Kragtig! – kleingroepmateriaal vir die tweede kwartaal

KragtigBoekieVoorblad

In Handelinge 19 lees ons dat Paulus se werk in Efese begin met ‘n nuwe uitstorting van die Heilige Gees.  Hy kry naamlik daar ‘n groepie van twaalf gelowiges wat nog nie die Heilige Gees ontvang het nie.  Nadat Paulus vir hulle gebid het, het dit ‘n kragtige uitwerking gehad nie net in Efese nie, maar regdeur daardie gebied.

Dit is asof hierdie twaalf gelowiges die begin van die Griekse Pinksterbeweging was (Hand. 19:1-10), soos die twaalf apostels aanvanklik die begin van die Joodse Pinksterbeweging was (Hand. 2).  Paulus het twee jaar lank in die saal van Tirannus die gelowiges geleer wat dit beteken om in die krag van die Gees die Here Jesus te volg, terwyl hy ook sy briewe aan die Korinte geskryf het.  Kragtig!

Die uitstorting van die Heilige Gees was dus die katalisator vir ‘n kragtige beweging van God sodat al die inwoners van die provinsie Asië (Turkye), Jode sowel as Grieke, die woord van die Here gehoor het (Hand. 19:10).

Ons ken almal die verdere verloop van die verhaal, want met sy terugkeer na Jerusalem word Paulus gevange geneem en uiteindelik na Rome toe geneem as gevangene.  Dit is dus van hier af, waarskynlik in die vroeë sestigerjare van die eerste eeu n.C., terwyl hy in die tronk in Rome sit, wat Paulus hierdie brief aan die Efese skryf.

Hy fokus op leer en lewe – die teologie (hfst. 1-3) en die praktyk (hfst. 4-6) – en gee in die proses vir hulle ‘n helder prentjie van twee dinge:

  • Paulus gee vir hulle een van die helderste uiteensetting in die Nuwe Testament van wat ‘n gemeente van die Here Jesus Christus is, en hoe só ‘n gemeente moet funksioneer. Dit is duidelik dat Paulus alles wat hy by die Here Jesus die afgelope meer as dertig jaar van sy lewe oor die gemeente geleer het, en in die praktyk gesien het dat dit werk, aan hulle deurgee.  Hy gee dit aan hulle deur om hulle te motiveer om as gemeente te groei in volwassenheid, nie net ter wille van hulle self nie, maar sodat hierdie wêreld kan glo.
  • Paulus help hulle ook verstaan dat niks sonder die krag van die Heilige Gees gebeur nie. In die proses gee hy nege baie duidelike beskrywings van die krag van die Heilige Gees in terme van: seëninge, waarborge, wysheid, gemeenskap, krag, eenheid, nuwe lewe, vervulling, en gebed.

En dit is op hierdie twee dinge, die krag van die Heilige Gees aan die werk in die gemeente, waarop ons hierdie kwartaal gaan fokus in ons familiedienste en in ons kleingroepe.  Ons vat dit saam met die tema: Kragtig!

Iets oor ons metodiek

Soos gewoonlik gebruik ons die ritme van die Seisoen van Luister vir ons Kleingroep.  Julle ken die fases al goed.  Ons Ontvang eers die rus wat die Here gee veral deur die fokusteks(te) te oordink wat telkens op ‘n aspek van die Heilige Gees fokus.  Dan Ontgin ons die betekenis van die hele teks deur dit in konteks te lees en met mekaar te deel wat ons daarin tref en veral wat ons van die Heilige Gees daarin leer. Ons sluit af met die Ontplooi deel waar ons nadink oor wat die Here nou vir ons gee, belowe of verwag, en antwoord Hom in gebed en gehoorsaamheid.

Pinkster 2016 – Die krag van gebed

Ons droom dat ons dié kwartaal – en uiteindelik veral in ons eie Pinksterbidure – ‘n kragtige beweging van die Heilige Gees in ons gemeente sal ervaar.

Ons gaan Pinkster veral spandeer aan Die krag van Gebed, aan die hand van die sewe Sabbatspsalms. Daar sal ook ‘n boekie beskikbaar wees vir Pinkster op 24 April by die kerk.  Julle kan solank die sewe Psalms begin lees: Ps. 24, 48, 82, 94, 81, 93, 92 (kyk by www.bybelskool.com/psalms as jy dieper wil delf).

Dit was ‘n openbaring vir my toe ek agterkom dat dit onder andere dié Psalms is wat die dissipels gebid het in die week voor die Pinksteruitstorting in Jerusalem …

By Chris van Wyk

 

     

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Marie Albertyn

    |

    Goeie Middag
    Ek sien u het verlede jaar verblyf gesoek vir u seun. As u van nog seuns weet, ek het n baie lekker kamer met kombuis en badkamer vir n seun.
    Tel.: 041-5831173 of 0842513492

  • Avatar

    Marinel Coetzer

    |

    Ek is dringend opsoek na selfsorg verblyf vir my , my ma en my seuntjie vir ongeveer n maand tot 2. Ek is swanger met n tweeling en hul word vroeg gebore so hul gaan in NICU vir n hele ruk wees. Ons kom van patensie en kan nie elke dag in en uit ry nie. As daar enige iemand is wat my kan uithelp asb laat weet my.

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Sonja. Die OT apokriewe (weggelate) boeke is boeke wat uit die Joodse tradisie kom, maar nie met dieselfde gesag as die kanonieke (maatstawwe) boeke in die Bybel deur die Protestantse kerke aanvaar word nie.  Dit word dus nie as maatstaf of riglyn vir die geloof gebruik soos wat wel die geval is met die kanonieke boeke nie.  Hulle word ook deuterokanonieke (tweede maatstawwe) boeke genoem.  Hulle is waardevol, maar nie gesagvol nie.  Jy kan meer daaroor by hierdie skakel by Bybelskool lees. In kort is die NG Kerk se standpunt hieroor in die Nederlandse Geloofsbelydenis as volg: “Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.” (artikel 6)

  • Avatar

    Sonja blignaut

    |

    Naand ds Chris.
    Kan u miskien vir my u opinie gee oor die Aprokriewe boeke? Moet ek dit in dieselfde lig as die ,Bybel bestudeer?
    Baie dankie
    Sonja

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Jan. Die Here se Woord bly lewend en kragtig. In my eie herlees van hierdie preek het die Here self weer met my gepraat! Seën.