God verskyn: Genesis 18

Elkeen van ons het al hierdie wens uitgespreek: “As God maar net self aan my kan verskyn…” as hy maar net sy wil aan my sal bekend maak, dat ek alles kan verstaan!
God is nie ‘n vreemdeling nie
Van die begin van die skepping af verskyn God aan die mens soos wat Hy elke dag aan Adam en Eva in die tuin van Eden verskyn het. Hy was en is nie ‘n geheimsinnige vreemdeling vir mense nie. Inteendeel, Hy is ons hemelse Vader.
Abraham het God leer ken as die Een wat aan hom verskyn. Lees Gen 12:1 en 7; Gen 15:1; Gen 17:1; Gen 18:1, 10, 13, 20, 22-23.
God wil homself aan ons openbaar en ‘n lewende verhouding met ons hê. Hy wil nie onbereikbaar en ver wees nie. Hy wil by ons wees en in ons wees, daarom het hy Homself kom openbaar deur die menslike vlees aan te neem in die geboorte van Jesus Christus om ons te leer dat God ‘n liefdevolle Vader is. Verder het God homself openbaar deur die uitstorting van die Heilige Gees om vir ewig by ons en in ons te wees.
Ons gaan die dialoog van Genesis 18 volg om te sien wat God se verskyning aan Abraham behels en wat dit vir ons beteken, veral omdat dit vandag Vadersdag is.
God is nie ‘n vreemdeling vir Abraham nie
Abraham ontvang die drie besoekers met eerbied as spesiale gaste. Hy weet hierdie is nie gewone besoekers nie. Hy weet wanneer dit die Here is wat aan hom verskyn. Abraham se verhouding met God is gegrond op persoonlike ontmoetings; dit is vir hom die norm. Sedert die eerste keer wat God aan hom verskyn het, is sy lewe ingestel op persoonlike ontmoetings met die Here.
Dit is soos God Abraham voorberei vir sy rol as vader van Isak, maar ook vader van Israel, om uiteindelik ‘n seën vir al die nasies van die aarde te wees.
Aan al die vaders vandag: Is God vir jou ‘n vreemdeling of is jou lewe gebaseer op die persoonlike ontmoetings wat jy en God het?
God openbaar sy wil – “Toe sê die een” [vers 10]
In God se verskyning aan Abraham kom vertel Hy hom hoe Hy sy verbondsbelofte gaan vervul. Die ding waaroor Abraham en Sara nie duidelikheid gehad het nie en eers hulle eie planne gemaak het deur vir Hagar as ‘n plaasvervanger te gebruik, omdat Sara al te oud was om kinders te baar.
Met hierdie verskyning van God gee Hy aan hulle duidelikheid oor sy wil in hulle lewe. In hierdie geval gaan Hy deur ‘n bonatuurlike ingryping aan hulle ‘n seuntjie gee en nie deur die gewone werking van sy wil wat vir hulle verstaanbaar en logies verklaarbaar is nie.
Dit is die rede hoekom ons almal, en vaders in die besonder, ingestel moet wees om God se verskynings in ons lewe raak te sien en op grond daarvan te lewe. Soos in die geval met Abraham en Sara, is en wil God nie geheimsinning wees oor sy wil vir ons lewe nie. Die vraag is eerder of ons in geheimsinnigheid teenoor God lewe!
Sara lag by haarself – “Toe vra die Here vir Abraham” [vers13]
In die Here se verskyning aan Abraham en Sara, verbreek Hy alle geheimsinnigheid wanneer die Woord sê dat die Here self een van die drie besoekers was. Uit Genesis 19:1 leer ons dat die ander twee besoekers twee engele was. Dit natuurlik om alle twyfel uit die weg te ruim oor die belofte dat Sara oor ‘n jaar ‘n seun sal hê.
Deur hierdie openbaring van God leer Sara ook dat dit God self is wat met hulle praat. Ook om alle vorme van twyfel of geheimsinnigheid uit die weg te ruim.
God sluit Abraham in by sy wil – “Toe dink die Here” [vers 17]
In vers 17-18 bevestig die Here dat Abraham geroep is om ‘n seën vir die nasies te wees en daarom sluit Hy hom in by sy voorneme om Sodom en Gomorra te verdelg. God gee aan Abraham die outoritiet om sy roeping uit te leef en sy rol te speel in die koninkryk, sodat hy sy opdrag, volgens sy roeping te kan uitvoer, deur sy kinders en nageslag op die regte pad te lei en hulle te leer wat goed en reg is, en sodat God sy belofte aan Abraham kan uitvoer [vers 19].
Op dieselfde wyse sluit God jou en my in by sy wil en stel ons in staat om ons roeping en taak na te kom, of dit nou is om vader te wees oor ons kinders of watter ander deel van ons roeping ook al.
Ons het natuurlik die keuse om deel te neem hieraan of nie…
Abraham in gesprek met God – “Toe sê die Here” [vers 20] “Abraham het gevra” [vers 22]
Abraham tree in vir die regverdiges van Sodom en Gomorra en onderhandel met God oor die lot van die reverdiges, op grond van die gesag wat hy van God ontvang het deur sy roeping. Hierin sien ons dat God se verskynings aan Abraham hom in ‘n posisie geplaas het waar hy as beelddraer van God sy roeping kan vervul en aandeel kan neem om te heers oor die skepping van God.
Abraham het waarde voor God en Hy reken Abraham as ‘n medewerker in sy koninkryk. So het elkeen van ons, vaders ingesluit, ‘n verantwoordelikheid en ‘n voorreg om ons roeping en opdrag uit te leef en stel God ons aan op dieselfde vlak as Christus. In Rom 8:29 sê die Woord “die wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die eerste is”.
So word ons nie net slawe of volgelinge nie, maar as ewebeeld van Christus sit ons God se werk op aarde voort. Vervul jy jou roeping en opdrag?
God verskyn elke dag aan jou deur sy Gees, soos Hy aan Abraham verskyn het
Sedert Pinkster verskyn God ook aan my en jou elke dag.
Glo dit en wees gereed om Hom raak te sien in elke situasie waarin Hy Homself aan jou openbaar.
AMEN

