• Home
  • Uncategorized
  • Numeri 13-14 – “Ons moet beslis optrek, want ons kán dit doen.”

Numeri 13-14 – “Ons moet beslis optrek, want ons kán dit doen.”

Ek is Kaleb.

Dit het ons amper twee jaar geneem om by Kades uit te kom.  Deur dik en dun was die Here daar vir ons in die woestyn.  Deur die Rietsee.  In die oorlog teen die Amalekiete.  In die honger en dors tye met die manna en die water.  Selfs waar Hy opgetree het teen die rebelle. Korag, Datan, Abiram.  Selfs teen Mirjam en Aäron!  Ek kon amper nie glo dat hulle dit gewaag het om Moses aan te vat nie.  Ons moes sewe dae vir haar wag dat die Here haar velsiekte genees.

Regdeur dit alles het die Here ons egter gelei.  Soos die wolk opgelig het, het ons agter Hom aangetrek.  Wanneer dit gaan staan het, het ons kamp opgeslaan.  Selfs in die nag was ons van Hom bewus.  Die lig wat van die vuurkolom uitgestraal het, het tot in elke tent lig gemaak.

Elke keer dat ons onseker was, het die Here sy wet vir ons uitgelê.  Dit het ons gehelp om elke oomblik van die dag van Hom bewus te bly.  Elke keer wat ons gesondig het, kon ons om vergifnis gaan smeek by die Tabernakel.  En soos die offers se rook opgetrek en die priesters ons van God se genade verseker het, kon ons sy vrede in ons harte voel neerdaal.

By Kades het die droom van die beloofde land egter binne bereik gekom.  Ek was so bly dat die Here die oggend in die Paranwoestyn aan Moses verskyn het.  Die opdrag was om twaalf leiers uit die twaalf stamme as verkenners aan te wys.  Ek kon my geluk nie glo toe ek aangewys is om my stam Juda te verteenwoordig nie.

Moses het ons gestuur om as verkenners op te tree.  Ons moes nie net die toeganklikheid van die stede en die paraatheid van sy mense toets nie, maar ook die vrugbaarheid en geskiktheid van die land ondersoek.  Moses wou spesifiek hê ons moes van die vrugte saambring as ons kon.  Die manna was immers goed genoeg, maar ‘n druiwetros of ‘n bietjie dadels sou darem vorentoe smaak.  En dit sou die volk opgewonde maak, het hy gereken.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

Verwelkoming

Toetrede

Lied 166 Kom, Heil’ge Gees, wees U self teenwoordig hier by ons – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 492 In U is vreugde, vrede en vreugde, Jesus Christus, U is Heer – staan

Toewyding

Numeri 14:17-19

17“Laat u groot mag nou bekend word, Here, soos U gesê het: 18‘Ek, die Here, is lankmoedig en vol liefde; Ek vergewe ongeregtigheid en oortreding, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.’19Vergewe dan tog die sonde van hierdie volk in u groot liefde, soos U hulle van Egipte af tot hiertoe vergewe het!”

Lied 284 Laat, Heer, u vrede deur my vloei – sit

Gebed

Skriflesing (kindertyd)

Numeri 13-14

Skyfie 1: Die Israeliete het aangekom by die beloofde land.

Kanaän word verken

Skyfie 2: 1Die Here het vir Moses gesê: 2“Stuur manne om Kanaän, wat Ek aan die Israeliete sal gee, te verken. Uit elke stam moet jy een stuur wat ’n leier onder hulle is.”

Skyfie 3: 3Op die bevel van die Here het Moses hulle toe van die Paranwoestyn af uitgestuur. Al die manne was leiers onder die Israeliete.

Skyfie 4: 17Moses het hulle gestuur om Kanaän te verken: “18Bekyk die land, hoe dit is, en of die mense wat daar woon, sterk of swak, min of baie is, 19of die land waarin hulle woon, goed of sleg is, en of die mense se stede oop of versterk is, 20of die grond vrugbaar of skraal is, of dit bome het of nie. Doen julle bes om van die land se vrugte saam te bring.”  Dit was juis die tyd van die eerste ryp druiwe.

Skyfie 5: 21Hulle het toe die land gaan verken.

