Om die genadejaar van die Here aan te kondig – Lukas 4:18-19

Hy staan verflenterd en verwese voor my deur, die tande klap op mekaar van die koue en ontbering, die trane die rol oor sy papnat lyfie. Stotterend kom dit uit, terwyl die wolke nog swaar is van die nag se reën: “Kan ek nie net ‘n week of twee hier bly nie? Ek het nooit geslaap nie. Ek is só koud.”

Ná ‘n warm stort, ‘n bak oats, twee piesangs en toegevou in hopelooslik te groot klere, ontvou die storie. Skaars standerd drie gemaak, gestremd, weggegooi hier by die see vir sy disability kaart, reeds 22 jaar oud maar geen heenkome meer nie. Broer wil hom nie hê nie, het in elk geval nie werk nie, ma het weggeloop, het nooit sy pa geken nie. Sê vir my “pa” …

Tien oproepe later neem ek hom MES toe hier in PE. Hy kry daar ‘n bed, kos, klere, assessering, en die moontlikheid van beskermde arbeid. Sien hom weer Maandag.

My hart was seer Vrydag. Hoeveel van hulle is daar nie in ons land nie? Ek het die middag op my bed gaan sit en peins en bid, net dié refrein in my gedagtes: “Mag die Here tog mense se harte aanraak in hierdie land van ons om ‘n verskil te maak, dat die genadejaar van die Here vir meer mense kan aanbreek.”

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS (Word en PowerPoint ingesluit)

Verwelkoming

Toetrede

Lied 431 O Gees van Vader en van Seun (staan)

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 439 O Heil’ge Gees, o God in ons v1 Afr, v 2 Eng, v 2 Afr (staan)

Lied 436 Herskep, o Gees, laat leef, o Gees (sit)

Koor: Lied 443 Wind kan jy nie sien nie

Dankoffers

Koor: Vonkk 211 Heilige Gees, U die Trooster

Kindertyd

Gebed

Skriflesing

Lukas 4:18-19

18Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, 19om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

Ek fokus vanoggend op die eerste en laaste sinne van hierdie belangrike boodskap van Jesus:

Die Gees van die Here is op My omdat Hy my gesalf het … om die genadejaar van die Here aan te kondig.

Woordverkondiging

Hy staan verflenterd en verwese voor my deur, die tande klap op mekaar van die koue en ontbering, die trane die rol oor sy papnat lyfie. Stotterend kom dit uit, terwyl die wolke nog swaar is van die nag se reën: “Kan ek nie net ‘n week of twee hier bly nie? Ek het nooit geslaap nie. Ek is só koud.”

Ná ‘n warm stort, ‘n bak oats, twee piesangs en toegevou in hopelooslik te groot klere, ontvou die storie. Skaars standerd drie gemaak, gestremd, weggegooi hier by die see vir sy disability kaart, reeds 22 jaar oud maar geen heenkome meer nie. Broer wil hom nie hê nie, het in elk geval nie werk nie, ma het weggeloop, het nooit sy pa geken nie. Sê vir my “pa” …

Tien oproepe later neem ek hom MES toe hier in PE. Hy kry daar ‘n bed, kos, klere, assessering, en die moontlikheid van beskermde arbeid. Sien hom weer Maandag.

My hart was seer Vrydag. Hoeveel van hulle is daar nie in ons land nie? Ek het die middag op my bed gaan sit en peins en bid, net dié refrein in my gedagtes: “Mag die Here tog mense se harte aanraak in hierdie land van ons om ‘n verskil te maak, dat die genadejaar van die Here vir meer mense kan aanbreek.”

Kleinboere vs Grootboere

Daar is twee perspektiewe wat belangrik is om dié gedeelte in Lukas reg te verstaan – soos David Bosch in ’n boekie – Lukas–Handelinge, Twee boeke vir ons tyd – my oë weer oopgemaak het (Laai dit hier af).

Die eerste perspektief is die boerdery situasie van daardie tyd.  In die Palestina van destyds was daar baie armes. Die Romeine het die Joodse land in die jaar 63 v.C. verower en by die uitgestrekte Romeinse Ryk ingelyf. In daardie tyd was die meeste plattelandse Jode kleinboere, wat die land gemeenskaplik besit het – min of meer net soos tradisionele Afrika was voor die koms van die Westerlinge. Groot grondbesitters was feitlik onbekend.

Die Romeine het egter geleidelik ’n nuwe stelsel ingevoer. Die een landgoed of groot plaas na die ander is gevestig en het uitgebrei ten koste van die kleinboere en gemeenskaplike besit. Die eintlike eienaar van die grond was nou die Romeinse owerheid. Hulle was die Grootboere.  Vir die Jode was dit ’n traumatiese ontwikkeling. Hulle het die land van God ontvang, as ’n ewige erfenis; dit was ’n heilige land. Maar nou het die Romeine dit vir hulleself toenemend toegeëien.

