29 Augustus 2021 Erediens | Hiervan kan jy seker wees #1 Jak.1:1-18

In ‘n wêreld vol ingewikkelde debatte en redenasies, twyfel wat gesaai word, verdeeldheid, is dit verfrissend om te hoor: HIERVAN kan jy seker wees! Kom reis vir 5 weke deur die boek van Jakobus, waarin ons onbetwisbare en tydlose geloofswaarhede vind, wat nie net mooi en vertroostende gedagtes bly nie, nee, Jakobus gee ook praktiese raad om vanuit hierdie waarheid te leef en deur dit uit te leef word ons oortuiging daarvan versterk. Jakobus is immers ingestel daarop dat ons moet: GLO EN DOEN. Kom lees vandag saam uit Jak.1:1-18.

Jakobus praat van beproewings en versoekings. Die woorde “beproewing” en “versoeking” word dikwels afgewissel in vertalings, maar is eintlik afkomstig van dieselfde Griekse woord: peirasmos. Dis amper soos twee kante van dieselfde muntstuk. Aan die een kant, word beproewings geleentheid wat deur God gebruik om ons geloof te toets met die doel om ons in ‘n nader verhouding met Hom te bring en ons geloof te versterk. Aan die ander kant, gebruik die duiwel die geleentheid om ons getrouheid aan God te toets, om ons te verlei en om ons verhouding met God skade aan te doen deur ons kwaad en bitter te maak teenoor God.

Ons sien nie altyd die doel van hierdie dinge nie – dit belemmer net ons planne. En ons probeer die meeste van die tyd eers self die klippe uit ons pad rol. Wat mettertyd gebeur is dat ons seerkry en moeg raak, moed wil opgee. Hiervan kan jy egter seker wees: Wanneer ons aan die einde van ons eie krag en insig kom, dan ontdek ons dat God se krag en insig onuitputlik is God sal jou nooit toelaat dat jy bo SY krag beproef word nie en jy sal nie in versoeking kom wat jy nie in Sy krag kan weerstaan nie.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.