Jeremia 42 – “Vra, en vir julle sal gegee word”

Walmer – 14 September 2014

Om te weet wat God wil

Jeremiah_lamentingDit bly een van die belangrikste dinge in ons verhouding met God.  Om te weet wat Hy wil.  Veral wanneer dit in ’n krisistyd is.

Die probleem is dat ons kommunikasie met God indirek is, dat ons ’n geheimnisvolle beeld sien soos in ’n spieël, soos 1 Kor. 13:12 baie beter in die nuwe Bybel Direkte Vertaling (BDV) vertaal is.  Die mense van Korinte het briljante helder spieëls van brons gemaak.  Daar was dus niks dof aan hulle beeld nie.  Wat Paulus bedoel, is dat ons nie vir God van aangesig tot aangesig sien nie, maar as’t ware deur ’n spieël, indirek, en daarom sy wil altyd net gedeeltelik kan ken.

  • God praat met ons deur sy Woord, maar ons moet steeds onderskei wat daar staan (eksegese) en hoe dit op ons van toepassing gemaak kan word (hermeneuse).
  • God praat deur sy Gees, maar ons moet steeds onderskei wat van Hom is en wat nie (bewegings en oortuigings).

Dit beteken nie dat ons nie genoegsaam God se wil agter kan kom nie.  Daarvoor is die aanbod van Jesus darem net te duidelik: “Vra, en vir julle sal gegee word.  Soek, en julle sal kry.  Klop, en vir julle sal oopgemaak word.  Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”  (Luk. 11:9-10).  En ons weet presies hoe ons met God in ’n verhouding kan lewe.  Die hele NT maak dit vir ons duidelik.

Maar, daar is altyd iets geheimenisvol aan God se woord en aan sy wil.  Selfs Paulus het soms daarmee gesukkel, soos ons ’n paar keer lees (Hand. 16:6-10; 1 Kor. 16:5-9).  En ek wil vandag fokus op maniere wat ons kan help om dit beter te doen, om die beeld in die spieël beter te kan onderskei, om beter te weet wat ons sien, sodat ons beter kan reageer daarop.

Die verhaal van Jeremia 42

Ek gaan lees uit die verhaal van Jeremia, dit is waar ek op die oomblik in my eie lees van die Bybel is.  Julle kan my verder volg by www.bybelskool.com. Volgende kwartaal lees ek die 5 oorblywende boeke in die NT, Hebreërs, Jakobus, 1-2 Petrus, en Judas.

Die situasie in Juda is soos volg.  Jerusalem is ingeneem deur Nebukadnesar in 586 v.C.  Die stad en sy mure, die paleis en die tempel is verwoes en die Jode, veral die leiers en hooggeplaastes, die elite wat oorgebly het, is weggevoer na Babel in ballingskap.

Die Jode wat agtergebly het, het gewonder hoe hulle moet oorleef.  Die goewerneur Gedalja wou aan Babel onderdanig bly.  Een van die militêre leiers, Ismael, het nie daarmee saamgestem nie, en maak vir Gedalja dood.  Ismael wou met die Ammoniete saamwerk en voer ’n hele aantal van die oorblywende Jode na hulle grondgebied oos van die Jordaan. Joganan, een van die ander militêre leiers, staan hom egter teë en verlos die Jode van sy dwase voornemens.

Joganan wil egter na Egipte toe trek, want hy is bang die Galdeërs van Nebukadnesar sal hulle nie goed behandel nie.  En nou lees ons wat toé gebeur.  Hulle vra na God se wil:

42 Al die leëraanvoerders, Joganan seun van Kareag, Asarja seun van Hosaja, al die mense, klein en groot, het na die profeet Jeremia toe gekom 2en vir hom gevra: “Doen tog asseblief wat ons vra, bid vir ons tot die Here jou God, vir ons almal wat oorgebly het. Soos jy ons hier sien, is ons die klompie wat oor is uit baie. 3Bid tog dat die Here jou God aan ons bekend maak waarheen ons moet gaan en wat ons moet doen.”