Skyfie 6: 22Hulle het deur die Suidland getrek en by Hebron gekom, waar Agiman, Sesai en Talmai, “reuse”, gewoon het.

Skyfie 7: 23Toe hulle by Eskolspruit kom, het hulle daar ’n rank met een druiwetros afgesny. Twee van hulle het dit aan ’n stok gedra, saam met ’n paar granate en vye. 25Nadat hulle die land veertig dae lank verken het, het hulle teruggegaan.

Skyfie 8: 26Die verkenners het toe by Moses en Aäron en die hele vergadering van die Israeliete by Kades in die Paranwoestyn aangekom. Daar het hulle aan Moses-hulle en aan die hele vergadering verslag gedoen en vir hulle die vrugte van die land gewys. 27Hulle het aan Moses gesê: “Ons het in die land gekom waarheen u ons gestuur het. Dit loop oor van melk en heuning, en hier is van sy vrugte.

Skyfie 9: 28Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot. Ons het ook “reuse” daar gesien.

Skyfie 10: 30Kaleb het egter die manne wat met Moses praat, stilgemaak en gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.”

31Maar die manne wat saam met hom gegaan het, het gesê: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons.”

32Die manne het toe ’n slegte gerug onder die Israeliete versprei oor die land wat hulle verken het. Hulle het gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is ’n land wat die lewe vir sy inwoners onmoontlik maak, en die mense wat ons daarin gesien het, is almal baie groot. 33Ons het daar ook die reuse gesien. Ons was soos sprinkane in ons eie oë, en so was ons ook in hulle oë.”

14 Daardie nag het die hele volksvergadering aanhoudend gekla. 2Al die Israeliete was in verset teen Moses en Aäron, en die hele vergadering het vir hulle gesê: “As ons maar in Egipte of in hierdie woestyn gesterf het! 3Waarom het die Here ons na hierdie land toe gebring? Net om doodgemaak te word? Ons vrouens en kinders sal gevangenes word. Is dit nie vir ons beter om na Egipte toe terug te gaan nie?”

4Hulle het toe vir mekaar gesê: “Kom ons kies ’n leier en gaan terug Egipte toe!”

Skyfie 11: 5Moses en Aäron het toe voor die hele vergadering van Israeliete wat daar saam was, op hulle knieë geval. 6Ook het Josua en Kaleb, manne wat saam die land verken het, hulle klere geskeur, 7en vir die hele vergadering Israeliete gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is ’n buitengewoon goeie land. 8As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons na hierdie land toe bring en dit aan ons gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning. 9Julle moet net nie teen die Here in opstand kom nie. Moet ook nie vir die mense van die land bang wees nie, want ons sal hulle maklik verslaan. Hulle gode sal hulle nie kan beskerm nie. Die Here is by ons. Moenie vir hulle bang wees nie!”

Skyfie 12: 10Maar die hele vergadering het gedreig om vir Josua en Kaleb met klippe dood te gooi.

Toe het die magtige teenwoordigheid van die Here by die tent van ontmoeting vir al die Israeliete sigbaar geword. 11Die Here het vir Moses gesê: “Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat? Hoe lank sal hulle weier om op My te vertrou ten spyte van al die wonders wat Ek onder hulle gedoen het? 12Ek gaan hulle tref met die pes en hulle uitroei, en dan sal Ek jou ’n volk maak, groter en sterker as hulle!”

Skyfie 13: 13–14Maar Moses het vir die Here gesê: “Die Egiptenaars sal dit hoor en dit vir die inwoners van hierdie land vertel. Dit is tog U wat hierdie volk deur u mag uit Egipte laat wegtrek het, en die inwoners van hierdie land het reeds gehoor dat U, Here, onder hierdie volk is, dat U duidelik waarneembaar verskyn het, dat u wolk oor hulle is, en dat U bedags in ’n wolkkolom en snags in ’n vuurkolom voor hulle uit gaan. 15As U hierdie volk soos een man om die lewe bring, sal die nasies wat van u dade gehoor het, sê: 16‘Die Here was nie in staat om hierdie volk in te bring in die land wat Hy met ’n eed aan hulle beloof het nie, daarom het Hy hulle in die woestyn omgebring.’

