Johannes 11 Lasarus Preek

Die gawe van lewe

Daar is minder wonderwerke in die Evangelie Johannes as in die ander evangelies.  Sewe, om presies te wees.  Hierdie 7 wonderwerke is elkeen meer as ’n wonderwerk.  Dis ’n “teken”, wat dui op een of ander waarheid oor God en Jesus.  Hierdie is die mees verteenwoordigende een, ’n toonbeeld van wie Jesus is en wat Jesus doen.  Jesus het gekom om die gawe van lewe te gee.

Refleksie vooraf:

Wat is die “grafte” wat jou en/of jou geliefdes gevange hou en sodoende verhoed dat julle jul lewens voluit leef?

Verwelkoming en groet

Toetrede

Psalm 130 v 1-2 (sit)

Votum

Voorganger:  Uit die dieptes roep ek na U, Here, luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep.

Gemeente:  Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord.

Voorganger:  As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan?  Maar by U is daar vergifnis:  daarom word U steeds gedien.

Gemeente:  Ons wag op die Here as wat die wagte op die more wag, wagte op die môre.

Sang

Psalm 130 v 3 (sit)

Seëngroet

Voorganger:  Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker.

Gemeente:  Hy alleen sal ons verlos van al ons sondes.

Lofsang

Lied 161  Halleluja, Heer U is ons lewe (staan)

Lied 167 Jesus bron van al my vreugde (staan)

Gebed

Heilige God, Vader, Seun en ewige Gees, U sorg vir ons op soveel meer maniere as wat ons kan begin om op te noem. U was ons skoon met u trane. U klee ons met u genade. U heilig ons met u hoop. U is hier by ons om deur u Woord met ons te praat. Maak dit vir ons moontlik om u stem te hoor en om u boodskap ter harte te neem. Amen.

Preek

Die gawe van lewe

Daar is minder wonderwerke in die Evangelie Johannes as in die ander evangelies.  Sewe, om presies te wees.  (Die visvang-wonderwerk in Joh. 21 word gewoonlik nie bygetel nie, omdat dit algemeen aanvaar word as ’n latere toevoeging tot die manuskrip.)

Hierdie 7 wonderwerke is elkeen meer as ’n wonderwerk.  Dis ’n “teken”, wat dui op een of ander waarheid oor God en Jesus.  Hierdie is die mees verteenwoordigende een, ’n toonbeeld van wie Jesus is en wat Jesus doen.  Jesus het gekom om die gawe van lewe te gee.

Hy vir wie U lief is, is siek

In hierdie verhaal ontmoet ons ’n familie wat desperaat is van bekommernis.  Hul geliefde is siek.  Dis ’n emosie waarmee ons goed kan identifiseer.  En dis duidelik dat hy baie siek is – die erns van sy siekte word in die eerste drie verse drie keer onderstreep:

’n Man met die naam Lasarus was siek. Hy was van Betanië, die dorp waar Maria en haar suster Marta gewoon het. 2Maria was die vrou wat met reukolie die Here gesalf en sy voete met haar hare afgedroog het. Dit was haar broer Lasarus wat siek was. 3Die susters het iemand na Jesus toe gestuur om te sê: “Here, hy vir wie U lief is, is siek.”

Lasarus is baie, baie siek.  En sy familie is van Jesus se beste vriende – ook dit word beklemtoon.  Jesus het vreemdelinge gesond gemaak.  Hier is nou die desperate nood van sy nabye vriende.  Laas nog het Jesus ’n blinde man op die Sabbat genees.  Hier nou is van sy eie geliefdes.  Die verwagting is logies dat hy hulle onmiddellik te hulp sal snel.  Dis daarom skokkend om Jesus se reaksie te hoor:

4Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”

5Jesus het vir Marta en haar suster en Lasarus liefgehad. 6Nadat Hy gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. 7Eers daarna het Hy vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan terug na Judea toe.”

Dis nie die eerste keer dat Jesus se reaksie vreemd lyk nie.  Maar, soos altyd, is dit duidelik dat Jesus nie sy pad deur ander gaan laat bepaal nie – selfs nie geliefde vriende nie.   Om die waarheid te sê, Jesus is eers gereed te gaan, toe Lasarus reeds dood is.  Vers 14:

14Toe sê Jesus vir hulle reguit: “Lasarus is dood, 15en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.”