4Die profeet Jeremia het vir hulle gesê: “Ek het gehoor. Ek sal tot die Here julle God bid soos julle gevra het. Ek sal alles wat die Here vir julle wil sê, aan julle oordra. Ek sal niks vir julle wegsteek nie.”

5Hulle sê toe vir Jeremia: “Die Here self sal die betroubare en geloofwaardige getuie teen ons wees as ons nie alles doen wat die Here jou God jou opdra om vir ons te sê nie. 6Of dit nou goed of sleg vir ons is, ons sal gehoorsaam wees aan die Here ons God na wie toe ons jou stuur, sodat dit met ons goed sal gaan. Ons sal gehoorsaam wees aan die Here ons God.”

7Tien dae later het die woord van die Here tot Jeremia gekom. 8Hy het Joganan seun van Kareag, al die leëraanvoerders by hom en al die ander mense, klein en groot, geroep 9en vir hulle gesê: So sê die Here die God van Israel na wie toe julle my gestuur het om julle versoek aan Hom voor te lê: 10As julle in hierdie land bly, sal Ek julle bou en julle nie plat slaan nie, julle vestig en julle nie afbreek nie. Ek sal die ramp wat Ek oor julle gebring het, nie verder voer nie. 11Moenie so bang wees vir die koning van Babel nie, moenie vir hom bang wees nie, sê die Here, want Ek is by julle om julle te red en julle uit sy mag te bevry. 12Ek sal julle genadig wees, en daarom sal hy julle genadig wees en julle na julle land toe laat teruggaan. 13Maar as julle die Here julle God nie wil gehoorsaam nie, as julle sê julle wil nie in hierdie land bly nie, 14as julle sê: “Nee, ons wil Egipte toe waar ons nie oorlog sal sien nie, nie die ramshoring sal hoor blaas om te gaan veg nie en nie honger sal ly nie, ons wil daar gaan bly”, 15hoor dan die woord van die Here, julle wat van Juda oor is! So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: As julle vas besluit het om Egipte toe te gaan en julle gaan woon daar, 16sal die oorlog waarvoor julle bang is, julle daar in Egipte inhaal, en die hongersnood wat julle vrees, sal julle daarheen volg, en julle sal daar sterf. 17Ja, almal wat vasbeslote is om na Egipte toe te gaan en daar te woon, sal sterf deur oorlog, deur hongersnood en deur pes. Nie een van hulle sal vrykom en die rampe ontsnap wat Ek oor hulle sal bring nie. 18Ja, so sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Soos my toorn en my gramskap uitgestort is oor die inwoners van Jerusalem, so sal my toorn oor julle uitgestort word as julle na Egipte toe gaan. Julle name sal gebruik word wanneer mense ander wil vervloek, wil bang maak, iets slegs wil toewens of wil verneder, en julle sal hierdie plek nooit weer sien nie.

19Die Here het vir julle gesê, julle wat van Juda oor is: Moenie na Egipte toe gaan nie!

Toe sê Jeremia vir hulle: “Weet vir seker, ek waarsku julle vandag, 20julle maak ’n fout! Julle lewe is op die spel. Julle het my na die Here julle God toe gestuur en gevra: ‘Bid vir ons tot die Here ons God, sê vir ons alles wat die Here ons God sê, ons sal dit doen.’21Maar noudat ek vandag vir julle gesê het wat Hy sê, is julle ongehoorsaam aan die Here julle God, aan alles wat Hy my opgedra het om vir julle te sê. 22Weet nou verseker dat julle deur oorlog, deur hongersnood en deur pes sal sterf op die plek waar julle so graag wil gaan woon.”

Soos hierdie hoofstuk ontvou, kom ’n mens agter hoe genadig die Here is, maar ook hoe wispelturig en hardkoppig sy mense is.

  • Aan die eenkant antwoord die Here die gebed van Jeremia op versoek van die leiers en die volk en spel presies uit wat hulle moet doen.
  • Aan die ander kant kom ’n mens alreeds uit die antwoord van die Here agter dat die moontlikheid skraal gaan wees dat die leiers en die volk dié woord gaan gehoorsaam, soos Jeremia 43 duidelik sal wys. Hulle het nie gedoen wat die Here gesê het nie.  Hulle was ongehoorsaam.

