Numeri 21:1-9 – “Elkeen wat opkyk, sal lewe.”

Die pas begin versnel met die trek langs die Dooie See op aan die oostekant van die Jordaan.  Die eerste oorwinning wat die tweede generasie van Israel behaal, is teen die Kanaäniete van koning Arad wie se stede hulle met die banvloek tref (Numeri 21:1-3).

‘n Mens sou wou dink dat die probleme van die verlede oorkom is.  Hulle oorwin juis dié mense waarteen hulle ouers verloor het 38 jaar gelede (Num. 14:45).  En ‘n mens begin opgewonde raak oor die feit dat hulle dié keer die Here aanroep in gebed, selfs ‘n gelofte aan Hom maak, en alles vir Hom gee, elke stukkie van die buit wat hulle in die oorlog maak.

Verwelkoming

Aankondigings

Tilla Olivier oor fondsinsameling

Toetrede (Cantatori)

Uit “Die gebed van Jabes” – digter Hans du Plessis, ‘n Griekwa-Afrikaanse gebed om reën

Strek uit u wye vleuels (Bred dina vida vingar) – ‘n Psalm van die Sweedse Protestantse Kerk

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 258 Vreugdevolle tyding, bron van hartverblyding – evangeliewoord! – staan

Toewyding

2 Petrus 1:3-11

3Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. 4Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes (beloftes) geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur. 5En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, 6die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, 7die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.

8As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken. 9Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is.

10Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie. 11En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.

Geloofsbelydenis

Lied 439 O Heil’ge Gees, o God in ons – sit

Gebed

Skriflesing gekombineer met Inleiding (kindertyd)

Steek jou hand op as jy al ooit in ‘n restaurant was. Hoe was dit? (Laat hulle die spyskaart, diens, koste, ens. beskryf).

Het jy al ooit kos geëet waarvan jy nie gehou het nie? (Laat hulle hulle eie ervaring beskryf of deel).

Het jy geweet dat toe die Israeliete in die woestyn gereis het, God hulle elke dag goeie kos gegee het? Hy het vir hulle manna (soos heuning gesmaak) en vleis gegee om te eet (kwartels).  Dit was soos om elke dag by ‘n restaurant te eet en niks hoef te betaal nie! Sal jy dit graag wil doen?  Steek jou hand op as jy dit sou wou hê.

Maar, dink julle die mense was gelukkig met wat God hulle gegee het?

Elke dag het die Israeliete nader en nader aan die tyd gekom toe hulle die land kon binnegaan wat God aan hulle beloof het. Die Here het hulle altyd versorg en vir hulle heerlike manna en kwartels gegee om te eet. Hy wou hê hulle moes gelukkig wees.

Toe die Kanaänitiese koning Arad wat in die Suidland woon, verneem dat Israel in die rigting van Atarim optrek, het hy teen hulle gaan veg en ’n aantal van hulle gevange geneem. 2Israel het ’n gelofte aan die Here gedoen: “As U hierdie volk en hulle stede in ons mag gee, sal ons hulle stede as banoffers aan U offer.”

3Die Here het die gebed verhoor en die Kanaäniete in Israel se mag oorgegee. Hulle het toe die Kanaäniete verslaan en hulle stede heeltemal verwoes. Daarom word die plek Gorma genoem.

Wonderlike nê?!

4Om by die gebied van Edom verby te kom, het die Israeliete van Horberg af in die rigting van die Rietsee getrek. Op pad daarheen het die volk ongeduldig geword 5en teen God en Moses uitgevaar: “Waarom het U ons uit Egipte laat trek net om in die woestyn te sterwe? Hier is nie brood en water nie, en ons is sat vir hierdie slegte kos.”

Sommige van die mense het dus ongeduldig geword. Hulle was moeg om te wag. Hulle het begin kla by Moses. Hulle het nie van die kos gehou nie. Hulle wou meer water hê. Toe het hulle begin om oor God te kla. Hulle het gesê dat Hy hulle nie goeie brood gegee het om te eet nie. Hulle het gesê dat Hy hulle miserabele kos gegee het. Die Israeliete het gesê dat hulle wens hulle was terug in Egipte!

6Die Here het toe giftige slange onder die volk ingestuur. Die slange het die mense gepik en baie Israeliete het gesterf. 7Toe kom die volk na Moses toe en bely: “Ons het teen die Here en teen u gesondig met wat ons gesê het. Bid tog tot die Here dat Hy die slange van ons af wegneem.”

