Vreesloos 06: Wat as alles te veel raak? Woensdag

As jy meer aandag aan die storm gee as aan die een wat in die storm loop, gaan jy sink.

Ons kan nie kies of daar gaan storms wees in ons lewens nie.  Ons is redelik verseker van storms.  Ons kan kies waar ons kyk te midde van die storm.

Jesus se oproep om te glo, om nie bang te wees nie, is nie ’n oproep tot naïwiteit nie.  Hy vra nie van ons om soos volstruise met ons koppe in die grond te sit nie.  Die lewe is vol storms – oorweldigende storms wat ons wil laat sink.  Jesus vra nie dat ons dit ontken nie.

Ons taak is om die aanslae van die storms te balanseer met ’n uitkyk op God.

Hier is vanaand se Bible Event

Gebed

Jesaja 41

Preek

Het julle al hierdie oulike T-hemp gesien:  “I am a bomb technician.  If you see me running, try to keep up.” Dis nogal vir ’n paar dinge in die lewe goeie raad.  Jy moet net weet wie om dop te hou.  As jy SAL vlieg uit PE, dan vlieg hulle met hierdie simpel klein vliegtuigies.  Die goedjies hik en stamp, almal klou aan hulle sitplekke vas, ek het selfs al beleef dat mense skree.  Wat jy moet doen, is om die lugwaardin dop te hou.  (Die ideaal sou natuurlik wees as jy die vlieënier kon dophou, maar nou ja.)  Solank hulle rustig lyk, kan jy maar ontspan.

Vanaand so ’n storie praat ook hieroor:  om jou oë op regte plek te hou:

Matteus 14:22-32

Sovêr dit mere aangaan, is die see van Galilea ’n klein, humeurige ene.  Dis 7.5 myl / 12 km op die breedste, 13 myl, 21 km op die langste plek.  Juis omdat dit so klein is, is dit kwesbaar vir winde wat van die hoogtes af waai.  Dan verander die see in ’n voedselverwerker.  Storms kan vinnig begin.  Windrigtings verander vinnig – nou van die rigting, dan van dié.  Wintermaande is daar ongeveer elke 2 weke storms.  Die storms kan 2 tot 3 keer per dag die see deurmekaarkrap.

Petrus en sy trawante het geweet hulle is in die moeilikheid.  Wat ’n uur lange vaart moes wees, het in ’n nag-lange stryd verander.  Hulle is deur die golwe geteister – ’n goeie beskrywing!  Die bootjie rondgegooi deur stormwinde.  Branders breek oor die kante.  Die seile slaan kliphard, lewensgevaarlik.

Deur golwe geteister.  Wat is die golwe wat jou teister?  In die middel van ’n egskeiding, rondgegooi deur skuldgevoelens.  In die middel van skuld, rondgegooi deur krediteure.  In die middel van die resessie, rondgegooi deur geldelike probleme.  In middel van “junk status”, rondgegooi deur korrupte politici en magteloosheid.  In middel van ’n vlaag van geweld, rondgegooi deur mense wat deure uitskop en geen waarde heg aan mense se lewens nie.

Die dissipels het geworstel vir 9 koue, sopnat ure.  Dan gebeur die onbeskryflike:  iemand kom aangestap op die water!  Hulle het groot geskrik en gesê: “Dis ’n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu.  Komies vir ons – maar was jy al so bang dat van angs begin skreeu het?

Hulle het nie verwag dat Jesus  op hierdie manier na hulle toe sou kom nie.  Ons ook nie.  Ons verwag Jesus sal kom in rustige gesange en vreedsame eredienste of stil retraits.  Ons verwag om Jesus te ontmoet in stiltetyd of kerk funksies.  Maar nie  in junk status of bankrotskap of geweld of misbruik of korrupsie of huweliksprobleme nie.  Ons verwag hom nooit regtig in die storms nie.  Tog is dit in die storms wat hy sy beste werk doen, want dit is in die storms wat hy ons skerpste aandag het.