’n Mens het aanvanklik wel die hoop dat daar uiteindelik iemand gaan wees wat na die wil van die Here sal vra EN inderdaad sal besluit om dit te doen.  Hulle gee immers hoog op: “Of dit nou goed of sleg vir ons is, ons sal gehoorsaam wees aan die Here ons God na wie toe ons jou stuur.”  Maar, helaas, dié hoop beskaam, soos dit al vele kere in Jeremia die geval was.

Jeremia ontvang die woord van die Here dat hulle in Juda moet bly

Daar is vier dinge wat vir my uitstaan van dié woord wat Jeremia ná 10 dae van die Here kry:

  1. Let op dat Jeremia moeite doen om die woord van die Here te kry, nie maar net sy eie interpretasie daarvan óf wat Joganan-hulle moontlik sou wou hê nie. Hy was baie bewus van wat Joganan eintlik wil hê moet gebeur, soos hy later aan in die hoofstuk te kenne sal gee.  Maar hy luister totdat hy hoor wat God wil hê moet gebeur.
  2. Let ook op hoe dit verband hou met die roeping wat Jeremia van die begin af ontvang het: “As julle in hierdie land bly, sal Ek julle bou en julle nie platslaan nie, julle vestig en julle nie afbreek nie.” (vgl. Jer. 1:10). Die antwoord van die Here is in lyn met die opdrag wat Hy vir Jeremia reg van die begin af gegee het.
  3. Let veral op hoe dit min of meer dieselfde boodskap is as wat aan die Jode in ballingskap gegee word (Jer. 29). Die plek waar die Jode is, is dus nie die belangrike punt nie, maar hulle gehoorsaamheid aan die opdrag wat die Here op daardie oomblik in die plek waar hulle is, vir hulle gee.  ’n Belangrike perspektief vir enigiemand om in die oorweging van die wil van die Here ingedagte te hou.
  4. Aan die belofte van seën word egter ook ’n belofte van oordeel gevoeg dat as hulle nie in Juda bly nie, maar na Egipte toe aftrek, sal die oorlog waarvoor hulle bang is, hulle daarheen agtervolg en hulle sal daar sterf deur oorlog, hongersnood en pes: “Julle wat van Juda oor is: Moenie na Egipte toe gaan nie!

Jeremia is egter nie onbewus van wat Joganan en sy mense eintlik dink nie.  Daarom verklaar hy in geen onseker taal: “Weet vir seker, ek waarsku julle vandag, julle maak ’n fout!  Julle lewe is op die spel …” Hulle het gevra dat hy die Here namens hulle raadpleeg, maar hy weet ook hulle sal nie doen wat hy vir hulle van die Here af verkondig nie.  Dit beteken dat die woord van oordeel oor hulle voltrek sal word: “op die plek waar julle so graag wil gaan woon.”

Boodskap

  1. Hierdie hoofstuk dra eerstens die boodskap dat die toekoms van die volk Juda en Israel nie lê by die agtergeblewenes in die land nie, want dit raak duidelik dat hulle nie na die Here wil of gaan luister nie, en op pad is na Egipte toe. Hulle het reeds besluit dat hulle toekoms op ’n ander plek lê as wat die Here gewys het.

Dit is soms van ons ook waar – ’n mens kan agterkom uit hoe iemand praat: eintlik is die keuse al gemaak.  Daar is nie meer ruimte om iets anders te hoor nie.  Dan help waarskuwings eintlik nie meer nie, jy mors jou asem, behalwe om die gevolge van die verkeerde keuse uit te spel.

  1. Die toekoms van die volk lê tweedens in ’n nougesette luister na die Here, in hierdie stadium óf in ballingskap in Babel óf in onderdanigheid aan Babel in die land. Dít is wat die Here duidelik aan hulle almal kommunikeer. Joganan kry dit nie reg om dié woord van die Here te aanvaar en te omhels nie.  Met hulle trek na Egipte, verlaat hulle die ruimte waarin die Here hulle wou seën.  En die geskiedenis leer ons dat ná sewentig jaar die Jode teruggekom het na hulle land toe, uit Babel uit, nie uit Egipte uit nie. Die Messias het uit die ballinge gekom.

