:

29 want Hy het diegene wat Hy reeds vooruit gekies het, ook vooruit bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word, sodat Hy die Eersgeborene onder baie broers kan wees; 30 en diegene wat Hy vooruit bestem het, het Hy ook geroep; en diegene wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek; en diegene wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

Die woordjie vir “vooruit gekies” (proginōskō) kan ook vertaal word as “vooruit geken.” Dit is omdat God ons vooruit geken het, van ons geweet het selfs nog voor ons gebore is, dat Hy ons bestem het om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word.

God wou hê dat Jesus nie alleen as mens in die hemel saam met Hom sal wees nie, maar dat daar ‘n skare broers en susters vir Hom sal wees, ‘n nuwe geloofsfamilie.

Jesus is die prentjie wat God vir almal van ons het. Hy is die Eersgeborene (prōtotokos), die sjabloon, die templaat, die “mold” van die tipe mens wat God van almal van ons wat in Hom glo, wil maak.

Prakties

Dit is die doel van alles wat met jou gebeur. Die goeie en die slegte. God laat alles ten goede meewerk in jou lewe sodat jy gelykvormig (summorphos) kan word aan die beeld van sy Seun.

Dieselfde sagte aanslag wat Jesus het, wil die Here in ons skep. Dieselfde nederigheid wat Jesus het – dit wat ons in Matteus 11 verlede week geleer het – dít wil die Here in ons skep.

  • Sagtheid kan net kom as die harde en ongenaakbare kante van ons menswees deur allerlei swaarkry en beproewinge afgebreek word.
  • Nederigheid kan net kom as ons arrogansie en selfsug uitgedaag word; deur dié dinge waaroor ons geen beheer het nie; deur dié dinge wat ons onafhanklikheid uitdaag.

Ek is self deur tye van beproewing die afgelope vyf jaar op baie terreine in my lewe, waarvan die verlies van ‘n kleindogter die mees onlangse was. En die effek op my is dat ek begin leer om die Here Jesus toe te laat om my al hoe meer in sy juk in te span, sodat ek van Hom kan leer, en sy sagtheid en nederigheid kan aanleer, soos Hy kan wees.

Die voorbeeld van Josef

Dit is so wonderlik om die verhaal van Josef te lees en te herlees. Want, hy is só ‘n goeie voorbeeld van wat die Here doen met beproewings in jou lewe. Hoor net weer wat sê Josef as tweede in bevel van Egipte as hy sy broers vergewe.

Julle wou my kwaad aandoen, julle het dit nie goed bedoel met my nie, julle het my verkoop as ‘n slaaf, maar:

God het my lewe vir iets goeds bedoel (Gen 50:20).

Dit is wat die Gees met ons lewe wil doen

Dit is die doel van hierdie grootste werk van die Gees in ons harte en in ons lewens. Die Gees wil ons gelykvormig maak aan die beeld van die Seun, sodat ons soos Hy sal wees. Kinders van God. Sy verteenwoordigers. Wat al hoe meer soos Hy lewe.

Dit is die belangrikste ding wat God wil doen in jou lewe. Om gelykvormig te raak aan sy Seun. En alles wat met jou gebeur – die goed en die sleg – span God in om jou daarby uit te kry. Want, as God kan slaag in sy doel om jou soos Jesus te maak, dan sal jy ook kan erken, alles werk ten goede mee, vir dié wat God liefhet.

God is goed en God doen goed.

So het ons geleer in Psalm 119 waarmee ek die diens begin het. Hy wil ons sy voorskrifte leer. Want wat Hy met ons lewens wil doen, is die enigste goed.

God sal alles ten goede vir jou laat meewerk.

Gebed

Toekoms

Ek fokus van volgende week af op die lewe van Paulus tot en met Advent. Uit die boek Handelinge en gefokus op sy dertien briewe. Die storie van die kerkperspektiewe uit die briewe van Paulus.

Weer met ‘n Bybelstudieboek vir stiltetyd en kleingroepe. Bid dat die Here my sal lei en in staat sal stel om dit te kan uitvoer!