Een van die gevolge van die nuwe manier van grondbesit was dat die kleinboere hulleself nie meer kon handhaaf nie; meer en meer van hulle is mettertyd gedwing om as arbeiders op die groot plase te gaan werk. Hulle is die “dagloners” van wie ons so dikwels in die evangelies lees. Die standaardloon van so ’n arbeider was ’n silwer denarius per dag – so R100 ’n dag in vandag se geld – skaars genoeg om ’n familie min of meer op die broodlyn te laat bestaan. As so ’n arbeider ’n paar dae lank nie werk kon vind nie, was sy familie sonder kos.

Dit is teen hierdie agtergrond dat ons die vierde bede van die Onse Vader onder andere moet verstaan: “Gee ons vandag ons daaglikse brood” (meer korrek: “Gee ons vandag ons brood vir hierdie dag”). Dit is die gebed van mense wat van oomblik tot oomblik in onsekerheid lewe. Dit is ’n gebed om oorlewing.

Dit is ook teen hierdie algemene agtergrond dat ons Lukas se weergawe van Jesus se preek in Nasaret moet probeer verstaan. Die gevangenes, die blindes en die onderdruktes is almal saamgevat onder die term “die armes”; hulle is almal manifestasies van een of ander gebrek, almal het behoefte aan “goeie nuus”.

Die genade van die Jubeljaar

’n Volgende perspektief wat ons nodig het om dié gedeelte te verstaan, is die gebruik van die Jubeljaar of hersteljaar.  In die antieke samelewing van Israel was daar eintlik net één manier waarop armes uit die wurggreep van armoede sou kon ontsnap: as die Jubeljaar – elke sewende jaar, met ’n baie groot Jubeljaar elke 49ste jaar – toegepas sou word. Volgens Levitikus 25:9–17 moes die volgende in die Jubeljaar gebeur:

  1. almal moes hulle land terugkry wat hulle in die voorafgaande jare verloor het volgens ’n spesifieke sisteem van hoe daar kompenserende vergoeding bereken is;
  2. skulde moes kwytgeskeld word, weereens volgens sekere reëls wat ook die koper beskerm het;
  3. skuldslawe moes vrygestel word;
  4. die land moes braak gelaat word;
  5. ’n amnestie moes aan gevangenes toegestaan word.

Die Jubeljaar was dus goeie nuus vir armes, slawe, mense met baie skuld, en ander slagoffers van die samelewing en van omstandighede. Die Jubel– of hersteljaar was inderdaad ’n “genadejaar”.

Nou kom Jesus, en hy lees uit Jesaja 61, ’n teks wat in daardie tyd verband gehou het met die Groot Versoendag en met die begin van die Jubeljaar, veral ná die ballingskap toe die teruggekeerdes ook in armoedige toestande moes oorleef en wat die woorde van Lev. 25 eggo, dat daar “vrylating” kom. Jesus praat dus van die Jubeljaar in klassieke terme, van die Jubeljaar soos dit oorspronklik ingestel en bedoel was, en Hy knoop dit vas aan die armes vir wie Hy “goeie nuus”, dit wil sê “evangelie”, bring. Daar is selfs ’n moontlikheid dat die jaar wat Sy bediening begin het, inderdaad die Jubeljaar in Israel was.

Die belangrikheid van die oomblik word nog verder beklemtoon deurdat Jesus, nadat Hy hierdie gedeelte gelees het, vir ’n oomblik gaan sit het en toe gesê het: “Vandag is hierdie Skrifwoord, wat julle nou net gehoor het, vervul” (Lukas 4:21). Sy luisteraars kon nie twyfel nie: Jesus wou sê dat ’n totaal nuwe ding sou gebeur, dat die armes en verdruktes se verlossing voor die deur gestaan het.  Jesus kondig die Jubeljaar, die genadejaar aan.

Jesus kondig die genadejaar aan

Die vraag is nou, presies hoe het Jesus gemeen dat dit sou gebeur?

Ons het na verskillende kante van dié boodskap die week gekyk.  Ek wil vanoggend nog ‘n ander kant op die tafel sit.  David Bosch sê dat as ons hierdie teks in die hele verband van Lukas se evangelie lees, lyk dit of Jesus bedoel het dat die armes en verdruktes verlossing sou ontvang deurdat die rykes en magtiges ’n hartsverandering ondergaan en hulle hande na die armes sou uitsteek.

