Vreesloos 08: Waag in geloof! Sondag.

So dalk moet ons tema nie “vreesloos” wees nie, moet ons nie streef daarna om glad nie bang te wees nie.  Nie vreesloos nie, maar dapper.  Ook nie lafhartig nie, maar leef vanuit krag en liefde en selfbeheersing.  Waag in geloof.  Om ten spyte van ons vrees, te midde van ons vrees, steeds lief te hê.

Hier is vanoggend se notas, met ekstra vrae en gedagtes oor gasvryheid vs agterdog, vrede maak vs voorkoming en vrygewigheid vs opgaar.

Votum

Voorganger: Gees van die lewende God, werk in ons op hierdie Pinksterfees.

Gemeente: Kom, Heil’ge Gees.

V: Kom en maak ons een; breek die mure van skeiding tussen u kinders af.

G: Kom, Heil’ge Gees.

V: Maak ons harte brandend om van u oorwinning en u troos te getuig.

G: Kom, Heil’ge Gees.

V: Vul ons met krag te midde van beproewings.

G: Kom, Heil’ge Gees.

V: Bring ons, u gemeente, in beweging.

G: Kom, Heil’ge Gees.

Seëngroet

Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here, deur die kragtige werk van die Heilige Gees.

Loflied

Vonkk 110 (kanon) Saam wil ons die Here

Lied 518 Voel jy soms of die Here te vér is

Dankoffers

Koor: Lied 432  O Heil’ge Gees, aan U die eer

Pinskterfees inleiding

Epiklese

Lied 442  Gees van God wat in my woon

Skriflesing

2 Timoteus 1:6-14

Preek

Vreesloos?

U2 het in 2004 ’n CD uitgegee getiteld How to Dismantle an Atomic Bomb.  Bono,  hoofsanger van die groep, beskryf hierdie album as ‘n reis van vrees na geloof.  Dit begin met ’n lied getiteld “Vertigo”.  Bono vertel dat hy in sy kop ’n dansklub gesien het, met baie mense, harde musiek.  Maar dis nie die musiek wat jy wil hoor nie, nie die mense saam met wie jy wil wees nie.  Dan sien jy tussen die massas iemand met ’n kruis om haar nek en jy fokus op die kruis – want jy kan op niks anders fokus nie.  En jy vind jou vryheid daar.

Naby aan die einde van die lied word vrees ’n versoeking wat ’n duiwelse aanbod maak – amper soos Jesus se versoeking in die woestyn:  as jy vir my gee wat ek soek, kan al hierdie joune wees.  Vrees versoek met ’n vals gevoel van sekuriteit, maar dan is jy in vrees se mag.  Tog is daar ’n ander opsie: the girl with crimson nails / has Jesus round het neck.  Die lied eindig met die woorde:  your love is teaching me how to kneel.  Die CD eindig met ’n lied “Yahweh”, wat sing:  take this heart and make it break. Die pad uit vrees uit is nie mag nie, maar geloof; nie krag nie, maar broosheid voor God.

Ons het baie gepraat hierdie week oor vrees, oor die manier waarop vrees ons oorneem, ons vashou.  Ons wêreld is vol vrees.  Die ergste vrees, lyk my, is ouerskap.  Iemand sê jy ken nie die definisie van vrees voordat jy nie ‘n kind gehad het nie. Die oomblik wat jy ’n ouer word, loop jou hart vir altyd buite jou lyf.  Dan ontdek jy dat die gewone lewe vol buitengewone gevare is.

Terselfdertyd is ons wêreld onder die mag van kapitalisme, wat in alles ons gedrag probeer beïnvloed, goed aan ons probeer verkoop.  Hierdie mag het gesien dat ons vrees ’n krag is wat dit kan misbruik om ons te kry geld te spandeer.  So die media verkoop vrees, vertel die hele tyd vir ons dat ons in gevaar is.  Sodat ons meer geld sal spandeer, begrafnispolisse sal koop, “fidget spinners” om kinders veilig te laat voel – tot die media weer vertel dat fidget spinners ook gevaarlik is.  Sodat koerante sal koop, sodat ons op die skakel sal klik en die webtuiste sal oopmaak.  Politici verkoop vrees sodat vir hulle sal stem.

En voor ons ons oë kan uitvee, is vrees die mag wat ons beheer.

The story of the youth who went forth to learn what fear was

Een van die Broers Grimm se minder bekende stories, is die storie van die seun wat uitgegaan het om vrees te leer.  Hy was die jongste van twee seuns, met min kennis of vaardigheid.  Maar hy het die vreemde vermoë gehad vir niks bang te wees nie.  Sy pa stel toe voordat hy uitgaan om iets bruikbaar te leer. Waarop hy antwoord dat hy wil leer “hoe om te bewe”.