Die Here was baie ontsteld met sy volk. Hy het hulle goeie kos gegee om te eet en water om te drink. Hy het hulle altyd versorg en beskerm teen die wilde diere en slange in die woestyn. Hulle moes tevrede wees. “Tevrede” beteken om gelukkig te wees met die dinge wat jy het of hoe jou lewe is, sonder om altyd ongelukkig te wees en te dink dat jy meer moet hê. Die Israeliete was nie tevrede nie. Die mense het God nie bedank vir wat Hy gedoen het nie. Hulle het altyd gedink hulle moet meer hê!

Die Here het toe besluit om die Israeliete te leer dat Hy die enigste was wat hulle kon red. Hy het giftige slange in die kamp gestuur. Die slange het die mense gebyt en baie van hulle het siek geword en gesterf. Nou het die volk geweet dat hulle die Here nodig gehad het om hulle te beskerm. Hulle het geweet dat hulle verkeerd was om te kla oor die manier waarop die Here vir hulle gesorg het. Hulle het aan Moses gesê hulle is baie jammer vir al hul klagtes.

Moses het toe vir die volk gebid, 8en die Here het vir Moses gesê: “Maak ’n beeld van ’n giftige slang en sit dit op ’n paal. Elkeen wat gepik is en daarna opkyk, sal lewe.”

9Moses het toe ’n koperslang gemaak en dit op ’n paal gesit. As iemand wat deur ’n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het hy bly leef.

Moses het tot die Here gebid oor die slange. Hy het vir die Here gesê hoe jammer die mense was. Die Here het Moses se gebed beantwoord. Hy het die giftige slange nie van die kamp af geneem nie, maar Hy het iets gedoen wat die Israeliete sal help om te onthou dat hulle Hom altyd vir hulp moet soek. Hy het vir Moses gesê om ‘n slang uit ‘n blink metaal te maak wat “brons” of “koper” genoem word. Moses moes die koperslang op ‘n paal gesit sodat al die mense dit kon sien. As iemand deur ‘n giftige slang gebyt word, kan hulle na die koperslang kyk en gesond gemaak word. Dit sou hulle help om te onthou dat God vir hulle sal sorg.

Baie van die Israeliete wat deur die slange gebyt is, het na die brons slang op die paal gekyk en is goed gemaak. Hulle het onthou dat God vir sy mense omsien. Net God kon hulle gesond maak. Hulle het geleer om gelukkig en tevrede te wees met die dinge wat die Here aan hulle gegee het. Hulle het geleer om nie oor die Here se gawes te kla nie!

Lied 548 Ek weet Jesus lewe, daarom is ek bly – sit

Prediking

Die pas begin versnel met die trek langs die Dooie See op aan die oostekant van die Jordaan.  Die eerste oorwinning wat die tweede generasie van Israel behaal, is teen die Kanaäniete van koning Arad wie se stede hulle met die banvloek tref (Numeri 21:1-3).

‘n Mens sou wou dink dat die probleme van die verlede oorkom is.  Hulle oorwin juis dié mense waarteen hulle ouers verloor het 38 jaar gelede (Num. 14:45).  En ‘n mens begin opgewonde raak oor die feit dat hulle dié keer die Here aanroep in gebed, selfs ‘n gelofte aan Hom maak, en alles vir Hom gee, elke stukkie van die buit wat hulle in die oorlog maak.

Verset lei tot veroordeling

Maar nee, die opgewondenheid oor die tweede generasie verdamp wanneer dié groot oorwinning opgevolg word deur nog ‘n tranedal van verset oor kos en water.  Die skrywer gee dit weer met ‘n perfekte idioom: “die siel van die Israeliete het kort geraak.”  Hulle het sat geraak vir hierdie slegte kos.

Die blydskap oor die oorwinning was dus van korte duur.  In plaas daarvan om soos met die bedreiging van koning Arad van die Kanaäniete tot die Here te bid, vaar hulle uit teen Moses en die Here oor hulle omstandighede.  Die reis deur die woestyn het ‘n groot tol van hulle geëis.  Miskien was daar verwyte teen hulle ouers.  Maar dieper was die ongeduld met die Here.