As jy fyn lees, sal jy sien dat hierdie verhaal reeds die voorgevoel skep van Jesus se lyding en sterwe wat binnekort gaan gebeur.  Selfs die evangelieskrywer loop die verhaal bietjie vooruit, beskryf Maria as die een wat Jesus se voete met parfuum gesalf het (sy waarmee natuurlik sy liggaam vir begrafnis sy voorberei het).  Dit gebeur eers later en word in hoofstuk 12 beskryf.

En deur te sê dat die Seun van God deur hierdie gebeure verheerlik sal word (vers 4), gee die skrywer ook ’n vooruitwysing na Jesus sterwe –die tyd waarop die Seun verheerlik word (12:23, 13:31-32, 17:1, 4-5) (wat die manier is waarop Jesus se lyding en kruisiging telkens beskryf word).

Die voorgevoel raak nog sterker wanneer die dissipels bekommerd is oor Jesus se reis na Betanië (v8):

“Rabbi, nou die dag nog wou die Jode U stenig, en gaan U weer daarheen?”

Die gevaar bou op.  Dis tasbaar teenwoordig.  As dit ’n fliek was, sou daar onheilspellende musiek op die agtergrond gespeel het.  Jesus stap in ’n lewensgevaarlike situasie in.  Wat Tomas bevestig wanneer hy vir die ander dissipels sê (v16):

 “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe.”

Ek is die opstanding en die lewe

Ons verwys gewoonlik na hierdie verhaal as die verhaal van Lasarus, of die opwekking van Lasarus.  Maar die opwekking van Lasarus is eintlik ’n baie klein deel van die verhaal!

Jesus hou aan draai.  Die slag stop hy op pad graf toe eers vir lang gesprekke met Marta en Maria.  In hierdie gesprekke ontvou Johannes versigtig die betekenis van die wonderwerk wat nou-nou gaan gebeur.  Wat beteken dat ons ook stadig moet stap, nie vinniger as Jesus by Lasarus se graf moet aankom nie.

Marta is die eerste een wat Jesus ontmoet, want sy gaan hom sommer tegemoet.  Mens kry die gevoel dat sy hom trompop loop, val met mengsel van klag en vertroue met deur in die huis (v21):

“Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. 22Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.”

Daar is so ’n stukkie verwyt, maar ook geloof.  Dis belangrik, want soms, veral in tye van seerkry, is woede ook deel van ons geloof.  Om die waarheid te sê, ons kan baie by Marta en Maria leer oor ’n volwasse verhouding met Jesus.  Oor “vriendskap” met Jesus – soos Jesus in Johannes 13 die dissipels noem nadat hy hulle voete gewas het.

Gebed gaan nie altyd daaroor om innerlike vrede te kry, vrede te maak met wat ook al ons omstandighede is, dit sommer net gelate aanvaar as die wil van God, maak nie saak hoe ontstellend dit vir ons is nie.  Gebed is eerder om onsself, ons hele self en hele lewe, met God te deel.

Nêrens in Johannes 11 kry ons die idee dat Jesus verwag Marta en Maria moet passief, gehoorsame klein kindertjies wees nie.  Jesus hanteer hulle soos volwasse vriende.  Omdat hy hulle lief het, is hulle nie onderdanig of ondergeskik nie.  Hulle is vir geen oomblik bang vir hom nie.  Hulle het nie nodig om stilstuipe te kry nie.  Hulle hoef nie alles maar gelate te aanvaar as die wil van God nie.  Hulle sê vir hom dat hulle kwaad is en hoekom hulle kwaad is.  En Jesus verdra hulle nie sommer net nie – hy ag hulle.  Hy kies hulle as geliefde vriende.

Marta se klag – en ons s’n, wanneer ons eerlik met God is – is deel van ’n millennia oue Joodse tradisie van klaag, of lament.  Lees maar die Psalms:  gelowiges praat in gebed eerlik met God oor hulle pyn.  Haar klag is verweef met haar geloof in Jesus se mag, want sy glo heeltemal dat Jesus iets aan die situasie kón doen, as hy net nie so gedraai het nie.