17“Laat u groot mag nou bekend word, Here, soos U gesê het: 18‘Ek, die Here, is lankmoedig en vol liefde; Ek vergewe ongeregtigheid en oortreding, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.’19Vergewe dan tog die sonde van hierdie volk in u groot liefde, soos U hulle van Egipte af tot hiertoe vergewe het!”

20Toe het die Here geantwoord: “Ek vergewe hulle, soos jy gevra het. 21Nogtans, so seker as Ek leef en die hele aarde vol sal word van my magtige teenwoordigheid, 22nie een van die manne wat my mag en die wonders wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, gesien het, en wat My nou oor en oor getart het en nie na my woorde geluister het nie, 23sal die land wat Ek met ’n eed aan hulle voorvaders beloof het, sien nie. Nie een van hulle wat My geminag het, sal die land sien nie. 24Maar omdat my dienaar Kaleb ’n ander gesindheid het en My getrou gevolg het, sal Ek hom inbring in die land wat hy gaan verken het, en sy nageslag sal dit besit.

Draai môre om en trek weg na die woestyn toe met die Rietseepad.”

26Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 27“Hoe lank sal hierdie slegte volk nog aanhou met hulle verset teen My? Ek het opgemerk hoe die Israeliete hulle teen My verset. 28Sê vir hulle: ‘So seker as Ek leef,’ sê die Here, ‘Ek sal met julle maak soos Ek julle hoor sê het. 29In hierdie selfde woestyn sal die lyke bly lê van julle almal van twintig jaar en ouer wat in die sensus opgeneem is en wat teen My in verset gekom het. 30Nie een van julle sal die land betree wat Ek met ’n eed aan julle as woonplek beloof het nie, behalwe Kaleb en Josua.

31En wat julle kinders betref, van wie julle gesê het dat hulle gevangenes sal word, vir hulle sal Ek inbring, en hulle sal die land wat deur julle verwerp is, lief kry.

32Maar julle lyke sal in hierdie woestyn bly lê. 33Julle kinders sal veertig jaar lank in die woestyn rondtrek. Hulle sal die gevolge van julle ontrou moet dra totdat julle almal se lyke in die woestyn lê. 34Julle het die land veertig dae lank verken. Julle sal veertig jaar, een jaar vir elke dag, die gevolge van julle ongeregtigheid moet dra. Dan sal julle besef wat dit beteken om My teen julle te hê.’35Ek, die Here, het dit gesê, Ek sal dit beslis doen aan hierdie slegte volk wat teen My saamgespan het: hulle sal in hierdie woestyn omkom en hier sterf.”

Skyfie 14: 36Die manne vir wie Moses gestuur het om die land te verken en wat ná hulle terugkoms die hele volk teen Moses in verset laat kom het deur die slegte gerug oor die land te versprei, 37almal wat vir die slegte gerug oor die land verantwoordelik was, het gesterwe deur ’n plaag wat deur die Here gestuur is.

Skyfie 15:39Toe Moses vir al die Israeliete sê wat die Here gesê het, het die volk begin kerm en huil. 40Hulle het toe die oggend vroeg klaargemaak en na die hoë Bergland toe begin trek. “Ons was verkeerd,” het hulle gesê, “ons wil nou optrek na die plek toe wat die Here beloof het.”

41Maar Moses het gesê: “42Moenie gaan nie, want die Here is nie by julle nie. Julle sal deur julle vyande verslaan word, 43want die Amalekiete en Kanaäniete sal julle daar inwag, en julle sal om die lewe gebring word. Die Here sal nie by julle wees nie, omdat julle van Hom af weggedraai het.”

Skyfie 16: 44Hulle was egter vermetel genoeg om tog na die hoë Bergland toe te begin trek. Maar Moses en die verbondsark van die Here het nie die kamp verlaat nie. 45Die Amalekiete en Kanaäniete wat in daardie Bergland woon, het afgekom en hulle verslaan en uitmekaar gejaag tot by Gorma.

Skyfie 17: Daarna het hulle nog 38 jaar lank in die woestyn rondgetrek totdat al die ongehoorsame mense dood was en die kinders die land kon intrek.

Gebed

Prediking: “Ons moet beslis optrek, want ons kán dit doen.

Ek is Kaleb

Ek is Kaleb.