Die Here se reaksie dié keer op hulle verset is weereens drasties.  Hy stuur giftige slange onder hulle in en baie van die Israeliete sterf.  Die giftigheid van hulle verset word begroet deur die gif van God se oordeel.  Verset lei tot veroordeling.

Vertroue lei tot verlossing

Die Here se oordeel word egter genadiglik begroet met skuldbelydenis deur die volk – teenoor die Here sowel as teenoor Moses – en die hoeveelste voorbidding deur Moses vir die volk in verset.  Op bevel van die Here maak Moses hierdie keer ‘n koperslang maak met die belofte: “Elkeen wat gepik is en daarheen opkyk, sal lewe.”

Die slang het die vloek voorgestel wat hulle getref het.  Deur die slang “op te lig” teen die paal is die vloek weggeneem, sodat, wanneer hulle daarheen gekyk het, ‘n teken van geloof en vertroue, hulle genees sou word.

En dit is presies wat gebeur.  Soos hulle na die koperslang opgekyk het in vertroue, het die gif uit hulle sisteem verdwyn en het die lewe teruggekeer en is hulle genees.  Vertroue lei tot verlossing.

  1. Moenie net kla nie, bid!

Die eerste boodskap wat die Here op my hart lê, is dat daar ‘n groot verskil is tussen kla en bid.  Die verskil lê egter nie in die inhoud nie, maar net in die gerigtheid.

  • Die Israeliete kla oor God toe hulle behoeftes nie bevredig word nie, met destruktiewe gevolge.
  • Die Israeliete bid tot God toe hulle gebyt word deur die slange, met positiewe gevolge.

Dieselfde het gebeur toe hulle net daarvoor aangeval is deur die Kanaäniete.  Gebed bring verlossing.  Klagtes bring verwydering.

Ek wil dit deurgee aan jou as bemoediging.  Soos Paulus in sy brief aan die Filippense skryf: “Maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” (Fil. 4:6-7).  Moenie net kla nie, bid!

  1. God bring verlossing vir dié wat op Hom vertrou

Die tweede boodskap wat die Here op my hart lê, is dat God dié verlos wat op Hom vertrou. In Jesus se gesprek met Nikodemus verwys Hy na die koperslang as ‘n OT skadubeeld van die verlossing wat God bring: “Moses het die slang in die woestyn hoog op ’n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.” (Joh. 3:14-15).

Dit is die konteks wat Jesus gee aan die bekende uitspraak van Joh. 3:16: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

Ek wil die wonderlike versekering vandag vir jou gee dat Jesus vir jou aan die kruis van Golgota verhoog is, sodat jy nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.  Dit is die belofte wat Hy vir jou gee.  Dit is die belofte waarop jy kan vertrou.

Jesus gaan verder om te sê: “God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie.” (Joh. 3:17-18a).  Hy hang aan die kruis tot ons redding.  As jy dit glo, word jy nie veroordeel nie, sal jy gered word, sal jy die ewige lewe hê.

  1. God bring veroordeling vir dié wat nie in Jesus glo nie

Daar is egter ‘n ander kant waaroor mense nie vandag genoeg praat nie, die derde saak wat die Here op my hart lê.  Jesus se boodskap van verlossing is werklik, net so werklik soos die koperslang in die woestyn was.  Dié wat opgekyk het, het bly lewe.

Maar, dit is net so waar, dié wat nie opgekyk het nie, wat nie op God se verlossing vertrou het nie, het nie bly lewe nie.  Wie anders verkondig, is besig met ‘n valse evangelie.

Soos Jesus dit hier stel: “Wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.” (Joh. 3:18b).  Wat waar was in die woestyn, is waar vir ons vandag ook.

Daar kom ‘n skeiding tussen die duisternis en die lig

En so kom die skeiding”, sê Jesus.  Wat Johannes reeds in die eerste hoofstuk vir ons gesê het: “Die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad.” (Joh. 3:19a).  Hoekom?  “Want hulle dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie.” (Joh. 19b-20).

Soos Johannes in sy Openbaring later sal skrywe, sal ons hierdie skeiding al hoe duideliker raaksien in die wêreldgeskiedenis.  Dié mense wat ongehoorsaam is aan God se Woord sal die lig haat, sodat hulle dade nie aan die kaak gestel word nie.  Hulle sal ‘n boodskap verwelkom wat na hulle smaak is, wat aanpas by hoe hulle wil lewe.