     

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Marinel Coetzer

    |

    Ek is dringend opsoek na selfsorg verblyf vir my , my ma en my seuntjie vir ongeveer n maand tot 2. Ek is swanger met n tweeling en hul word vroeg gebore so hul gaan in NICU vir n hele ruk wees. Ons kom van patensie en kan nie elke dag in en uit ry nie. As daar enige iemand is wat my kan uithelp asb laat weet my.

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Sonja. Die OT apokriewe (weggelate) boeke is boeke wat uit die Joodse tradisie kom, maar nie met dieselfde gesag as die kanonieke (maatstawwe) boeke in die Bybel deur die Protestantse kerke aanvaar word nie.  Dit word dus nie as maatstaf of riglyn vir die geloof gebruik soos wat wel die geval is met die kanonieke boeke nie.  Hulle word ook deuterokanonieke (tweede maatstawwe) boeke genoem.  Hulle is waardevol, maar nie gesagvol nie.  Jy kan meer daaroor by hierdie skakel by Bybelskool lees. In kort is die NG Kerk se standpunt hieroor in die Nederlandse Geloofsbelydenis as volg: “Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.” (artikel 6)

  • Avatar

    Sonja blignaut

    |

    Naand ds Chris.
    Kan u miskien vir my u opinie gee oor die Aprokriewe boeke? Moet ek dit in dieselfde lig as die ,Bybel bestudeer?
    Baie dankie
    Sonja

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Jan. Die Here se Woord bly lewend en kragtig. In my eie herlees van hierdie preek het die Here self weer met my gepraat! Seën.

  • Avatar

    Jan Knoetze

    |

    Hierdie boodskap het my vanoggend weer hoop gegee. Ek het reeds besluit om op te gee met my roeping, nou vra ek weer die vraag; waar wil ons Here my hê? Dankie en God bless.