Dit het ons amper twee jaar geneem om by Kades uit te kom.  Deur dik en dun was die Here daar vir ons in die woestyn.  Deur die Rietsee.  In die oorlog teen die Amalekiete.  In die honger en dors tye met die manna en die water.  Selfs waar Hy opgetree het teen die rebelle. Korag, Datan, Abiram.  Selfs teen Mirjam en Aäron!  Ek kon amper nie glo dat hulle dit gewaag het om Moses aan te vat nie.  Ons moes sewe dae vir haar wag dat die Here haar velsiekte genees.

Regdeur dit alles het die Here ons egter gelei.  Soos die wolk opgelig het, het ons agter Hom aangetrek.  Wanneer dit gaan staan het, het ons kamp opgeslaan.  Selfs in die nag was ons van Hom bewus.  Die lig wat van die vuurkolom uitgestraal het, het tot in elke tent lig gemaak.

Elke keer dat ons onseker was, het die Here sy wet vir ons uitgelê.  Dit het ons gehelp om elke oomblik van die dag van Hom bewus te bly.  Elke keer wat ons gesondig het, kon ons om vergifnis gaan smeek by die Tabernakel.  En soos die offers se rook opgetrek en die priesters ons van God se genade verseker het, kon ons sy vrede in ons harte voel neerdaal.

By Kades het die droom van die beloofde land egter binne bereik gekom.  Ek was so bly dat die Here die oggend in die Paranwoestyn aan Moses verskyn het.  Die opdrag was om twaalf leiers uit die twaalf stamme as verkenners aan te wys.  Ek kon my geluk nie glo toe ek aangewys is om my stam Juda te verteenwoordig nie.

Moses het ons gestuur om as verkenners op te tree.  Ons moes nie net die toeganklikheid van die stede en die paraatheid van sy mense toets nie, maar ook die vrugbaarheid en geskiktheid van die land ondersoek.  Moses wou spesifiek hê ons moes van die vrugte saambring as ons kon.  Die manna was immers goed genoeg, maar ‘n druiwetros of ‘n bietjie dadels sou darem vorentoe smaak.  En dit sou die volk opgewonde maak, het hy gereken.

Ons is van die suide deur die Sinwoestyn tot reg in die noorde by Rehob en Lebo-Hamat.  Veertig dae uit en tuis.  Ek het veral uitgesien dat ons by Hebron en die Eskolspruit sou kon uitkom, want dit is waar ons voorvader Abraham by die groot bome van Mamre gebly.  Hy het Makpela van Efron, ‘n Hetiet, gekoop as graf vir hom en sy mense.  Dit is nou nog daar na al die jare.  Ook Isak en Jakob se grafte het ek daar gesien.

Maar dit is ook daar dat ons hierdie ongelooflike reuse gesien het: Agiman, Sesai, en Talmai.  Hulle was afstammelinge van Enak, regdeur die Midde-Ooste bekend as besondere lang mense.  Min het ek toe geweet dat ek juis hulle grondgebied sou kry toe die Here my gelei het om dié drie te verslaan. Dit was immers die grond waar die Here aan Abraham belowe het om hom die hele Kanaän te gee.  Maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag.

Ons het daar by die Eskolspruit ook ongelooflike goeie vrugte gekry – druiwe, granate, vye.  Ons kon sien dat hierdie land ‘n vrugbare land was, ‘n wonderlike geskenk wat die Here vir ons belowe het.

Ek moet sê ek het nie verwag dat ons verslag aan die volk só sleg sou uitdraai nie.  Aanvanklik het ek geluister na wat die ander verkenners vir die volk gesê het.  Dit was redelik gebalanseerd.  Die land was uiteraard vrugbaar.  Dit het, soos ons dit vir mekaar op pad gesê het: “oorgeloop van melk en heuning”.

Maar toe begin hulle praat oor die uitdaging van die mense.  En begin kla oor die stede wat sulke sterk mure gehad het en die mense wat so groot was.  Hulle begin toe praat oor die “reuse” asof hulle “hemelwesens” was soos dié in die tyd van Noag.  Maar, ons het mos geweet die “hemelwesens” het in die vloed in die slag gebly.  Hulle was maar net, wel, groot mense.  Een van die reuse, koning Og, was so groot dat sy bed twee meter by vier meter groot was.  Van yster gemaak, sou ons later uitvind.  Maar onoorwinlik?  Verseker nie.

