Vreesloos 04: Sê-nou ek stel God teleur? Maandagaand

Daar is niks wat ons so dapper maak, soos ’n helder verstaan van God se genade nie.  En daar is geen beter teelaarde vir vrees as onkunde van God se genade nie.

Hier is vanaand se geleentheid notas.

Gebed

Psalm 27

Oorsig

Donderdagaand het ons gesels oor die een vrees wat sin maak:  vrees vir God.  Ons probeer God in boksies sit, maar hoe groter God is, hoe kleiner ons vrese.

Dondagoggend het ons die verhaal gelees van Jesus wat die storm stilmaak.  Vrees maak dat ons nie op God vertrou nie, maar sekuriteit aanbid.  Tog is dit die opdrag wat Jesus die meeste gee (meer as die opdragte tot liefde):  moenie bang wees nie.

Sondagaand het ons gesê dat ons almal wil voel dat ons maak saak.  Tog het ons die gevoel dat ons nie saak maak, nie liefde werd is nie – ons het die beeld van die vyfde mossie gebruik.  Dis ’n selfvervullende profesie.  Ons het waarde by God!  God gee vir ons genoeg om – hy tel selfs die hare op ons kop.

Lofsang

Gebed

Skriflesing

Matteus 9:1-8

Preek

Die jaar was 2015.  Die geleentheid:  Mej. Heelal.  Steve Harvey bied dit aan.  Dit vat jare se voorbereiding.  Elke land kies hul eie wenner wat hulle gaan verteenwoordig.  Daar word miljoene spandeer.  Vir weke gekompeteer die meisies.  Dan die groot aand:  pragtige aandrokke, glitz and glamour.  Alles bou op tot die oomblik heel aan die einde, wanneer Mej. Heelal gekroon word:  Juf. Columbia!   Sy word gekroon, gelukgewens.  Sy was nog besig om oorwinnend vir die skare te waai, toe die volgende gebeur:  Video kroning

Die internet ontplof.  Steve Harvey word die grap van die wêreld.  Hy sal vir altyd en altyd die een wees wat die verkeerde mej. Heelal aangekondig het.  As jy op Google soek vir Miss Universe 2015, kry jy net grappies! Vir sy lewe lank sal Steve Harvey hiermee moet saamleef.  Die publieke vernedering.  Dit was ’n massiewe fout.  Een van die grappies sê Harvey moet die Oscars aanbied.

En toe, 2016, Oscars…  Warren Beaty is die slag die aanbieder.  Die hoogtepunt van die aand, die oomblik waarvoor almal wag:  die beste fliek…  Video

Dis pynlik om te sien!

Ek dink wat dit so erg maak, is dat die meeste van ons onsself maar te goed daarin kan inleef.  Daardie gevoel dat jy maar nog net nie uitgevang is nie!  Maar jy weet:  die fout wat ons gemaak het, is te veel, te groot.

Die vrees waaroor ons vanaand gesels, is die vrees dat ek God teleur sal stel.  Want ons almal, almal, is sondaars.  Ons doen goed verkeerd.  Dalk daardie een groot ding in jou verlede wat by jou spook, maar elke dag vind ons nuwe maniere uit om God teleur te stel.  Soms raak daardie vrees dat ons God teleurstel, dat ons sonde net te groot of te veel is, so groot dat dit tussen ons en God gaan staan.

Ons probleem is dat ons eintlik oortuig is dat God se genade perke het.  Moet hê.  Genade kan nie ’n bodemlose put wees nie.  Jy kan dieselfde fout net soveel keer maak, net soveel keer vir dieselfde ding vergewe word.  Iewers moet dit ophou.

Dis natuurlik van die kragtigste wapens in die vyand se arsenaal:  om ons te oortuig dat ons sonde té veel is, dat God iewers genoeg gaan hê van ons nonsens, dat hy iewers gaan ophou vergewe en sê: “Nou het ek genoeg gehad”. Dat ons begin glo ons kan té sondig wees, té lank volhard, té veel keer vergewe word, dat God se genade iewers ’n streep gaan trek en sê:  “genoeg”.

As ons dit glo, verdoem dit ons tot ’n lewe van vrees.  Nie vrede en vryheid wat Jesus beloof nie, maar vrees soos vir ’n kwaai onderwyser.  Ek het in Gr 2 so ’n onderwyser gehad wat liniale op mekaar gestapel het en dan agter jou kom staan het.  Sy sou die liniale op mekaar kap, terwyl sy kyk of jy ’n skewe lyn trek sodat sy jou kan slaan.