Dit is waarom daar so baie gelykenisse, verhale en opdragte in verband met rykdom, armoede, behoeftes, omgee en so meer in die evangelie van Lukas voorkom.

Soms gebeur dit deurdat twee verskillende reaksies van rykes op Jesus se boodskap naas mekaar gestel word. Een so ’n voorbeeld is in hoofstuk 18 en 19.  Die verhaal van die ryk jongman (18:18–30) en dié van die tollenaar Saggeus (19:1–10) word rug aan rug vertel, met net die aankondiging van Jesus se lyding en die genesing van ’n blinde man tussen–in.  Albei betekenisvolle verhale in die konteks van Lukas 4 se beskrywing van Jesus se bediening. Dit is ook net Lukas wat vir ons van Saggeus vertel en dit lyk boonop asof hy hom bewustelik teenoor die ryk jongman stel.

  • Die ryk jongman, Lukas 18, voorbeeldig en vroom, ’n getroue onderhouer van die wet, sien nie kans om sy besittings te verkoop en vir die armes te gee nie.
  • Saggeüs, Lukas 19, daarenteen – tollenaar, volksverraaier, iemand wat ver buite die wet lewe – onderneem (sonder dat Jesus hom vra om dit te doen) om die helfte van sy besittings vir die armes te gee en die mense wat hy afgepers het, vierdubbel te vergoed.

Trouens, Saggeus is die enigste ryk persoon in die evangelie van wie ons hoor dat hy sy lewenstyl verander het. Die ryk jongman het dit nie gedoen nie, ook nie die ryk man by wie se poort Lasarus gelê het nie (16:19–31) en ook nie die ryk dwaas nie (12:13–21).

’n Evangelie vir armes én rykes

Maar, ons moet die evangelie van Lukas nie hoor as dat hy net ’n “evangelis vir die armes” is nie.  In die lig van die voorbeelde wat ek so pas genoem het, sou ons met ewe veel reg van Lukas kon praat as die “evangelis vir die rykes”. Op verskillende maniere verwys Lukas na die roeping van die rykes, soos ons dit veral in sy weergawe van die Bergrede lees in hoofstuk 6:

  • Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; en as iemand jou goed vat, moet jy dit nie terugeis nie.” (Luk. 6:30).
  • Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.” (Luk. 6:31).
  • As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Ook die sondaars het net dié lief wat vir hulle liefhet.” (Luk. 6:32).
  • En as julle goed doen net aan dié wat aan julle goed doen, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Die sondaars maak maar net so.“ (Luk. 6:33).
  • En as julle geld leen net aan dié van wie julle hoop om dit terug te kry, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar dieselfde bedrag kan terugkry.” (Luk. 6:34).
  • Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen.” (Luk. 6:35).

In Nasaret begin Jesus dus nie met ’n “suiwer geestelike” boodskap, by wyse van spreke, wat net oor die individu se verhouding met God handel nie.  Nee, Hy vestig sy luisteraars se aandag op die konkrete nood van die armes, blindes, onderdruktes, gevangenes. Hy gee uitdrukking aan God se liefde vir die armes, nie net met woorde nie, maar met sy hele lewe en bediening.

En Jesus voed inderdaad die wat honger het, genees die siekes, bemoedig die eensames, steek sy hand uit na die verstotenes, en help die klein mensies om regop te staan en hulle koppe op te lig, want hulle weet nou dat hulle kosbaar is in God se oë.

Wat het Jesus se liefde vir armes dus vir ons vandag te sê?

Wat het Jesus se liefde vir armes dus vir ons vandag te sê?Doodgewoon: ons moet dieselfde doen; ons moet Jesus se woorde as’t ware “vertaal” sodat dit sin sal maak vir die mense van ons tyd. So iets is nie maklik nie en daar is sekerlik ruimte vir verskillende interpretasies en beklemtoninge.

Tog lyk dit my dat, indien ons op een of ander wyse getrou wil bly aan Jesus se opdrag en voorbeeld, ons ernstig sal moet probeer worstel met die vraag wat “goeie nuus vir die armes” – die mense wat ly aan gebreke en beproewinge van allerlei aard – in ons eie tyd mag beteken – ook al kom ons nie almal tot presies dieselfde antwoord nie.

My toets het dié week gekom in die gestalte van ’n arm verstotene sonder ’n heenkome halfsewe Vrydagoggend by die pastorie.

Dit beteken nie dat Jesus sê dat die armes – en alle mense wat behoeftig is – sondeloos is nie. Jesus se oproep tot bekering is nie net tot die rykes gerig nie, maar tot almal. Net soos die rykes geestelik arm kan wees, kan die armes ook geestelik arm wees. Armoede is nie ’n kwalifikasie vir redding nie.