23Jesus sê toe vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.”

24Maar Marta sê vir Hom: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.”

25Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

En hier het ons die hart van hierdie verhaal.  Inderdaad die hart van die Evangelie van Johannes:  Jesus is die opstanding en die lewe, die een wat volheid van lewe in verhouding met God gee, nou en in die toekoms.  “Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook” – bevestig die belofte van die toekoms.  “Elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie”- praat oor die hede.  Dit bevestig dat gelowiges nou reeds die ewige lewe het, lank voor ons doodgaan.

Nou, vandag, het ons die gawe van  ewige lewe, die gawe om in ’n ryk verhouding met God te leef.  Soos Jesus in 10:10 sê:  Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Die dood is maar ’n oorgang – maar die ewige lewe saam met God begin lank voor die dood al.  Dis ’n belangrike klem in die hele evangelie van Johannes.  Elke keer wat Johannes praat oor die ewige lewe (en hy doen dit gereeld!) praat hy nié net van die toekomstige belofte van lewe wat vir altyd en altyd sal voortduur nie.  Hy praat van ‘n KWALITEIT van lewe, wat nou begin en vir ewig en ewig voortduur, van lewe wat deel in die goedheid van God, van ’n vol, ryk, blywende lewe saam met God.  Hierdie kwaliteit van lewe word gebore uit die transformerende, vervullende ervaring van ’n groeiende intieme verhouding met God.  En daaraan kan ons NOU AL deel kry, deur Jesus.  Die volheid van lewe in die hier en nou word om die waarheid te sê in die Johannes evangelie baie meer beklemtoon as die toekomstige hoop – hoewel dit natuurlik ook daar is.

En dis o.a. hoekom Jesus so baie tyd saam met Marta en Maria spandeer, op pad graf toe – want die Evangelie van Johannes se besliste fokus is op LEWE. Jesus belowe lewe na die dood, maar hy belowe ook volheid van lewe in die hede.  En hierdie belofte moet ons te midde van ons alledaagse lewe hoor.  Fred Craddock sê dit pragtig:  [this promise] needs to be repeated to all those whose present is barren, but who try to survive on a distant hope.  Ons moet nou leer wat dit beteken om volheid van lewe te ontvang – en nie, wanneer ons doodgaan, ontdek dat ons nie geleef het nie.

Glo jy dit?”

Vra Jesus in v 26.  En Marta reageer:

“Ja, Here, Ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

Hierdie is die mees volledige belydenis van geloof tot dusvêr in Johannes – vergelykbaar met die belydenis van Petrus in die ander evangelies.

Maar tog voel mens steeds dat sy nie heeltemal die implikasie van Jesus se woorde begryp het nie.  Wat ons herinner dat geloof altyd groei.  Geloof mag nooit stagneer nie.  Of, soos Robert Kyser sê, geloof “will always be stretched beyond its own limits.”

Lasarus, kom uit!

En steeds is Jesus nie vreeslik haastig nie.  Want hierna stop hy vir ’n gesprek met Maria.  Maria groet Jesus met presies dieselfde woorde as Marta (v32):

“Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.”

Maar twee goed is die slag anders:  Eerstens is daar ’n groep mense wat saam met Maria uitgaan.  Hierdie ontmoeting is publiek.  En die tweede verskil is die aangrypende reaksie van Jesus:

33Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan.

Die OAV vertaal dit met bewoë geword en hom ontstel.  Die BDV is mees akkuraat met:  “het dit hom hewig ontstel en hy het diep bewoë geword.” “Aangedaan” klink so half asof Jesus  “effens geraak” is.  Maar hy was diep bewoë, hewig ontsteld.   Later weer, v35:  “Jesus het gehuil.” (In die OAV: geween.) Vers 38:  Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. (OAV:  geweldig bewoë.)