Ek het gesien in watter rigting dié verslag gaan en het begin kapsie gemaak teen die ander verkenners se vrese en gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.

Hulle het my egter geïgnoreer en gesê: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons.

Toe gaan hulle boonop so ver om mense te werf in die kamp vir hulle standpunt met ‘n “slegte gerug” waarin hulle ‘n vreesaanjaende prentjie van die land geteken het.  Nie een van die volk was daar nie, maar toe begin die mense saam met die ander verkenners sê dat dié land een is: “wat die lewe vir sy inwoners onmoontlik maak.

Hulle sien toe ewe skielik nie meer die druiwe en dadels en vye raak wat ons saamgebring het nie. Nee, skielik was dit ‘n onmoontlike taak.  My bloed het gekook toe die verkenners begin sê, ons was: “soos sprinkane in ons eie oë”.  Kan jy nou meer!  En natuurlik sal hulle daarby sê: “so was ons ook in hulle oë.

Dit is mos so, as jy eers jou visie op God verloor, dan lyk alles om jou anders, dan raak jy klein in jou eie oë en begin jy twyfel, want jy sien net raak wat jy kan doen, eerder as dat jy raaksien wat God kan doen …

Ai!  As ons maar net daardie tyd die moed van ons oortuiging gehad het, as ons maar net die Here kon vertrou. Maar selfs toe Josua my begin ondersteun, was dit steeds tien teen twee, en ons voorland was 38 jaar se doellose rondtrek in die woestyn.

Hoe anders kon dit nie gewees het as almal die Here vertrou het nie?  Maar verniet.  Geen wonder dat die Here die volk toe die beloofde land belet het nie.  Hulle kinders sou die geskenk kry. Al was dit eers jare later.

Ironies genoeg het die klomp bangbroeke presies gekry wat hulle gevrees het.  Hulle is in die woestyn dood. Die Here het hulle vrese bewaarheid en sy belofte vir hulle kinders gegee.  Al het Hy hulle  vergewe …

Boodskap

Liewe gemeente.

Ons moet vandag by Kaleb leer.

1.  Dit is duidelik dat leierskap ‘n onontbeerlike rol speel in die wel en weë van ‘n geloofsgemeenskap. Dit is een ding om verkennend op te tree om die konteks waarbinne ons leef beter te verstaan.  Dit is ‘n heel ander ding om die Here te vertrou om die roeping wat Hy het, uit te voer, as die uitdagings van die konteks dreig om jou te oorrompel en jy oor jouself dink dat jy maar net ‘n sprinkaan is, minderwaardig en klein.

Dit is ook waar vir ons in die uitdagings wat ons die hoof moet bied.  Ons sit in ‘n omgewing waar voorspoed vir eie gewin gebruik word.  Ons sit in ‘n omgewing waar die kerk ‘n al hoe kleiner rol speel, en waar selfs die skool op Sondae in kerktyd aktiwiteite aanbied.  Ons sit in ‘n omgewing waar die waardes wat ons in die Bybel leer onder skoot is, nie net geïgnoreer word nie, maar belaglik gemaak word.

En ons kan baie maklik begin dink dat ons: “soos sprinkane in ons eie oë” is.  En begin ervaar dat ander ook só oor ons begin dink.

Wat die Here van ons vra vandag is om nie terug te diens vir die uitdaging om gemeente te wees nie.  Om nie terug te diens vir die uitdaging om ons gawes te gebruik om die roeping van die gemeente te verwesenlik nie.  Ons is ‘n gemeente wat luister en leef, wat telkens van die Here vra, hoe nou verder, en dan met waagmoed sy planne in werking stel.

En elkeen van ons is eintlik ‘n leier op ‘n gebied wat saamwerk om die liggaam van Christus in hierdie gemeenskap te bou.

2.  Maar dan moet ons moed skep uit Kaleb se moed en oortuiging. Dit was gebou op sy visie van God. Al het sommige leiers gedink dat hulle soos sprinkane is, het Kaleb vasgehou aan God se belofte en vanuit God se grootheid gedink en gelei.  Hy het daarom ook nie omgegee om alleen te staan nie.  Want dit is duidelik dat hy aanvanklik alleen staan.  Josua kom eers in die volgende rondte by hom staan en wys dat ook hy bereid is om vir gehoorsaamheid aan God se opdrag in die spervuur te gaan staan.

