Familiediens | NGK Somerstrand 22 Mei 2022 09:00 | Kerk en Youtube
Dis die middel van die 21ste eeu. Guy Montag is ‘n brandweerman wat boeke in ‘n futuristiese Amerikaanse stad verbrand. In Montag se wêreld begin brandweermanne vure eerder as om dit te blus. Hulle spuit paraffien oor huise met boeke daarin om dit af te brand, eerder as water om die vuur te blus. Dis die konteks van Ray Bradbury se fiktiewe futuristiese verhaal: “Fahrenheit 451”. Dit is die temperatuur waarteen die papier van boeke verbrand.
Die redes vir hierdie verbranding van boeke? 1) Mense lees nie meer boeke nie. Hulle kyk TV op muurgrootte toestelle. 2) Die samelewing het besluit dat boeke net konflik veroorsaak. Die “minderhede” in die samelewing het so aanstoot geneem aan die inhoud van boeke dat hulle besluit het om alle boeke heeltemal te verban en te verbrand.
Dan ontdek Montag ‘n besondere boek en begin koorsagtig elke woord daarin te verslind. Net, om daarom as ‘n vyand van die samelewing verklaar te word. Montag moet inderhaas vir sy lewe vlug! Dis egter ‘n boek waarin hy van ‘n boom lees waarvan die blare genesing bring vir die nasies…