Ons begin so dink oor God.  Ons leef ons lewens sodat ons tog net nie daardie skewe lyn trek nie.  Nie uit liefde vir God of uit ’n verstaan van die vryheid wat God in liefde vir ons gee nie, maar uit vrees vir straf.  Vrees dat God se genade sal ophou.  Ons dink:  in hierdie lewe mmoet jy heeltyd in jou spoor trap, sodat daardie lineaal jou nie dalk tref, God jou sonde straf nie.  As daar dan droogte kom, of siekte of een of ander ongeluk, dan dink ons dit is God wat besig is om ons te straf.  Ons moet net ons sonde bely, dan sal die ongeluk ophou.  As dit sy straf in hierdie lewe is, is die straf in die lewe hierna nog erger!

Dis nie die vrees vir die Here waarvan ons Donderdagaand gepraat het nie.  Dit is ’n patologiese vrees dat ons God gaan teleurstel, dat God se genade iewers gaan ophou.

In vanaand se teks sê Jesus:  “Vriend, wees gerus; jou sondes word vergewe.”  Daar staan eintlik:  hou moed.  Wees dapper.

Dis vreemd.  Dat Jesus dapperheid en vergifnis in dieselfde sin sit.  Kan  dit wees dat dapperheid die gevolg is van vergifnis?  Dat vergifnis ons help om aanslae met moed tegemoet te gaan?

Jesus praat hier met ’n verlamde man.  Hy kon nie beweeg nie.  Maar hy het goeie vriende gehad!  Vriende wat hom vat om Jesus te sien.  Tog lyk die kanse nie goed nie.  Soos Markus hierdie storie vertel, is daar nie plek vir ’n muis om by die deur in te gaan nie, wat nog te sê ’n man met ’n bed en vier vriende!  So sy vriende maak ’n plan:  hulle breek die dak bo Jesus oop en laat hom afsak na Jesus.

Dis ’n waaghalsige strategie! Meeste huiseienaars sal nie baie vriendelik reageer as jy ’n gat in hul dak breek nie.  Meeste parapleë sal nie baie daarvan hou om van ’n dak afgegooi te word nie.  En meeste leraars hou nie van ’n spektakel in die middel van hul preek nie.

Maar Jesus is nie meeste leraars nie.  Jy kan amper vir Jesus sien glimlag!  Jesus seën nog voordat enige iets gevra is.  “Hou moed, seun.  Jou sonde is vergewe.”

Ons sou verwag dat Jesus sal sê:  “Hou moed!  Jou bene is genees!  Jy kan weer loop!” Maar Jesus gee vergifnis voordat hy bene gee.   Want dit is ons eintlike siekte wat genesing nodig het, ons eintlike vrees:  dat ons God sal faal.

Dink aan Adam en Eva in die paradys.  Hulle lewe sonder vrees.  Dan neem hulle die vrug en eet.  Onmiddellik is hulle bang.  Bang vir God. “Ek het u hoor wandel in die tuin en ek het bang geword” (Gen. 3:10)

Vrees en sonde is pasmaats.  Vrees maak dat ons sonde doen.  En ons sonde lei tot vrees.  En die sonde-vrees maak dat ons vir God wegkruip:  in 80 uur werksweke, in slegte humeure, in partytjies en bier, selfs in godsdienstigheid.  Alles om vir God te vermy, sodat God ons nie in ons naaktheid, met al ons sonde, moet sien nie.  Want sekerlik gaan God ons net een kyk gee en sê:  “Nee.  Jammer, genoeg gehad van jou nonsens.  “

Maar wanneer jy lam van jou mislukkings voor Jesus lê, dan sê hy nie “Sies, hoe kon jy?” nie.  Hy sê:  “Hou moed. Jou sonde is vergewe.”

13Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. 14Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes. Kolossense 1

Johannes 3:18 Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; 

Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.  Rom 8:1

13Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.  1 Joh. 5

Niks, maar niks, kan God se genade opgebruik nie. God sal nooit, maar nooit ooit ooit vir jou sê:  “genoeg!” nie.  Daar is altyd nog kanse.  Daar is altyd genade.  Altyd liefde.  Hieroor hoef jy nooit te twyfel nie.  Jy kan bang wees vir allerhande goed.  Baie van ons vrese maak sin en hou ons veilig.  Maar hierdie vrees is onsin – die vrees dat God sal sê: “genoeg!”  Die vrees dat jy vir God sal teleurstel.