Geen wonder dat Kaleb uiteindelik nie net die voorreg gegun word om die beloofde land binne te gaan nie, maar juis die land kry van dié mense wat die grootste uitdaging gebied het, die land van die “reuse”, Agiman, Sesai, en Talmai, sowel as die plek waar Abraham vroeër gewoon het.  En onthou dat uit Kaleb se stam, Juda, is die Messias gebore!

Kaleb het God gesien soos Hy in Psalm 2:4-5 geteken word:

Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit, die Here spot met hulle.  Hy spreek hulle aan in sy toorn, in sy gramskap jaag Hy hulle op loop.

Dit is wat ons ook nodig het as ons Hom moet volg in ‘n situasie wat baie moed gaan verg.

Die Here vra in Numeri 14 die fundamentele vraag aan die volk en daarmee aan elkeen van ons.  Hy is gefrustreerd met die feit dat die volk vir hoe lank al sy almag bly onderskat.  Hulle huil uit vrees vir die Intog eerder as om op God te vertrou:

Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat? Hoe lank sal hulle weier om op My te vertrou ten spyte van al die wonders wat Ek onder hulle gedoen het?

Op roerende wyse probeer Kaleb die volk oortuig om die Here te bly vertrou en nie in opstand te kom teen sy wil vir hulle nie. Omdat die Here aan sy volk se kant is, hoef hulle nie vir die land se mense bang te wees nie. In die Hebreeus sê Kaleb: “Hulle is ons kos”!

Dit is wat ons nodig het om by Kaleb te leer.  Om God te sien soos hy God gesien het.  Om nie bang te wees nie.  Om te vertrou.  Om te gehoorsaam.  Om ons deel te doen.  Om met ons hele lewe die Here te dien en te doen wat Hy vra.

Maar die volk wou ander leiers hê wat hulle kan terugneem na Egipte toe weg van wat die Here vir hulle wou gee.  Daarom word hulle nie deur Kaleb se pleidooi en bemoediging oortuig nie, en dreig om die leiers met klippe dood te gooi.  Hulle bly die Here onderskat.

3.  Dit is egter wonderlik om ook in Numeri 14 agter te kom dat die Here na Moses luister om die volk te vergewe, selfs al bly hulle die Here onderskat. Hy spaar daarom die eerste generasie se lewe, al sou hulle die beloofde land nie sien nie.  Nie een van dié wat God geminag het, sou die beloofde land sien nie, net die twee getroues, Kaleb en Josua.

Maar die dieper genade in die verhaal is dat die Here op uiters regverdige wyse die gevolge van die eerste generasie se sonde op die tweede generasie ophef, sodat die kinders nie uiteindelik só onder hulle pa’s en ma’s se sonde ly dat hulle ook nie die beloofde land sien nie.  Die lang ompad deur die woestyn sou wel steeds die tweede generasie se lot wees.  Maar God se vergifnis verseker dat hulle die beloofde land kon binnegaan.  Almal onder twintig jaar oud.

Die tweede generasie word natuurlik veertig jaar later op hulle beurt herinner om in hulle gehoorsaamheid te volhard toe die tyd kom om die beloofde land binne te val, soos Moses dit in Deuteronomium met die herhaling van die Tien Gebooie en meer spesifiek die tweede gebod doen.

Sou hulle self sondig deur die Here nie te vertrou nie, bly die gevolge van die tweede gebod van krag:

Jy mag hulle (afgode) nie vereer of dien nie, want Ek die Here jou God eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

‘n Belangrike insig om ter harte te neem in ‘n mens se hantering van die tweede gebod.

God spreek regtig niemand sonder meer vry nie, behalwe waar die vergifnis van die Here deur gehoorsaamheid omarm word.  Dan hef Hy selfs die gevolge vir die derde en vierde geslag op.  En kom die ander deel van die tweede gebod in spel, dat God sy liefde betoon aan die duisendste geslag van dié wat Hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam.  Watter ongelooflike waarheid om te omarm!

