Vreesloos 05: En as ek nie genoeg het nie? Dinsdag

Al moet ons polisse hê, moet ons op God vertrou, nie op die polis nie.  Die probleem is nie die die ryk man se rykdom of skure nie.  Dis die feit dat hy fokus dáárop, dat hy dít vertrou, dat dit moet sorg dat hy veilig is, dat sy skure vir hom moet voorsien.  Daardie skure het dan die manier om voor God in te skuif, soos die maan voor die son tydens ’n sonsverduistering.

Hier is vanaand se Youversion notas.

Gebed

Psalm 49

Oorsig

Donderdagaand het ons gesels oor die een vrees wat sin maak:  vrees vir God.  Hoe groter ons Godsbeeld is, hoe kleiner ons vrese.

Sondagoggend het ons die verhaal gelees van Jesus wat die storm stilmaak.  Vrees maak dat ons nie op God vertrou nie.  Tog is dit die opdrag wat Jesus die meeste gee (meer as die opdragte tot liefde):  moenie bang wees nie.

Sondagaand het ons gesê dat ons almal wil voel dat ons saak maak.  Tog het ons die gevoel dat ons nie saak maak,  wat ’n selfvervullende profesie is.  Ons het waarde by God!  God gee vir ons om – hy tel selfs die hare op ons kop.

Maandagaand het ons gevra:  “Wat as ek God teleurstel?” Ons het gesê jy hoef nooit bang te wees dat God se genade gaan opdroog, dat dit ’n eindpunt gaan bereik nie.  Sy genade is soos die vangnet van ’n  sweefstokarties – dit sal ons altyd vang.

Lofsang

Gebed

Preek

Verbeel jou jy is ’n suksesvolle finansiële beplanner.  In jou kantoor sit die 2016 Monopoly kampioen.  Hy wil hê jy moet hom help om sy geld te belê.  Hier sit hy in jou kantoor, met sakke vol pink note en klein plastiek geboutjies.  “Ek het 314 Eloff strate, 244 President strate en genoeg treinstasies om om die aarde te pak.”  Jy dink by jouself:  het iemand ’n kamera iewers in my kantoor weggesteek?  Maar jy is professioneel, so jy sê:  “Jy het ’n stewige Monopoly rykdom daar!”  Hy kruis sy arms, sit selfvoldaan terug en sê:  “Inderdaad.  En ek is gereed dat jy hierdie rykdom vir my laat werk.  Ek wil nou terugsit en ontspan.  Laat iemand anders Monopoly monopoleer.”

Dan is dit ook omtrent hier waar jy dit verloor:  “Jy is van jou kop af!  Jou geld het absoluut geen waarde nie!  Dis nie die papier werd waarop dit gedruk is nie!  Buite jou speletjie is dit waardeloos.  Jy het ’n dwase fout gemaak.  Om die waarheid te sê, jy’s ’n dwaas.”

Dalk onvriendelike woorde, maar tog waar.  En byna dieselfde woorde wat God in een van Jesus se gelykenisse gebruik het:

Lukas 12:16-21

Hierdie ryk man was nie ’n slegte ou nie!  Hy was ’n skerp besigheidsman, goed met wins maak en beleggings.  Waarskynlik ’n eerlike ou.  Dis die ou wat ons wil volg.  Man, hy’s die ou wat ons wil wees!  As hy boeke skryf, sal ons dit koop.  Ons sal baie geld betaal om sy praatjies by te woon.

Natuurlik.  Want dis wat nodig is om te leef in hierdie wêreld.  Dis hoe ons ons veiligheid verseker:  ’n stewige huis, hoë heinings om myself en my familie veilig te hou, versekering ingeval iemand dit probeer steel, pensioen sodat ek veilig kan wees wanneer ek aftree.

Dis tog nie slegte goed nie!  Maar Jesus noem die ou ’n dwaas.  Asof ons nie bang genoeg was nie!  Nou kom sê Jesus nog ons pogings om te oorleef, om onsself te beskerm, finansieel te versorg, is dwaas?  Wat is dan nou fout daarmee om finansieel veilig te wil wees?  Waar het die ryk man verkeerd gegaan?

Jesus antwoord daardie vraag met die opeenhoping van ’n klomp persoonlike voornaamwoorde.  Lees gou weer ’n paar verse saam met my, maar kyk die slag vir die ryk man se hart:

17Hy het toe by homself gedink: wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie. 18Toe besluit hy: dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar. 19Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’

Die probleem is nie dat hy baie het nie.  Die probleem is dat hy in homself vasgekyk het.  Ek.  Ek.  My.  Ek. Ek. My. Nie “hulle”  nie.  Nie “u” nie.  Net:  ek.  Selfs wanneer hy “jy” sê, praat hy van homself.

En hy is suksesvol!  Hy is, volgens ons definisie, veilig.  Maar God sê hy speel Monopoly.  Hy besit ’n klomp Eloff strate.