En tog pleit Jesus volgens Lukas se evangelie dat die rykes nie agter hierdie waarheid moet skuil nie. Hulle moet nie die feit dat armes ook sondaars is, as verskoning gebruik om niks aan die nood van armes te doen nie. Dit is eerder so dat Hy vir die rykes daarop wil wys dat hulle in ten minste één opsig ’n baie besondere probleem het: rykes kan só verknog raak aan hulle besittings, dat hulle nie alleen hulle naaste vergeet nie, maar ook vir God.

Dit was byvoorbeeld die geval met die ryk dwaas, wat sy skure wou afbreek en groter bou om meer graan te kon stoor sodat hy vir die res van sy lewe kon eet, drink en lekker lewe. Maar in daardie nag het God sy lewe van hom opgeëis, en Jesus se kommentaar is: “So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie” (Luk. 12:13–21).

Dit is die ontsettende gevaar van die ryke: dat hy God en sy naaste vergeet, dat hy as gevolg daarvan “nie ryk is by God nie”. Dieselfde het gegeld van die ryk man wat Lasarus nie by sy poorte raakgesien het nie en uiteindelik in die verdoemenis beland het: sy rykdom het hom blind gemaak vir ander en vir God, al het hy “Moses en die profete” gehad (Luk. 16:19–31).

Dus wil Jesus sê – soos David Bosch dit stel: al is dit so dat armoede nie ’n kwalifikasie vir verlossing is nie, kan dit wel gebeur dat rykdom ’n diskwalifikasie word. Dit is onmoontlik om God en Mammon te dien. Of soos Jesus in die verduideliking van die gelykenis van die saaier sê (Luk. 8:14):

Die saad wat tussen die onkruid val, dui op die wat die woord hoor, maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe word dit gaandeweg verstik, en dit skiet nie saad nie. “

Vir mense wat in hierdie strikke vasgevang is, wys Jesus – soos Lukas hom aan ons voorhou – ’n weg uit die doodloopstraat waarin ons is. Dit kan gebeur dat ons – soos Saggeüs – deur God daartoe beweeg word om ons lewenstyl te verander, om weg te kyk van onsself af, en om die nood van ander raak te sien. Om self instrumente te word om God se genadejaar vir mense aan te kondig.

Hoe kan ons dit doen?

Ek het al ’n hele paar keer kommentaar gelewer oor die feit dat voeding en opvoeding die hoof maniere is waarop ons ’n verandering kan bring in die lewe van arm mense.  En ek het iets gesê oor hoe die Here my dié week aangeraak en gebruik het in een mens se lewe.

Vandag wil ek eerder afsluit met twee ander stories wat ons verbeelding kan wakker maak om self te hoor waar die Here ons wil gebruik.  Dit is twee stories uit Tim Dearborn se boek, Taste & See; Awakening Our Spiritual Senses  wat my bybly.  Dit is stories wat ons kan motiveer om instrumente van God se genade te wees, om sy genadejaar vir mense aan te kondig.

1. Die eerste verhaal is van ’n vrou in Tim Dearborn se gemeente met die wonderlike naam, Grace. Vir 40 jaar het Grace ’n bediening onder die straatmense in Seattle gehad. Toe hulle haar vra wat is haar geheim, het sy kort geantwoord:

“If you want to have ministry on the streets, then walk slowly and it will happen to you. If you want to avoid it, then walk fast”

Jesus het sy dissipels destyds en sy dissipels vandag geleer om stadig te loop sodat ons die kuns van waarneem kan beoefen, want waarneem lei tot betrokke raak en ’n verskil maak.

2. Tim Dearborn vertel ’n tweede storie om te illustreer hoe stadig loop én waarneem kan lei tot betrokkenheid en ’n verskil maak:

Tim het met ’n teologiese student David een Sondagoggend gery om ’n erediens te gaan hou in ’n Skotse plattelandse kerkie.  David het ’n interessante agtergrond gehad.  Hy het vroeër vir omtrent twintig jaar met skape gewerk.  Hy het egter tot bekering gekom en toe in sy veertiger jare vir predikant gaan studeer.

Toe hulle oor ’n heuwel ry, het die sonlig deurgebreek op ’n hele aantal skaap wat langs die pad wei.  Tim het opgemerk dat dié gesig ’n paar herinnering moet terugbring vir Dawid.  Al wat David hom geantwoord het, was: “Tim, stop asseblief.”