Esegiël 18 sal hierdie waarheid weer ‘n slag onderstreep.  God is regverdig.  Hy hef die gevolge van die sonde op waar Hy gehoorsaam word, al beteken dit soms steeds ‘n woestyntyd.  Hy is ook billik.  Hy sien die individu raak in sy lojaliteit aan Hom.

4.  Hierdie verhaal van Numeri 14 is dus ‘n ongelooflike raak beskrywing van die geestelike lewe met God. Van die noodsaak van vertroue op God om ons vrees vir die lewe te oorkom.  Van die dwase vermetelheid om iets sonder God se almag aan te pak, wat nog te sê as Hy direk daarteen waarsku.

Die Hebreërskrywer vergelyk daarom die verhaal van die dwase ongehoorsaamheid van Israel om die Here se almag te wantrou en in verset teen Hom te kom in Numeri 14 deur nie bereid te wees om die land in te neem nie.  Hy kontrasteer hulle opstand teen God met die getrouheid van Jesus wat tot die einde gehoorsaam was.

Dit is ‘n helder waarskuwing aan die geloofsgemeenskap om nie in dieselfde strik van ontrouheid te trap as die volk in die woestyn en so die belofte van God se rus mis te loop nie:

Maar solank daar nog ‘n ‘vandag’ is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.  Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.” (Hebr. 3:7-19).

Ook Paulus gebruik die reis deur die woestyn op pad na die beloofde land as ‘n metafoor om die gelowiges in Kolosse aan te moedig om in alle omstandighede geduldig te volhard sodat hulle die “erfenis” wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig in besit kan neem (Kolossense 1:3-14; vgl. ook Matt. 18:29; 25:34; Gal. 5:21; Ef. 1:18; Hebr. 9:15; 1 Pet. 1:4).

Paulus bid dat hulle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang en vas en sterk in die geloof te staan sodat hulle nie losgeruk word van die hoop wat in hulle gewek is deur die evangelie nie (Kol. 1:21-23).

Hierdie tipe gehoorsaamheid en volharding word ook van ons gevra.

Gebed

Dankoffer

Slotlied

Kom luister vanaand hoe ek verder oor vergifnis gesels.  Ek sluit aan by die storie van die student wat so baie geld spandeer het … en gesels oor wat Matteus 18 vir ons oor vergifnis sê.

Lied 436 Herskep, o Gees, laat leef, o Gees, laat kom u koninkryk met mag – staan

Seën

Respons

Vonkk 144 Vrede van God, die vrede van God, die vrede van God is met jou – staan

     

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Marie Albertyn

    |

    Goeie Middag
    Ek sien u het verlede jaar verblyf gesoek vir u seun. As u van nog seuns weet, ek het n baie lekker kamer met kombuis en badkamer vir n seun.
    Tel.: 041-5831173 of 0842513492

  • Avatar

    Marinel Coetzer

    |

    Ek is dringend opsoek na selfsorg verblyf vir my , my ma en my seuntjie vir ongeveer n maand tot 2. Ek is swanger met n tweeling en hul word vroeg gebore so hul gaan in NICU vir n hele ruk wees. Ons kom van patensie en kan nie elke dag in en uit ry nie. As daar enige iemand is wat my kan uithelp asb laat weet my.

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Sonja. Die OT apokriewe (weggelate) boeke is boeke wat uit die Joodse tradisie kom, maar nie met dieselfde gesag as die kanonieke (maatstawwe) boeke in die Bybel deur die Protestantse kerke aanvaar word nie.  Dit word dus nie as maatstaf of riglyn vir die geloof gebruik soos wat wel die geval is met die kanonieke boeke nie.  Hulle word ook deuterokanonieke (tweede maatstawwe) boeke genoem.  Hulle is waardevol, maar nie gesagvol nie.  Jy kan meer daaroor by hierdie skakel by Bybelskool lees. In kort is die NG Kerk se standpunt hieroor in die Nederlandse Geloofsbelydenis as volg: “Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.” (artikel 6)

  • Avatar

    Sonja blignaut

    |

    Naand ds Chris.
    Kan u miskien vir my u opinie gee oor die Aprokriewe boeke? Moet ek dit in dieselfde lig as die ,Bybel bestudeer?
    Baie dankie
    Sonja

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Jan. Die Here se Woord bly lewend en kragtig. In my eie herlees van hierdie preek het die Here self weer met my gepraat! Seën.