Wat maak van hom ’n dwaas?  Wat hom ’n dwaas maak, is dat hy na die verkeerde persoon toe gegaan het  (“hy het by homself gedink”)  en die verkeerde vraag gevra het (“wat moet ek doen?”).  Die probleem is nie dat hy beplan het nie.  Die probleem is dat hy nie vir God by sy planne betrek het nie.  Jesus kritiseer nie die man se rykdom nie, maar sy arrogansie.  Wat as die man na die regte persoon gegaan het – God – met die regte vraag:  Wat wil u hê moet ek doen?

Om geld op te gaar is ’n gewilde reaksie op vrees.  Ons is bang ons gaan ons werk verloor, ons besigheid verloor, ons huise verloor, gaan nie mediese onkoste kan bekostig, nie aftrede kan bekostig nie.  So ons werk harder, spaar meer, bou groter huise met hoër mure.

En die oomblik wat ons die woord “junk status” hoor, dan voel dit vir ons ons sien voor ons oë hoe ons geld in Monopoly geld verander.  Ons vrese was toe die hele tyd geregverdig.  GM verlaat die land.  Meeste van ons se besighede sukkel.  Ons almal moet ons lewenstandaard aanpas.  Elektrisiteit is duur.  Petrol het 10 jaar gelede R7 ’n liter gekos.  Dan is daar nog op die koop toe die droogte, wat beteken water raak nie net duurder nie, ons is bang ons water gaan opraak!

Ons was bang om mee te begin.  En nou blyk dit ons vrese was geregverdig.  Ons moet vergader.  Ons moes eintlik meer vergader het!  Die toekoms is onseker.

As daar nie ’n God was nie, dan sou dit sin gemaak het om op goed te vertrou.   Dan sou dit sin gemaak het om soveel as moontlik te vergader, want dis die goed wat ons moet beskerm, wat vir ons moet sorg.

Maar daar is ’n God.  En hierdie God wil nie hê ons moet op geld vertrou nie. Hy wil nie hê ons moet ons veiligheid in polisse vind nie.

Jesus reageer op die ryk man se dwaasheid met ’n klomp oproepe om nie bekommerd te wees nie:

Lukas 12:22-34

32“Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee.

Hierdie is die enigste keer wat Jesus ons sy “klein kuddetjie” noem.  Dis ’n sagte liefdesnaam.  Jy kan sy deernis hoor.  Hy weet ons voel klein.  Hy weet ons voel uitgelewer.  Hy weet ons is bekommerd.  En hy herinner ons dat hy ons herder is.  Dat hy vir ons omgee, vir ons sorg.

Walter Breuggemann praat van “the myth of scarcity and the liturgy of abundance”.  Hy sê die Bybel begin met oorvloed.  Genesis 1 is ’n loflied van God se vrygewigheid.  Die Psalms besing God se voorsienigheid. Brueggemann beskryf hoe die mite van skaarsheid in Egipte begin posvat het en hoe dit ons heersende narratief geraak het.

But if you are like me, while you read the Bible you keep looking over at the screen to see how the market is doing. If you are like me, you read the Bible on a good day, but you watch Nike ads every day. And the Nike story says that our beginnings are in our achievements, and that we must create ourselves.

According to the Nike story, whoever has the most shoes when he dies wins. The Nike story says there are no gifts to be given because there’s no giver. We end up only with whatever we manage to get for ourselves. This story ends in despair. It gives us a present tense of anxiety, fear, greed and brutality. It produces child and wife abuse, indifference to the poor, the buildup of armaments, divisions between people, and environmental racism. It tells us not to care about anyone but ourselves — and it is the prevailing creed …

Maar mites van ons samelewing ten spyt, God het hierdie aarde geskep en God is ’n God van oorvloed.

Psalm 104 is ’n pragtige lys van alles wat God in oorvloed skep.

Vers 27: Hulle is almal van U afhanklik,  U gee hulle kos op hulle tyd.

God voorsien.  Hy  is absoluut vrygewig en volledig betroubaar.  Die Bybel is hieroor helder:  God besit alles.  En God deel alles.

So hoekom is ons dan so bang?  Hoekom voel dit nie vir ons asof ons genoeg het nie, asof ons veilig is nie?

Eerstens, omdat God nie deel is van ons beplanning nie.  Ons nooi God in wanneer ons bekommerd raak, wanneer die resultate nie lyk asof dit gaan strook met ons beplanning nie:  Here, asb. gee dat die mark al goeddoen, dat die rentekoers nie sal styg nie – of sal styg, na gelang van omstandighede.  Here, voorsien.

Ons moet daardie polisse hê.  Ons het nodig om hard te werk, sodat ons onsself en ons geliefdes kan versorg.  Maar ons het ook vir God nodig.  Ons het nodig om God van die begin af te ken, te vertrou.  Jy moet eintlik jou begroting opstel tydens jou stiltetyd.  Nie bid nadat begroting opgestel maar bid vooraf, tydens.