So begin sy reis om vrees te leer.  Die interessantste van die storie is nie dat hy sonder vrees is nie, maar ook sonder liefde of medelye.  Dit lyk asof hy glad nie op menslike vlak met ander kan identifiseer nie.  Hy gooi ’n onskuldige man van ’n kerktoring se trappe af, los hom gebroke in die hoek en gaan huis toe en gaan slaap.  Hy slaan ’n ou man met ’n yster stok en dink niks daarvan nie.  Dan, een aand, gooi sy vrou hom met ’n emmer koue water terwyl hy slaap.  Hy skrik wakker en roep:  “Wat laat my so bewe?  … Ja, nou weet ek hoe om te bewe!”

Wat interessant is in die storie, is die konneksie tussen sy onvermoë om bang te wees en sy onvermoë om lief te hê.  Hy is vreesloos, want hy is liefdeloos.  Die wat niks lief het nie, is ook nie bang dat hulle enige iets sal verloor nie.

Vrees is die skadu van liefde.  Vrees wys vir ons waar ons hart werklik is, wat ons werklik lief het.

So dalk moet ons tema nie “vreesloos” wees nie, moet ons nie streef daarna om glad nie bang te wees nie.  In ’n wêreld vol storms moet ons nie probeer om nie bang te wees nie, maar om vir die regte goed bang te wees, op die regte tyd bang te wees en die regte hoeveelheid bang te wees.  Nie vreesloos nie, maar dapper.  Ook nie lafhartig nie, maar leef vanuit krag en liefde en selfbeheersing.  Waag in geloof.  Om ten spyte van ons vrees, te midde van ons vrees, steeds lief te hê.

Waag in geloof

Dissipelskap – om Jesus te volg, is ’n waaghalsige. Om dié rede ly ek ook hierdie dinge sê 2 Tim 1:12.  Om Jesus te volg vra van ons om kanse te waag, soos om vreemdelinge te huisves, hongeres te voed, siekes te verpleeg, gevangenes te besoek, naaktes te klee (Matt. 25:31-46)

Jesus roep ons om kruis op te neem.

Matteus 16:24-25

24Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 25want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.

Om Jesus te volg, beteken self-opofferende liefde.  Liefde vir vyande.

Wanneer engele in die Bybel aan mense verskyn, begin hulle hul boodskap met: “Moenie bang wees nie”.  Ons dink dis omdat gewoon die verskyning van ’n engel, ’n bonatuurlike wese, mense sal bang maak.  Kan dit wees dat engele sê “moenie bang wees nie”, omdat dit is wat dit verg om God te volg?  Dat jy jou vrees sal moet beheer, oorwin, as jy wil gaan waar God jou stuur?

Om Jesus te volg, is baie dinge, maar “veilig” is nie een daarvan  nie.  Om Jesus te volg, beteken dat ons daardie mag wat sigself voordoen as sekuriteit, laat gaan, sodat ons ons naaste kan liefhê en vreemdelinge kan verwelkom.

Maar in ’n wêreld vol vrees is hierdie risiko’s – die risiko om Jesus te volg – ekstra moeilik. Ons natuurlike neiging wanneer ons gevaar in die gesig staar, is om na binne te keer, soos ’n ietermagog in ’n veilige balletjie na binne te rol – net jouself, of jou gesin, of jou bekende gemeenskap.  Hoe bly ons oop teenoor die wêreld wat ons bang maak? Nie vreesloos nie, maar dapper.  Waag in geloof.

Leef dapper

Vrees is op die ou end nie net ’n innerlike saak nie, maar ook ’n morele saak.  Watter tipe mense word ons as ons leef van vrees?  As vrees ons gedrag dikteer?

Vrees se waardes is goed soos lafhartigheid waarvan ons teks praat.  Dis goed soos luiheid, woede, geweld.  Ons som dit gewoonlik op as “veg of vlug”.  Die antwoord op vrees kan tog nie wees om te vlug van liefde, te onttrek van die wêreld nie?  In elk geval, wanneer ons op vlug slaan, sal ons altyd vind dat vrees ons agtervolg.  Wanneer ons kies vir veg, sal ons vind dat vrees eksponensieel toeneem.  Veg voer vrees, laat dit groei.  Dis soos die veelkoppige drake van die mitologie:  as jy een kop afkap, groei daar vir elke kop wat jy afkap, twee terug.

Vrees se waardes is opgaar, agterdog en vooruitloop / voorkom.  Die teenoorgestelde van die risiko’s waartoe Christus ons roep.  Opgaar sê voorsien vir ’n reënerige dag.  Agterdog sê jy praat nie met vreemdelinge nie.  Vooruitloop /voorkom  sê doen aan ander voordat hulle aan jou doen.

As vrees se waardes dan opgaar, agterdog en vooruitloop /voorkom is, dan roep Christus ons uit die boot uit, om te waag in geloof, om te waag om vrygewig te wees, om te waag om gasvry te wees, om te waag om vrede te maak.  Of teks se woorde: Krag om vrygewig te wees.  Liefde om gasvry te wees.  Selfbeheersing om vrede te maak.