Jesus reageer op die dissipels se vrees met woorde wat eintlik bokant elke kerkdeur gegraveer moet word:  “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”  Die Nuwe lewende vertaling sê:  “Toemaar, moet julle nie ontstel nie.  Dit is ek.” NLT sê “I am here.”

Kragtige woorde.  Ek is hier.  As jy in ICU wakker word en ’n geliefde se stem hoor:  ek is hier. As jy jou pensioen verloor en die woorde van familie hoor:  ons is hier.  As jy in Gr. 1 vir die eerste keer atletiek hardloop en jou ouers langs die baan sien.  “Ek is hier” verander alles.

Dalk is dit hoekom God ons so dikwels herinner dat hy hier is.

Fil. 4:5 Die Here is naby

Joh. 14:20  julle in My en Ek in julle.

Matt. 28:20 Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.

Joh. 10:28  Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie

Rom 8:38-39   Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Jy kan nêrens gaan waar God nie is nie.  Kyk oor jou skouer – God is daar.  Kyk in die storm:  hier kom Jesus aangestap.

En kan jy glo, Petrus glo dat dit Jesus is!

28Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.”

Petrus sou nooit so gevra het as dit ’n kalm see was nie.  As Jesus op ’n kalm see aangestap gekom het, sou Petrus waarskynlik gedink het dis indrukwekkend – maar hy sou ook waarskynlik in die boot gebly het.  Of dalk vir ’n vinnige swem gegaan het.  Maar dit is die storms wat ons uit die boot uit neem.  Dit is storms wat ons op ongekende reise neem, dinge laat doen wat ons nooit geweet het ons kan doen nie, nie geglo het moontlik is nie, nooit eers oorweeg het nie.

Vir ’n paar historiese, harts-top oomblikke, kry Petrus die onmoontlike reg!  Hy lag in die gesig van natuurwette en swaartekrag.

Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom

Maar dan maak hy ’n fatale fout.  Hy kyk weg van Jesus,

30Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!”

In plaas van Jesus, het hy ’n wal water sien aankom.  Gesien hoe die wind die bootjie se mas heen en weer ruk.  Gesien hoe blitse die water verhelder.  En die oomblik toe sy aandag na die storm skuif, het hy gesink.

As jy meer aandag aan die storm gee as aan die een wat in die storm loop, gaan jy sink.

Ons kan nie kies of daar gaan storms wees in ons lewens nie.  Ons is redelik verseker van storms.  Ons kan kies waar ons kyk te midde van die storm.

Jesus se oproep om te glo, om nie bang te wees nie, is nie ’n oproep tot naïwiteit nie.  Hy vra nie van ons om soos volstruise met ons koppe in die grond te sit nie.  Die lewe is vol storms – oorweldigende storms wat ons wil laat sink.  Jesus vra nie dat ons dit ontken nie.

Ons taak is om die aanslae van die storms te balanseer met ’n uitkyk op God.

Hebr. 2:1 (BDV)  Daarom moet ons soveel te meer aandag gee aan dit wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdryf nie.

Doen wat jy ook al moet om jou oë op Jesus gevestig te hou.  Wat jou ook al help.  Sing lofliedere.  Luister na geestelike musiek in jou kar.  Memoriseer skrifgedeeltes, plak dit by jou bed en in jou kantoor op.  Lees Bybel.  Gesels met ander gelowiges.  Luister na ander se getuienis.  Maar neem ’n doelbewuste besluit om jou oë op hom te hou, om op hom te fokus.

CS Lewis:

Faith . . . is the art of holding on to things your reason has once accepted, in spite of your changing moods. For moods will change, whatever view your reason takes. I know that by experience. Now that I am a Christian I do have moods in which the whole thing looks very improbable: but when I was an atheist I had moods in which Christianity looked terribly probable. . . . That is why Faith is such a necessary virtue: unless you teach your moods “where they get off,” you can never be either a sound Christian or even a sound atheist, but just a creature dithering to and fro, with its beliefs really dependent on the weather and the state of its digestion.