Dankoffer

Jy kan jou bydrae gee met Snapscan. Ek sal dit aan die einde vir ‘n halfminuut weer wys.

Die Bankbesonderhede verskyn ook vir mense wat EFT wil doen.

NGK Somerstrand

Absa Tjekrekening 01008731388

Takkode 632005

Slotlied

Ons sing daardie pragtige lied: As vreugde my deel is, of smart my verteer (Vonkk 156 – die bekende It is Well with my soul).

Vonkk 156 – As vreugde my deel is, of smart my verteer

Seën

Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees wees en bly met julle.

En die gemeente sê: “Amen!”

[1] Tan, P.L., 1996. Encyclopedia of 7700 Illustrations: Signs of the Times, Garland, TX: Bible Communications, Inc.

Continue Reading

Pulse – Jesus se laaste woorde – Youtube Sondag 18:00

Wat is die laaste ding wat jy vir iemand sê voordat jy groet? Byvoorbeeld, as jy met jou kinders of ouers wat ver bly oor die telefoon gesels, of vir jou jonger kinders wat jy by ‘n oppasser los, of aan jou vriende voor jy vir ‘n lang vakansie weggaan en hulle nie gaan sien nie. Wat was Jesus se laaste woorde aan ons voordat hy opgevaar het hemel toe? Kom luister Sondag, 19 Julie, om 18h00 as Elspeth Liebenberg met ons hieroor gesels. Die insetsel gaan oor ‘n lekker avontuur na verre lande…

YOUTUBE SKAKEL

Continue Reading

Youtube erediens 19 Julie 09:00 – God laat alles ten goede meewerk

As Paulus skryf oor die lyding van hierdie wêreld, die feit dat dinge nie werk soos dit moet nie, nie in die skepping nie, ook nie in ons lewe nie, en hy praat oor die sug wat daar in ons lewe is na verandering, dan skryf hy oor die Gees en sê die volgende:

“26 So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie.”

Wanneer ons swak is en nie mooi weet waarvoor ons behoort te bid nie, dan kom die Gees ons te hulp!

Wat ons van onsself moet verstaan is dat ons tussen twee wêrelde lewe. Die huidige wêreld wat onder die oordeel van God is, en die toekomstige wêreld waar ons vir ewig in God se teenwoordigheid sal lewe.

En die Gees is nie net die eerste gawe in ons van die toekomstige bedeling nie, maar Hy is ook die Een wat aktief in ons binnekant aan die werk is om die suigkrag van die huidige wêreld tot niet te maak en ons in die vryheid wat God vir sy kinders bedoel het, te laat lewe.

Daarom hou ons aan bid, selfs al is dit ‘n worsteling, selfs al weet ons nie presies wat ons moet bid nie.

En dit is daarom dat:

“28 Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is.”

Continue Reading

Ek sal julle rus gee – Matteus 11:25-30

Jaar van die Bybel
Tema: Ek sal julle rus gee – Matteus 11:25-30
Somerstrand 12 Julie 2030 Youtube 09:00

Verwelkoming

Welkom van waar in die wêreld jy ook al af inskakel.

Die mense wat in Februarie met die Psalms begin het, het vanoggend Psalm 117 gelees. Dit is die kortste Psalm, trouens die kortste hoofstuk in die Bybel. Dit is ook die middelste hoofstuk in die Protestantse Bybel. Daar is 594 hoofstukke daarvoor en 594 hoofstukke daarna, in totaal 1 189 hoofstukke met Psalm 117 ingesluit.

Die Psalm is eintlik net een lang sin.

1 Loof die HERE, alle nasies,  besing Hom, alle volke,  2 want magtig oor ons is sy troue liefde,  ja, die trou van die HERE is vir ewig.  Halleluja!

Die Psalm roep alle nasies saam met die Godsvolk op om God te prys en wel om twee redes.