  1. Kom na die lig, sodat dit duidelik kan blyk dat jy in gehoorsaamheid aan God lewe

Dit is waarom ek in die vierde plek dringend by jou aandring om in die lig te lewe.  Want, dit is hoe mense leef wat op God vertrou.  Dié mense wat op God vertrou, sál aan sy Woord vashou en al hoe meer daaraan gehoorsaam word. Soos Jesus sê: “Wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”

Dít is waarom die oproep tot ‘n heilige lewe so belangrik is, en so konsekwent deur die NT beklemtoon word.  Geloof in Jesus Christus lei altyd tot gehoorsaamheid aan sy wil vir die lewe.  Daarsonder is geloof dood en nutteloos en kom mense onder sy oordeel: “Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.

Ek ervaar in my eie lewe al hoe meer dat dit nie soseer konkrete sondes is wat in my verhouding met die Here onder die soeklig kom nie, maar my sondigheid.  Dit gaan al hoe meer vir my in my proses van heiligmaking oor die bron van my sondes, diep in my sondige natuur, eerder as net die sondes self.

En ek ervaar dat soos ek my lewe spieël in die Woord, ek al hoe meer oortuig word van die verlossing wat ek nodig het, in my binnekant.  Op dié manier verander die nuwe natuur wat God in my geskep het my sondigheid.  Só raak ek al hoe meer verander na die beeld van die Here Jesus Christus, soos ons vroeër in die tweede brief van Petrus gelees het.

Hierdie proses beïnvloed hoe ek praat, hoe ek dink, hoe ek doen.  Dit beïnvloed wat ek kyk, waaroor ek gesels, waaroor ek lag, waaroor ek kommentaar lewer.  Daar is ‘n passie in myself, ‘n passie wat van God af kom, dat ek in alles volgens die waarheid sal handel. Daarom gehoorsaam ek die Here Jesus se uitnodiging om al hoe meer na die lig toe te kom, die lig van die Woord: “sodat dit duidelik kan blyk dat my dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”

  1. Laat ons Christus nie uittart deur in verset teen God te kom nie

As Paulus daarom na die verhaal van die koperslang in Numeri 21 verwys, gebruik hy dit as ‘n waarskuwing dat God nie deur afgodsdiens en onsedelikheid uitgetart moet word, want só ‘n verset teen God sal jou dood beteken, omdat dit ‘n verset en verwerping van Christus inhou.

Ek wil daarom in die vyfde plek hê dat jy raaksien in Paulus se skrywe aan die Korintiërs dat Paulus ‘n dubbele betekenis aan die preëksistente Christus se optrede teenoor die volk toeken.  Hy sê: “Laat ons Christus nie uittart nie, soos sommige van hulle Hom uitgetart het, en hulle het deur slange omgekom. En moenie teen God in verset kom nie, soos sommige van hulle in verset gekom het, en hulle het deur die engel van die dood omgekom. Hierdie dinge het oor hulle gekom as ’n voorbeeld vir ons en is opgeskryf as ’n waarskuwing vir ons wat die einde van die tye al beleef.” (1 Kor. 10:9-11).

Let op dat vir Paulus Christus dus die een was wat die volk in die woestyn laat omkom en laat lewe het.  ‘n Duidelike verwysing na die dubbele betekenis wat Jesus vir mense het in terme van verlossing en oordeel, soos Jesus dit self uitspel in Johannes 3.

  1. Stry vir die geloof soos dit aan ons oorgelewer is

As ons dus persoonlik hieraan gehoor moet gee, is dit net logies dat ons in die sesde plek ook as ‘n geloofsgemeenskap saam sal stry vir die geloof soos dit aan ons oorgelewer is.  Dit is waartoe Judas, die broer van Jesus, vir ons oproep in sy brief waar hy teen dwaalleraars waarsku en die gemeente oproep om vir die geloof te stry soos dit aan hulle aan die begin oorgelewer is: “Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus.  Al weet julle al hierdie dinge, wil ek julle daaraan herinner dat, hoewel die Here (kurios – sommige tekste het Jesus!) een maal sy volk uit Egipte verlos het, Hy tog daarna dié wat nie geglo het nie, laat omkom het.[1] (Judas 4-5).

  1. God voorsien oorvloedig vir mense wat op Hom vertrou

Ek wil afsluit met ‘n sewende deel van hierdie boodskap, iets wat ons eintlik in die afloop van die verhaal van die koperslang, vind.  Julle kan dit gerus gaan lees by die huis.