Dit is altyd hoe die Here werk.  Daar is ’n ruimte waar Hy wil hê dat ons vir Hom moet leef.  En daar is ’n roeping wat Hy vir ons het.  Wanneer ons die plek wat die Here ons gee, en die roeping wat Hy ons gee, omhels en daarvolgens lewe, dan ervaar ons dat ons soos ’n boom is wat by die water geplant is, en gedy.  Dan bevestig Hy ons en bepaal die pad wat ons loop.

  1. Maar, belangrik, Jeremia wys vir ons derdens ook dat hoor en doen saamgaan. As ’n mens die moeite doen om te hoor wat die Here sê, moet jy doen wat Hy sê, anders bewys jy jou as ’n dwaas. Soos die broer van Jesus, Jakobus, veel later sou sê: “Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.”  (Jak. 1:22).

Ek dink ons almal kan dit in ons lewe toepas.  Die Here laat Hom nie onbetuig in ons lewe nie.  Daar is die algemene goed wat Hy vir ons elke dag sê, wat ons elke Sondag hier saam in die kerk hoor:

  • Die Groot Gebed, die Ons Vader, wat ons elke dag van ons lewe kan bid, dat God tot sy reg sal kom, en dat ons sy seën sal ervaar – daar is nie ’n meer volmaakte gebed nie;
  • Die Groot Gebod van die liefde, waarin ons self sorg dat God in ons lewe tot sy reg kom en dat ander mense, ons naaste, op hulle beurt in ons lewe tot hulle regkom – dit is die kortste en tegelykertyd die diepte opsomming van wat God vra;
  • Die Groot Opdrag dat ons gestuur is om God se koninkryk en sy geregtigheid te soek oral waar ons kom – dit is die duidelikste uitspel van ons doel op aarde wat daar in die evangelies is.

En daar is die besondere goed, waar Hy vir ons spesifieke opdragte gee en na spesifieke mense stuur om ’n verskil in hulle lewe te maak.

’n Woord van wysheid en waarskuwing

In die toepassing van dié boodskap van Jeremia op jou eie lewe, moet jy waak daarteen om dit reglynig op jou eie situasie toe te pas.  Wat ook al jou eie situasie is, jy is nie werklik in ballingskap in Babel óf werklik ’n agtergeblewe in Juda nie.  Daarom is jou opsies ook nie vergelykbaar met dié van die Jode s’n nie.

’n Mens kan nie uit hierdie gedeelte direk en onafhanklik van ander faktore aflei óf jy moet bly óf jy moet ry – by wyse van spreke – in jou eie konteks nie.  Net soos jy dit nie uit enige ander gedeelte van Jeremia (of die res van die Bybel) direk kan aflei of jy moet ry of bly nie.  Daar is vele ander geestelike onderskeidingstekens wat jy kan en moet inspan om die wil van die Here agter te kom.  Ek noem vier:

  1. Die vrede wat skeidsregter speel in jou hart (Kol. 3:15; Fil. 4:6-7); soos jy jou voet op ’n spesifieke pad sit, om te ry of te bly, bring God óf vrede dat dit die regte pad is, óf onvrede – soos ek een keer ervaar het met ’n beroep as saakgelastigde na die Wes-Kaap.
  2. Die bewussyn van nood of behoeftes waartoe die Here jou roep (Fil. 1:24-25; Hand. 16:6-10); dit is gedagtes wat jou net nie los nie, behoeftes wat jou hart gevange hou, mense wat jy amper net nie anders kan as om te help nie – ek ervaar dit op die oomblik met my Bybelskool – dit is ’n groot uitdaging om dag in en dag uit daarmee te volhard, maar die Here bring telkens die uitkomste wanneer my program ’n bietjie vasdraai.
  3. Die oortuiging wat die Heilige Gees in jou hart en gewete bring (Rom. 9:1; Gal. 3:5; 1 Joh. 2:20); dit is waarskynlik die ding wat die meeste met myself gebeur, daardie wete dat die Here ’n spesifieke pad vir jou het, en jy kan dit nie ontwyk of verander nie – ek onthou met my proefskrif, hoe ek met tye gevra het dat die Here dié las van my moet afhaal, dat ek genoeg het om te doen met ’n vol gemeente om te bedien, en hoe duidelik die Here se oortuiging my elke keer weer laat volhard het – ek onthou spesifiek een keer dat ek neergekniel het by my bed om te bid, en sommer opgestaan het, want ek het net geweet dit gaan sinloos wees!
  4. Die gesamentlike onderskeiding van medegelowiges (Matt. 18:19-20), om maar net ’n paar te noem, waarvan ’n mens se vrou of man seker van die belangrikste rolle speel, maar ook ’n selgroep of ’n groep geestelike vriende, of ’n mentor of geestelike begeleier. Van die grootste keuses in die uitbreiding van die evangelie in Handelinge het gekom eers nadat die geloofsgemeenskap onderskei het. Immers, waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek in hulle midde – dit is nou die Here Jesus self.

Wat die boodskap van Jeremia 42 dus wel is vir jou, is ’n aanduiding dat jy – soos Jeremia – moet soek na die wil van die Here in jóú situasie.  Die Here sal antwoord:  “Vra, en vir julle sal gegee word.  Soek, en julle sal kry.  Klop, en vir julle sal oopgemaak word.  Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”  (Luk. 11:9-10).

Maar dan moet jy ook vooraf reeds besluit om te doen wat die Here van jou vra.  Dán sal die belofte van die Here aan die volk hier by Jeremia ook vir jou waar wees, dat Hy jou sal bou en vestig in die roeping wat Hy vir jou het (Jer. 42:10).

     

Trackback from your site.

Comments (2)

  • Avatar

    Jan Knoetze

    |

    Hierdie boodskap het my vanoggend weer hoop gegee. Ek het reeds besluit om op te gee met my roeping, nou vra ek weer die vraag; waar wil ons Here my hê? Dankie en God bless.

    Reply

    • Avatar

      webmeester

      |

      Hi Jan. Die Here se Woord bly lewend en kragtig. In my eie herlees van hierdie preek het die Here self weer met my gepraat! Seën.

      Reply

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Marinel Coetzer

    |

    Ek is dringend opsoek na selfsorg verblyf vir my , my ma en my seuntjie vir ongeveer n maand tot 2. Ek is swanger met n tweeling en hul word vroeg gebore so hul gaan in NICU vir n hele ruk wees. Ons kom van patensie en kan nie elke dag in en uit ry nie. As daar enige iemand is wat my kan uithelp asb laat weet my.

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Sonja. Die OT apokriewe (weggelate) boeke is boeke wat uit die Joodse tradisie kom, maar nie met dieselfde gesag as die kanonieke (maatstawwe) boeke in die Bybel deur die Protestantse kerke aanvaar word nie.  Dit word dus nie as maatstaf of riglyn vir die geloof gebruik soos wat wel die geval is met die kanonieke boeke nie.  Hulle word ook deuterokanonieke (tweede maatstawwe) boeke genoem.  Hulle is waardevol, maar nie gesagvol nie.  Jy kan meer daaroor by hierdie skakel by Bybelskool lees. In kort is die NG Kerk se standpunt hieroor in die Nederlandse Geloofsbelydenis as volg: “Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.” (artikel 6)

  • Avatar

    Sonja blignaut

    |

    Naand ds Chris.
    Kan u miskien vir my u opinie gee oor die Aprokriewe boeke? Moet ek dit in dieselfde lig as die ,Bybel bestudeer?
    Baie dankie
    Sonja

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Jan. Die Here se Woord bly lewend en kragtig. In my eie herlees van hierdie preek het die Here self weer met my gepraat! Seën.

  • Avatar

    Jan Knoetze

    |

    Hierdie boodskap het my vanoggend weer hoop gegee. Ek het reeds besluit om op te gee met my roeping, nou vra ek weer die vraag; waar wil ons Here my hê? Dankie en God bless.