Al moet ons polisse hê, moet ons op God vertrou, nie op die polis nie.  Die probleem is nie die die ryk man se rykdom of skure nie.  Dis die feit dat hy fokus dáárop, dat hy dít vertrou, dat dit moet sorg dat hy veilig is, dat sy skure vir hom moet voorsien.  Daardie skure het dan die manier om voor God in te skuif, soos die maan voor die son tydens ’n sonsverduistering.  Hoe meer ons het, hoe meer bekommernis en vrese het ons.  En hoe meer fokus ons op ons goed en op die vrees vir skaarste – en hoe minder vertrou ons op God.

Die tweede rede waarom ons bang is, is omdat ons die narratief van Nike waarvan Brueggemann praat, glo.  Dat dit net goed gaan, net veilig is, as ons Nikes het.  Kyk bietjie na die Global Rich List, vir perspektief.  Byna die helfte van die wêreldbevolking  – meer as 3 biljoen mense – leef op minder as $2.50 per dag.  Dis bietjie meer as R32 per dag.  Dit beteken, as jou inkomste hoër is as R32 per dag, is jy van die rykste mense op aarde.

Meeste van ons het in die laaste paar jaar – paar maande! – gevoel hoe ons armer raak.  Ons gaan dit waarskynlik nog meer voel.  Dit maak ons bang, ons voel God voorsien nie.  Dalk is dit nodig dat ons ons definisie van “voorsien”, van “genoeg”, hersien.

Die derde rede waarom ons bang is, is selfsug.

1 Tim 6:17-19

God gee genoeg.  Maar hy verdeel dit nie gelykop nie.  Hy gee vir sommige meer, vir ander minder.  Sodat ons in verhouding met mekaar moet bly.  Sodat ons mekaar altyd sal nodig hê.  Ek het al baie gesien, hoe meer mense het, hoe moeiliker is dit!  Armer gemeenskappe deel met mekaar, gee kos vir bure, as mense in nood is, word hulle gehelp.

Ons moet op God vertrou, eerder as op geld en goed.

Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God.

In die VSA was daar net tussen 1948 en 2001, 10 resessies.  Elk gemiddeld 10 maande.  Mense het biljoene verloor.  So elke 5 jaar los die ekonomie al sy geliefdes en begin van vooraf.  Wat sou jy dink van ’n man wat elke 5 jaar sy vrou los en ’n ander een kry?  En hoe sou jy die 10de vrou beskryf?  Dwaas!  Geld is nie ’n betroubare geliefde nie.

Viktor Frankl:

“Everything can be taken from a man [sic] but one thing: the last of the human freedoms—to choose one’s attitude in any given set of circumstances, to choose one’s own way.”

Miskien gaan dit finansieel met ons slegter gaan in die toekoms.  Ons kan selfs alles verloor.  Maar ons vertrou nie op geld nie.  Ons vertrou op God. En God is betroubaar.  God sal ons dra, ook deur moeilike tye.

Viktor Frankl:

“When we are no longer able to change a situation, we are challenged to change ourselves.”

Laat ons dan die vrees vir die toekoms vervang met geloof in die lewende God.

     

Tags: , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Marinel Coetzer

    |

    Ek is dringend opsoek na selfsorg verblyf vir my , my ma en my seuntjie vir ongeveer n maand tot 2. Ek is swanger met n tweeling en hul word vroeg gebore so hul gaan in NICU vir n hele ruk wees. Ons kom van patensie en kan nie elke dag in en uit ry nie. As daar enige iemand is wat my kan uithelp asb laat weet my.

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Sonja. Die OT apokriewe (weggelate) boeke is boeke wat uit die Joodse tradisie kom, maar nie met dieselfde gesag as die kanonieke (maatstawwe) boeke in die Bybel deur die Protestantse kerke aanvaar word nie.  Dit word dus nie as maatstaf of riglyn vir die geloof gebruik soos wat wel die geval is met die kanonieke boeke nie.  Hulle word ook deuterokanonieke (tweede maatstawwe) boeke genoem.  Hulle is waardevol, maar nie gesagvol nie.  Jy kan meer daaroor by hierdie skakel by Bybelskool lees. In kort is die NG Kerk se standpunt hieroor in die Nederlandse Geloofsbelydenis as volg: “Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.” (artikel 6)

  • Avatar

    Sonja blignaut

    |

    Naand ds Chris.
    Kan u miskien vir my u opinie gee oor die Aprokriewe boeke? Moet ek dit in dieselfde lig as die ,Bybel bestudeer?
    Baie dankie
    Sonja

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Jan. Die Here se Woord bly lewend en kragtig. In my eie herlees van hierdie preek het die Here self weer met my gepraat! Seën.

  • Avatar

    Jan Knoetze

    |

    Hierdie boodskap het my vanoggend weer hoop gegee. Ek het reeds besluit om op te gee met my roeping, nou vra ek weer die vraag; waar wil ons Here my hê? Dankie en God bless.