  1. GOD SE LIEFDE IS ONMEETLIK HOOG. Peterson vertaal dit só: “His love has taken over our lives.” (The Message).
  2. GOD SE TROU IS ONEINDIG WYD. Daar IS geen einde aan God se trou is nie. Soos God se liefde se “hoogte” oorweldigend groot is, is sy trou iets waarvan ‘n mens nie by die einde daarvan kan kom nie.

Dit asof God se liefde as ‘n vertikale werklikheid geteken word, en sy trou as ‘n horisontale werklikheid. Sy trou kom vanuit die oneindigheid van die ooste en strek tot die oneindigheid van die weste. Dieselfde van die suide af tot in die noorde. Daar is geen einde aan God se trou nie.

En as jy dié twee dinge saamgooi, sy groot liefde, en sy oneindige trou, kan ‘n mens dit só opsom: God is oneindig betroubaar in sy onmeetlike liefde vir ons. Daarom moet God geprys word.

Verjaarsdae

Geluk Jolanda Broodryk en Eli du Preez. Geluk ook aan Jean Le Roux (12).

Kategese

Ons skakel vir die laerskool kategese in die tyd van die inperking in by die Lofkabouters van ds Thania Boha van PE Hoogland. Vandag is dit B vir Bybel in haar Geloofsalfabet. Gebruik die 10 minute aanbieding vir gesprek en aktiwiteite met julle kinders. Geniet! https://youtu.be/JaPtQOPNyok

Behoeftes

Onthou die kos en klere projekte wat ons deurlopend hardloop. Bydraes vir Jaco en Annemarie Barnard by Bognorstraat 6 en vir Theo by Total en Elsje en Cecile. Bydraes vir die Noodfonds is ook steeds welkom.

Pulse

Ons informele erediens vanaand, Pulse, gaan weer oor die tema van Seks: Wat sê die Bybel? Net vir bo-13’s. Ouers kan met die lied ná die kindertyd hulle kinders onder-13 net verskoon. Ds Pieter Nel van Hoogland gaan dit hanteer.

Youtube

Teken sommer nou in op die Youtube kanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe knoppie. Jy kan notifications ook aansit sodat jy kennis kan kry van elke volgende video.

Onthou die kleiner formaat video of die klankbaan. Die skakels is op Whatsapp, nuusbrief, web en Facebook beskikbaar.

Votum en Seëngroet

28Kom na My toe, almal wat moeg is en swaar dra aan laste, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal rus vind. 30Want my juk is sag en my las is lig.” (Matt 11:25-30 – ASV)

Continue Reading

Youtube erediens 12 Julie 09:00 – Ek sal julle rus gee

“Die osse stap aan deur die stowwe- … die jukke al drukkend hul skowwe- hul dra dit getrou en tevree.” (Jan Celliers)

Ek weet nie of jy al van naderby na ‘n juk gekyk het nie? Dit is iets wat ek uit my kinderjare onthou op die plaas van my oom. Maar, dit word nog regdeur die wêreld aangetref, soos in hierdie prentjie van ‘n man wat met twee osse ‘n wa deur die strate van Mumbai trek.

‘n Juk is tipies ‘n houtbalk wat op die skof van twee osse geplaas word. Dit help hulle om ‘n wa of ‘n ploeg te kan trek. Die juk word vasgemaak met ‘n tou om die nek van elke os, ‘n strop. Die juk verseker dat die las eweredig versprei is tussen die twee osse. Dit verseker dat die wa op die mees effektiewe manier getrek kan word. Dit verseker dat daar nie ‘n onnodige las op enigeen van die osse geplaas word.

Dit is met hierdie agtergrond van die betekenis van die woord juk en die assosiasies wat dit in jou verbeelding moet skep, dat ons na hierdie lering van Jesus moet luister.

Matteus 11

28 Kom na My toe, almal wat moeg is en swaar dra aan laste, en Ek sal julle rus gee.
29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal rus vind.
30 Want my juk is sag en my las is lig.” (Matt 11:25-30 – ASV)

Continue Reading

Wat doen jy as jy magteloos is? – Klaagliedere 05

Klaagliedere van Jeremia
Tema: Wat doen jy as jy magteloos is? – Klaagliedere 5

Verwelkoming

Welkom van waar in die wêreld jy ook al af inskakel.