Die verlossing van die gif van die slange is nie die enigste voorsiening van die Here hier in die woestyn toe die volk se “siele kort geraak het” nie.  Op hulle verdere trek noord langs die Dooie See op, waar hulle met die Amoriete en Refaïete, die reuse, slaags sou raak, voorsien die Here vir hulle water by ‘n put.  In ‘n besondere lied word dié gebeurtenis gedenk.

Hulle verslaan ook ‘n aantal konings op pad, selfs voor hulle nog die beloofde land binneval.  Gaan lees hoe Israel ‘n bestaande gedig van die Amoriete oorneem waarin die Amoriete liries was oor hulle eie oorwinnings, en hoe hulle op subtiele wyse spot met die Amoriete met die byvoeging: “Maar nou het ons op hulle losgetrek”!   Selfs Og van Basan, die reus met ‘n bed van yster, sowat vier meter by twee meter groot, val voor hulle.

God voorsien oorvloedig vir mense wat op Hom vertrou.  Jy kan dit dié week nie net onthou nie, maar daarop vertrou.

Gebed

Dankoffers

Slotsang (Cantatori)

Steal Away – Swart Amerikaanse gewyde lied

Ukuthula – Kerklied van die Zoeloes

Seënbede

Respons

Lied 532 Ons Vader, neem ons hande en maak ons één – staan

[1] Vers 5 gebruik volgens die vroegste teksgetuies in die Grieks die woord Jesus nie kurios, d.w.s. Here, nie.  Selfs al sou die lesing kurios aanvaar word, verwys kurios in hierdie vers in elk geval na Jesus wat in die vorige vers, vers 4, as Here beskryf word (Bauckham, Word reeks).  Baie identifiseer Jesus daarom met die engel wat die Here voor die Israeliete uitgestuur het soos Eksodus 23:20 aanvoer. Ook Johannes voer aan dat Jesaja die heerlikheid van die Here gesien het en verbind dit met Jesus (Joh. 12:41). Die Hebreërskrywer verbind Jesus as Here aan die skepping (Hebr. 1:10) en Paulus verbind Jesus aan die Jahwe van die OT (vgl. Rom. 10:13; Jes. 28:16).  Food for thought!

     

Trackback from your site.

Comments (2)

  • Avatar

    Mariette

    |

    Sowaar “food for thought”!
    Baie dankie…

    Reply

    • Avatar

      webmeester

      |

      Dankie!

      Reply

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Marie Albertyn

    |

    Goeie Middag
    Ek sien u het verlede jaar verblyf gesoek vir u seun. As u van nog seuns weet, ek het n baie lekker kamer met kombuis en badkamer vir n seun.
    Tel.: 041-5831173 of 0842513492

  • Avatar

    Marinel Coetzer

    |

    Ek is dringend opsoek na selfsorg verblyf vir my , my ma en my seuntjie vir ongeveer n maand tot 2. Ek is swanger met n tweeling en hul word vroeg gebore so hul gaan in NICU vir n hele ruk wees. Ons kom van patensie en kan nie elke dag in en uit ry nie. As daar enige iemand is wat my kan uithelp asb laat weet my.

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Sonja. Die OT apokriewe (weggelate) boeke is boeke wat uit die Joodse tradisie kom, maar nie met dieselfde gesag as die kanonieke (maatstawwe) boeke in die Bybel deur die Protestantse kerke aanvaar word nie.  Dit word dus nie as maatstaf of riglyn vir die geloof gebruik soos wat wel die geval is met die kanonieke boeke nie.  Hulle word ook deuterokanonieke (tweede maatstawwe) boeke genoem.  Hulle is waardevol, maar nie gesagvol nie.  Jy kan meer daaroor by hierdie skakel by Bybelskool lees. In kort is die NG Kerk se standpunt hieroor in die Nederlandse Geloofsbelydenis as volg: “Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.” (artikel 6)

  • Avatar

    Sonja blignaut

    |

    Naand ds Chris.
    Kan u miskien vir my u opinie gee oor die Aprokriewe boeke? Moet ek dit in dieselfde lig as die ,Bybel bestudeer?
    Baie dankie
    Sonja

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Jan. Die Here se Woord bly lewend en kragtig. In my eie herlees van hierdie preek het die Here self weer met my gepraat! Seën.