Tim het gestop.  David vra toe dat Tim agteruitry tot by die veld waarby hulle so pas verbygery het.  David het die deur oopgemaak en oor die pad gestap en oor die klipmuur geklim.  David het geloop tot die verste end van die veld.  ’n  Skaap het daar gelê en spartel op sy rug.  David het die skaap gehelp om op sy bene te kom en dié het vinnig weggehardloop.

Tim het gewonder hoekom dit nodig was.  David verduidelik toe vir hom dat ’n ongeskeerde skaap so topswaar kan word dat as hulle omval hulle nie weer regop kan kom nie.  Hulle kan versmoor as hulle op hulle rûe bly lê.  As ’n mens hulle nie optel nie, sal hulle doodgaan.

David het die een skaap uit ’n honderd raakgesien wat in gevaar was.  Hy het met die ervare oë van ’n skaapwagter gekyk.  Sonder dié waarneming sou die skaap waarskynlik doodgegaan het.

Oral om ons is daar mense wat swaarkry.  Soms is dit weggesteek.  Soms is dit baie duidelik.  Om die genadejaar van die Here aan te kondig, beteken om goed waar te neem, en mense op hulle voete te help.

Die Here nooi ons dus uit om stadig te loop en waar te neem in die wêreld om ons. Hy nooi ons uit om betrokke te raak in hierdie wêreld, dié wêreld wat God so lief het dat Hy vir Jesus gestuur  het om hier te leef, te sterf, op te staan en op te vaar om 24/7 nou hier teenwoordig te wees.

Gebed

Tafel voorberei

Lied 303 Afr, Eng, Afr (sit)

Geloofsbelydenis

Tafelgebed

Uitdeel van tekens

Nagmaal

Dankgebed

Slotlied

Lied 440 Die Here salf ons met sy Gees (staan)

Seën

Respons

Lied 311 Dit wat ons hier ontvang het (Koor is voorsangers)

     

Trackback from your site.

Comments (2)

  • Avatar

    Alwyn du Plessis

    |

    Deel graag die volgende want dit bly by my. Kom die week uit die Poskantoor by Mount Pleasant. Staan hy daar met die bos rose in sy hand en wil weet of ek nie een wil koop nie. Swaarkry is diep ingeweef in hom, Jy weet nie hou oud is hy nie want swaarkry laat merke wat nie meer jou ouderdom verklap nie. Die week gaan ek hom soek en die hele bos rose koop.

    Dankie Chris vir die preek. Prof Dawid Bosch se bybelstudie van 1988 worstel en spook al die afgelope drie weke met my. Die nood is so groot en ons is die voete en hande wat moet help. Mag elkeen van ons die genade van God beleef om die hand uit te steek om te help.

    Reply

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dit bly ‘n uitdaging om te help, maar as ons nie help nie, en bereid is om foute te maak in die proses nie, sal die wêreld ook nooit verander nie.

    Reply

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Marie Albertyn

    |

    Goeie Middag
    Ek sien u het verlede jaar verblyf gesoek vir u seun. As u van nog seuns weet, ek het n baie lekker kamer met kombuis en badkamer vir n seun.
    Tel.: 041-5831173 of 0842513492

  • Avatar

    Marinel Coetzer

    |

    Ek is dringend opsoek na selfsorg verblyf vir my , my ma en my seuntjie vir ongeveer n maand tot 2. Ek is swanger met n tweeling en hul word vroeg gebore so hul gaan in NICU vir n hele ruk wees. Ons kom van patensie en kan nie elke dag in en uit ry nie. As daar enige iemand is wat my kan uithelp asb laat weet my.

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Sonja. Die OT apokriewe (weggelate) boeke is boeke wat uit die Joodse tradisie kom, maar nie met dieselfde gesag as die kanonieke (maatstawwe) boeke in die Bybel deur die Protestantse kerke aanvaar word nie.  Dit word dus nie as maatstaf of riglyn vir die geloof gebruik soos wat wel die geval is met die kanonieke boeke nie.  Hulle word ook deuterokanonieke (tweede maatstawwe) boeke genoem.  Hulle is waardevol, maar nie gesagvol nie.  Jy kan meer daaroor by hierdie skakel by Bybelskool lees. In kort is die NG Kerk se standpunt hieroor in die Nederlandse Geloofsbelydenis as volg: “Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.” (artikel 6)

  • Avatar

    Sonja blignaut

    |

    Naand ds Chris.
    Kan u miskien vir my u opinie gee oor die Aprokriewe boeke? Moet ek dit in dieselfde lig as die ,Bybel bestudeer?
    Baie dankie
    Sonja

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Jan. Die Here se Woord bly lewend en kragtig. In my eie herlees van hierdie preek het die Here self weer met my gepraat! Seën.