Psalm 4

Die mense wat die Eenjaar Bybelleesprogram van die begin van die jaar af volg, het hierdie week weer met die Psalms van vooraf begin. Vanoggend het ons Psalm 4 gelees. Dit is ‘n Psalm om die konflikte in jou lewe voor die Here te bring en vir sy “glimlag” te vra, soos ’n mens vers 6 kan verklaar:

“verhef oor ons die lig van u aangesig, o Here!”

Mag God se “glimlag” oor jou lewe skyn!

Verjaarsdae

Luzaan Potgieter verjaar vandag. Baie geluk. Baie geluk ook aan Amke Robinson (2).

Kategese

Ons skakel vir die laerskool kategese in die tyd van die inperking in by die Lofkabouters van ds Thania Boha van PE Hoogland. Sy noem dit die Geloofsalfabet en deel dit met graagte met ons. Dit is ‘n weeklikse 10 minute aanbieding waarby al ons kinders baat kan vind. Ouers kan dit saam met hulle kinders kyk vir gesprek en aktiwiteite daarna. Dit begin met A vir aanbidding. Geniet!

Kyk dit hier.

Behoeftes

Al die klere wat ons versamel het, is uitgesorteer en uitgedeel. Hier is ‘n video van ons lidmate hard aan die werk om dit uit te sorteer. Onthou die swart sakke wat ons in Lydenstyd met klere volgemaak het, kan steeds hierdie week afgelewer word by Jaco en Annemarie by Bognorstraat 6 enige tyd deur die dag. Klere is ‘n groot behoefte en ons probeer steeds daarin voorsien.

Kos natuurlik steeds ook. Julle kan steeds bydrae vir Theo se lysie en Elsje se ACVV lysie.

Bydraes vir die Noodfonds is ook steeds welkom. Merk dit net “Noodfonds” as jy EFT. Ons het verskeie mense al gehelp. Dit is ‘n riem onder die hart dat lidmate sulke vrygewige harte het.

Jy is welkom om, as jy weet van nood waartoe ons kan bydra, vir my te kontak. Ons sal dit diskreet hanteer.

Pulse

Ons informele erediens vanaand, Pulse, gaan oor die tema van Seks: Wat sê die Bybel? Net vir bo-13’s. Ouers kan met die lied ná die kindertyd hulle kinders onder-13 net verskoon. Ds Pieter Nel van Hoogland gaan die volgende twee Sondae met ons oor die tema praat. Vanaand uit 1 Korintiërs 6:12-20. 18:00 op dieselfde kanaal. Dit is ook in ‘n aparte playlist gesit om makliker daarby uit te kom. Skakels op die web, Whatsapp en Mailchimp.

Klaagliedere

Ons lees hierdie week hoofstuk vyf van die Klaagliedere van Jeremia. Jy kan steeds my boek vir stiltetyd en kleingroepe op die webtuiste aflaai.

Youtube

Teken sommer nou in op die Youtube kanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe knoppie. Jy kan notifications ook aansit sodat jy kennis kan kry van elke volgende video.

Onthou die kleiner formaat video. Jy kan die skakel via Whatsapp weekliks ontvang. Stuur net jou nommer na Liésl (ngksomer@global.co.za) dan sal ons telkens die skakel stuur. Dit sal ook altyd in die nuusbrief, op die web en op Facebook beskikbaar wees.

Dieselfde geld die klankbaan wat nog kleiner is. Dit sal ook weekliks per Whatsapp beskikbaar gestel word. Dui net vir Liésl aan of jy die kleiner video of net die klankbaan wil ontvang. Ek sal dit ook in die nuusbrief, web en Facebook beskikbaar stel.

Votum en Seëngroet

“Dít roep ek in herinnering, daarom het ek hoop: Die troue liefde van die HERE vergaan nie, want sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid.” (Klg 3:21-23)

Daarom groet ek jou in die Naam die Drie-Enige God, Vader, Seun en Heilige Gees.

Continue Reading