1 Joh. 4:18 Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.

Donderdagaand het ons gesê vrees vir die Here is goed.  Maar dis nie bang wees nie.  Jy hoef nie bang te wees vir God, bang te wees dat hy hom teleur gaan stel nie, dat jy nie goed genoeg is, sy geduld met jou gaan opraak, jy die eindpunt van sy genade gaan bereik nie.  God is genadig.  Oorvloedig genadig.  Daar is genoeg genade, ook vir jou.

En as jy dit verstaan, hoef jy nie bang te wees nie.  Jy kan vry leef, met vrymoedigheid leef, liefde leef.  Of, soos iemand sê:  love boldly, live robustly.

Ek mal oor oor Cirque du Soleil.  Die manier waarom mense deur die lug gly, asof hulle niks weeg nie, asof hulle kan vlieg.  Vry.  Dis wat genade beteken.  Dat jy soos ’n Cirque gimnas van sweefstok na sweefstok kan gly.  Vry.  Veilig in die wete dat die vangnet van sy genade jou sal vang, altyd.  Elke keer wat jy val.  Jy is veilig.

Daar is niks wat ons so dapper maak, soos ’n helder verstaan van God se genade nie.  En daar is geen beter teelaarde vir vrees as onkunde van God se genade nie.

God gaan jou nie straf nie.  Die slegte goed wat gebeur, is nie die lae liniale wat op jou hand neerkom nie.  Jesus het jou straf aan die kruis gedra.  Dis gedoen.  Finis en klaar.

Niks kan jou so vry laat vlieg, soos ’n helder verstaan van God se genade nie.  As jy nog nie daardie genade aanvaar het nie, wil ek jou regtig aanmoedig: doen dit!  Steek jou hand uit en ontvang God se genade in Christus!

1 Joh. 1:9

Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

En as jy God se vergifnis ontvang het – leef vergewe!  Wanneer Jesus jou vrymaak, is jy vry.

C.S. Lewis se boek “Screwtape Letters” is briewe van ’n fiktiewe duiwel wat vir ’n jonger duiwel. Wormwood raad gee.

Whenever they are attending to the Enemy Himself we are defeated, but there are ways of preventing them from doing so. The simplest is to turn their gaze away from Him towards themselves. … When they meant to pray for courage, let them really be trying to feel brave. When they say they are praying for forgiveness, let them be trying to feel forgiven.

1 Joh. 3:20 As ons gewete ons veroordeel—God is groter as ons gewete, en Hy weet alles.

Moenie wag tot jy vergewe voel nie.  Glo, weet: jy is vergewe.  En sweef!  God se vangnet is sterk.  Jy is veilig in God se hande.

Stil Gebed

Slotsang

Seën

     

Tags: , ,

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Marinel Coetzer

    |

    Ek is dringend opsoek na selfsorg verblyf vir my , my ma en my seuntjie vir ongeveer n maand tot 2. Ek is swanger met n tweeling en hul word vroeg gebore so hul gaan in NICU vir n hele ruk wees. Ons kom van patensie en kan nie elke dag in en uit ry nie. As daar enige iemand is wat my kan uithelp asb laat weet my.

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Sonja. Die OT apokriewe (weggelate) boeke is boeke wat uit die Joodse tradisie kom, maar nie met dieselfde gesag as die kanonieke (maatstawwe) boeke in die Bybel deur die Protestantse kerke aanvaar word nie.  Dit word dus nie as maatstaf of riglyn vir die geloof gebruik soos wat wel die geval is met die kanonieke boeke nie.  Hulle word ook deuterokanonieke (tweede maatstawwe) boeke genoem.  Hulle is waardevol, maar nie gesagvol nie.  Jy kan meer daaroor by hierdie skakel by Bybelskool lees. In kort is die NG Kerk se standpunt hieroor in die Nederlandse Geloofsbelydenis as volg: “Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.” (artikel 6)

  • Avatar

    Sonja blignaut

    |

    Naand ds Chris.
    Kan u miskien vir my u opinie gee oor die Aprokriewe boeke? Moet ek dit in dieselfde lig as die ,Bybel bestudeer?
    Baie dankie
    Sonja

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Jan. Die Here se Woord bly lewend en kragtig. In my eie herlees van hierdie preek het die Here self weer met my gepraat! Seën.

  • Avatar

    Jan Knoetze

    |

    Hierdie boodskap het my vanoggend weer hoop gegee. Ek het reeds besluit om op te gee met my roeping, nou vra ek weer die vraag; waar wil ons Here my hê? Dankie en God bless.