Scott Bader-Saye stel dit aangrypend, wanneer hy praat oor wat gebeur wanneer ons lewe deur vrees gevorm word:

When our moral lives are shaped by fear, and safety is worshiped as the highest good, we are tempted to make health and security the primary justifications for right action. We thus lead timid lives, fearing the risks of bold gestures. Instead of being courageous, we are content to be safe. Instead of being hopeful, we make virtues of cynicism and irony, which in turn keep us a safe distance from risky commitments. We are more likely to tell our children to “be careful” than to “be good.” The extravagant vision that would change the world gets traded in for the passive axiom “do no harm.” Our moral lives atrophy on this new diet of self-protection.

Dis nie waartoe Jesus ons roep wanneer hy ons nooi om uit die boot te klim nie.  Jesus roep ons om te waag in geloof.  Om vrygewig te wees, gasvry te wees, vrede te maak.  Krag, liefde en selfbeheersing.  Om dapper te wees.

Dapperheid is nie onverantwoordelik nie.  Omsigtigheid en dapperheid is twee kante van dieselfde munt.  Dapperheid is die vermoë om te doen wat reg is, selfs al is ons bang.

Dapperheid is broosheid.  Om te erken dat ons bang is.  Om te erken dat ons nie op ons eie op die water kan loop nie.

1 Kor. 1: 27

wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam,

2 Kor. 12: 9-10

Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. 10Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

God neem nie ons broosheid weg nie. Hy werk juis deur ons broosheid, deur ons swakheid.

Om dapper te wees, is om op God te vertrou. Dit is om te erken dat ons nie kan nie, nie sterk genoeg is nie – en dan na Jesus te kyk en ons hand na hom uit te steek.

“dra jou ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee”

2 Tim 1:8

Geloofsbelydenis

Ons het hierdie week baie gepraat oor vrees.  Baie van ons het ook ons vrese op die swartbord geskryf.  Ons het gesê dat ons in hierdie lewe gaan bang wees.  Daar gaan storm wees.  Wat belangrik is, is dat ons vrese nie groter raak as ons God nie.  Dat ons nie so vaskyk in ons vrese, dat ons vir God miskyk nie.  Ons moet na Jesus kyk, veral in die storms.  Ons moet ons vrees balanseer met vertroue in God.

Ons gaan vanoggend ons geloof bely, deur die geloof wat ons deur die storms help, dit waaraan ons vashou in die storms, op die bord te skryf waar ons vrese was.  As geloofsbelydenis vanoggend, kom vorentoe en skryf wat jy glo, waaraan jy vashou in storms, op die bord neer.

Nagmaal

Lied 302 v 1 en 4 Ons is genooide gaste

Dankgebed

(Onse Vader)

Slotsang

Lied 439  O Heil’ge Gees, o God in ons (staan)

Seën

V: Kom, Skepper-Gees, en waai deur ons gebroke wêreld.

G: Kom, Skepper-Gees, en bring nuwe lewe vir ons wêreld.

V: Kom, Skepper-Gees, en waai deur ons gebroke lewe.

G: Kom, Skepper-Gees, en bring vir ons nuwe lewe.

Respons

Vonkk 211 vers 3

     

Tags: , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Marinel Coetzer

    |

    Ek is dringend opsoek na selfsorg verblyf vir my , my ma en my seuntjie vir ongeveer n maand tot 2. Ek is swanger met n tweeling en hul word vroeg gebore so hul gaan in NICU vir n hele ruk wees. Ons kom van patensie en kan nie elke dag in en uit ry nie. As daar enige iemand is wat my kan uithelp asb laat weet my.

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Sonja. Die OT apokriewe (weggelate) boeke is boeke wat uit die Joodse tradisie kom, maar nie met dieselfde gesag as die kanonieke (maatstawwe) boeke in die Bybel deur die Protestantse kerke aanvaar word nie.  Dit word dus nie as maatstaf of riglyn vir die geloof gebruik soos wat wel die geval is met die kanonieke boeke nie.  Hulle word ook deuterokanonieke (tweede maatstawwe) boeke genoem.  Hulle is waardevol, maar nie gesagvol nie.  Jy kan meer daaroor by hierdie skakel by Bybelskool lees. In kort is die NG Kerk se standpunt hieroor in die Nederlandse Geloofsbelydenis as volg: “Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.” (artikel 6)

  • Avatar

    Sonja blignaut

    |

    Naand ds Chris.
    Kan u miskien vir my u opinie gee oor die Aprokriewe boeke? Moet ek dit in dieselfde lig as die ,Bybel bestudeer?
    Baie dankie
    Sonja

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Jan. Die Here se Woord bly lewend en kragtig. In my eie herlees van hierdie preek het die Here self weer met my gepraat! Seën.

  • Avatar

    Jan Knoetze

    |

    Hierdie boodskap het my vanoggend weer hoop gegee. Ek het reeds besluit om op te gee met my roeping, nou vra ek weer die vraag; waar wil ons Here my hê? Dankie en God bless.