Van die mooiste lofliedere in die Bybel, is in die boek Klaagliedere.  Jeremia is ook vasgekeer in ’n storm.  Onder skrikwekkende omstandighede – oorlog, hongersnood, pyn.  Vasgekeer.  Te midde van sy klag oor omstandighede, lees ons die pragtige woorde:

21Maar dít sal ek ter harte neem

en om dié rede bly ek hoop:

22deur die liefde van die Here

het ons nie vergaan nie;

daar is geen einde aan sy ontferming nie,

23dit is elke môre nuut.

U trou is groot.

The steadfast love of the Lord never ceases

His mercies never come to an end

They are new every morning

Great is thy faithfulness

 

Die storm het nie opgehou nie!  Maar sy hooploosheid het.

Toe Petrus uitroep:

“Here, red my!”

31Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” 32Hulle het toe in die skuit geklim, en die wind het gaan lê.

Jesus kon ure vantevore al die storm stilgemaak het.  Maar hy het nie.    Storms gaan daar wees.  Ons het nie ’n keuse oor storms nie.  Maar ons het ’n keuse oor vrees.  Ons het ’n keuse waar ons gaan kyk in die storms.  Of ons gaan sink van vrees, of in geloof ons hand gaan uitsteek na Christus.

Maak die storms jou bang?  Kyk na Jesus.  Hy is hier.

     

Tags: , , ,

Trackback from your site.

Comments (2)

  • Avatar

    Tokkie Young

    |

    Rethie, ek is diep diep geraak deur jou treffende Pinkster boodskappe. Dit is so inspirerend en bemoedigend vir ons tyd. Baie dankie dat jy my persoonlik help om nooit my oë van die alomteenwoordige Jesus af weg te hou nie.

    Reply

    • Avatar

      Rethie van Niekerk

      |

      Dankie Tokkie. Ek is dankbaar.

      Reply

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Marinel Coetzer

    |

    Ek is dringend opsoek na selfsorg verblyf vir my , my ma en my seuntjie vir ongeveer n maand tot 2. Ek is swanger met n tweeling en hul word vroeg gebore so hul gaan in NICU vir n hele ruk wees. Ons kom van patensie en kan nie elke dag in en uit ry nie. As daar enige iemand is wat my kan uithelp asb laat weet my.

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Sonja. Die OT apokriewe (weggelate) boeke is boeke wat uit die Joodse tradisie kom, maar nie met dieselfde gesag as die kanonieke (maatstawwe) boeke in die Bybel deur die Protestantse kerke aanvaar word nie.  Dit word dus nie as maatstaf of riglyn vir die geloof gebruik soos wat wel die geval is met die kanonieke boeke nie.  Hulle word ook deuterokanonieke (tweede maatstawwe) boeke genoem.  Hulle is waardevol, maar nie gesagvol nie.  Jy kan meer daaroor by hierdie skakel by Bybelskool lees. In kort is die NG Kerk se standpunt hieroor in die Nederlandse Geloofsbelydenis as volg: “Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.” (artikel 6)

  • Avatar

    Sonja blignaut

    |

    Naand ds Chris.
    Kan u miskien vir my u opinie gee oor die Aprokriewe boeke? Moet ek dit in dieselfde lig as die ,Bybel bestudeer?
    Baie dankie
    Sonja

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Jan. Die Here se Woord bly lewend en kragtig. In my eie herlees van hierdie preek het die Here self weer met my gepraat! Seën.

  • Avatar

    Jan Knoetze

    |

    Hierdie boodskap het my vanoggend weer hoop gegee. Ek het reeds besluit om op te gee met my roeping, nou vra ek weer die vraag; waar wil ons Here my hê? Dankie en God bless.