Dis vreemd vir d Evangelie van Johannes, wat meer klem plaas op Jesus se godheid as sy menslikheid.  Sommige sê hierdie is Johannes se Getesemane, want dis net hier in die Johannes Evangelie waar Jesus bedroef word.  Hoe dit ookal sy, Jesus staan uiteindelik – na 38 verse – voor Lasarus se graf.  Maar weer is daar twee onderbrekings voor Jesus vir Lasarus opwek:

39Jesus sê toe: “Rol die klip weg.”

Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.”

’n Bygeloof van die dag het geglo da ’n mens se gees by jou liggaam rondhang vir drie dae.  Lasarus was al dood vir 4 dae.  Hierdie hele gesprek onderstreep:  Lasarus is so dood soos wat dood kan wees.

Maar dan rek Jesus self die verhaal nog verder uit en begin bid.  Daarmee fokus hy die aandag van die mense wa rondom die graf staan, op die krag van God, sodat daar geen twyfel kan wees waar die krag om Lasarus op te wek vandaan kom nie.

En dan, uiteindelik (v43):

roep Hy met ’n harde stem: “Lasarus, kom uit!”

44Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met ’n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.”

Die beskrywing van die grafdoeke is ’n vooruitskouing na Jesus se graf en die leë doeke.  Maar in die euforie van die opwekking, verloor mens dikwels die gevolg uit die oog:  die wêreld was so bedreig deur Jesus se mag (v53)

53Van daardie dag af was hulle vasbeslote om Jesus dood te maak.

So radikaal was hulle bedreig, dat ons in hoofstuk 12 lees van ‘n komplot om Lasarus te vermoor.

En op die horison wag nog ’n sterwe en opstanding, waarvoor die tafel nou gedek is.  Ons was nou voor ’n graf en ’n klip en grafdoeke.  Ons het die gehuil gehoor, die vraag:  “Waar het julle hom begrawe? (34)”, die gebed, die uitroep.  Dis asof iemand ’n papier opgehou het met die verhaal op gedruk, maar deur die papier kan jy die agterkant sien skyn.  Dis nog nie duidelik genoeg om te lees nie, maar dis in die vooruitsig:  Paasfees.  Die dood en opstanding van Jesus.

Voorbidding

Dankoffers

Slotsang

Lied 481 Ontwaak jy wat slaap (Staan)

Seën

Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon (uit Rom 8:11).

Respons

Lied 481:3 laaste twee reëls

     

Tags: , , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Marie Albertyn

    |

    Goeie Middag
    Ek sien u het verlede jaar verblyf gesoek vir u seun. As u van nog seuns weet, ek het n baie lekker kamer met kombuis en badkamer vir n seun.
    Tel.: 041-5831173 of 0842513492

  • Avatar

    Marinel Coetzer

    |

    Ek is dringend opsoek na selfsorg verblyf vir my , my ma en my seuntjie vir ongeveer n maand tot 2. Ek is swanger met n tweeling en hul word vroeg gebore so hul gaan in NICU vir n hele ruk wees. Ons kom van patensie en kan nie elke dag in en uit ry nie. As daar enige iemand is wat my kan uithelp asb laat weet my.

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Sonja. Die OT apokriewe (weggelate) boeke is boeke wat uit die Joodse tradisie kom, maar nie met dieselfde gesag as die kanonieke (maatstawwe) boeke in die Bybel deur die Protestantse kerke aanvaar word nie.  Dit word dus nie as maatstaf of riglyn vir die geloof gebruik soos wat wel die geval is met die kanonieke boeke nie.  Hulle word ook deuterokanonieke (tweede maatstawwe) boeke genoem.  Hulle is waardevol, maar nie gesagvol nie.  Jy kan meer daaroor by hierdie skakel by Bybelskool lees. In kort is die NG Kerk se standpunt hieroor in die Nederlandse Geloofsbelydenis as volg: “Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.” (artikel 6)

  • Avatar

    Sonja blignaut

    |

    Naand ds Chris.
    Kan u miskien vir my u opinie gee oor die Aprokriewe boeke? Moet ek dit in dieselfde lig as die ,Bybel bestudeer?
    Baie dankie
    Sonja

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Jan. Die Here se Woord bly lewend en kragtig. In my eie herlees van hierdie preek het die Here self weer met my gepraat! Seën.